Hartskos

Seisoenskos

Deur Christine Ferreira | Foto’s Weg! Platteland

In Seisoenskos Resepte vir die hele jaar, saamgestel deur Weg! Platteland se kosredakteur, Aletta Lintveldt, word jy genooi om heeljaar volgens die seisoen tee eet.

Die voordele van hierdie nuwe kosneigings is legio: nie net gaan jou beursie dikker wees nie, maar dit trap ook ligter op Moeder Aarde. Boonop is al die bestanddele wat wat jy vir hierdie resepte benodig, geredelik beskikbaar.

Alle goeie kos begin by vars bestanddele, en Seisoenskos wys jou hoe om van lente, somer, herfs en, ja, ook winter, ‘n okkasie te maak.

Verlekker jou in die lekkertes van elke seisoen: waatlemoen, perskes en druiwe in die somer; appels, grenadella en vye in die herfs; lemoene, nartjies en suurlemoene in die winter en avokado’s, kapertjies en spruite in die lente. In hierdie gawe resepteboek maak elke seisoen voorsiening vir voorgeregte, brood en happies, hoofgeregte en nageregte en gebak. Daar is ook nuttige wenke soos hoe om jou eie groen knoffel te groei en wat pienk sout is asook breedvoerige verduidelikings wat al die resepte maklik maak. Leef stadiger en eet lekkerder!

Maklike roos-en-granaattert (Herfs)

Hierdie tert is ongelooflik maklik – jy moet net geduldig wees sodat die jogurt kan dreineer. Pas die hoeveelheid versiersuiker aan volgens jou smaak.

Genoeg vir 6

Bereidingstyd 15 minute • Gaarmaaktyd 20 minute

Jy benodig

1 groot houer (500 g) dik Griekse jogurt
1 rol (400 g) gekoopte blaardeeg
1 teelepel (5 ml) suiker
1 koppie (250 ml) room
1 teelepel (5 ml) rooswater
3 eetlepels (45 ml) versiersuiker
1 koppie (250 ml) granaatpitte

Só maak jy

Drapeer ’n stuk kaasdoek oor ’n groot beker of in ’n sif bo ’n diep bak en skep die jogurt daarin. Laat dit oornag buite die yskas staan sodat die water uit die jogurt kan dreineer.

Verhit die volgende dag die oond tot 200 ºC. Rol die blaardeeg oop en sny ’n sirkel van 24 cm in deursnee daaruit. Steek die sirkel vol gaatjies, strooi die suiker bo-oor en bak dit vir 15-20 minute tot die deeg oudbruin en gaar is. Sit dit eenkant om af te koel.

Klits die room tot dit stywe punte vorm en klits dan die rooswater, versiersuiker en 1 koppie van die jogurt wat in die doek agtergebly het daarby. Proe en voeg nog van die jogurt of suiker en rooswater na smaak by.

Sit die tert aan mekaar net voordat jy dit voorsit. Skep die roommengsel op die gebakte deegsirkel en versier dit met die granaatpitte.

Aarbei-en- rooswaterteekoek (Somer)

Hierdie ligte glutenvrye koek is ’n veel delikater weergawe van die tradisionele Spaanse amandelkoek en bevat geen botter nie. Sit dit warm uit die oond of teen kamertemperatuur voor saam met dik plaasroom of jogurt, hoewel dit ewe lekker is as jy dit koud eet.

Genoeg vir 8

Bereidingstyd 30 minute • Maaktyd 1 uur

Jy benodig

Vir die koek

5 groot plaaseiers, geskei
200 g strooisuiker
250 g fyn amandels
200 g aarbeie

Vir die stroop

½ koppie (125 ml) water
¼ koppie (62,5 ml) heuning sap en skil van ½ suurlemoen
2 eetlepels (30 ml) rooswater

Só maak jy

Voer ’n klein broodpannetjie (23 x 13 cm) met bakpapier uit en voorverhit die oond tot 180 ºC. Klits die eiergeel en suiker met ’n elektriese klitser tot liggeel en romerig. Voeg die amandels daarby en meng dit goed. Klits die eierwitte  in ’n aparte skoon bak tot styf en blink. Sny die aarbeie met ’n skerp mes in klein blokkies en roer dit dan liggies  deur die eiergeelmengsel.

Vou nou die eierwitte baie liggies daardeur – ’n derde op ’n slag. Gooi die mengsel in die pan en maak die bokant gelyk. Onthou, dié soort koek rys nie. Bak dit vir 25-30 minute tot goudbruin. Terwyl die koek in die oond is, kan jy al die bestanddele vir die stroop saam verhit tot kookpunt. Sodra die koek uit die oond kom, keer dit uit op ’n koekbord en gooi die warm stroop egalig daaroor.

Proe en voeg nog van die jogurt of suiker en rooswater na smaak by.

Outydse vyekoek (Herfs)

Dié digte, geurige koek sal ’n hele paar dae klam bly – jy kan dus gereeld ’n skyf afsny…

Genoeg vir 8

Bereidingstyd 30 minute • Baktyd 45-60 minute

Jy benodig

Vir die koek

350 g vyekonfyt
70 g droëvye, fyngekap
5 ingemaakte groenvye, fyngekap
215 ml olyfolie
3 groot plaaseiers
gerasperde skil
van 1 suurlemoenskil
1 eetlepel (15 ml) vanielje-ekstrak
220 g koekmeel
2 teelepels (10 ml) koeksoda
1 teelepel (5 ml) bakpoeier
1 teelepel (5 ml) elk fyn gemmer, neutmuskaat en kardemom
2 teelepels (10 ml) fyn kaneel
100 g rou pekanneute
80 g droë klapper
400 g wortels, fyngerasper

Vir die bolaag

3 vars vye, verpulp
150 g roomkaas
50 g botter
260 g versiersuiker
vars vye vir versiering

Só maak jy

Verhit die oond tot 175 ºC (160 ºC in ’n waaieroond) en voer die boom van ’n losboomkoekpan met bakpapier uit. Spuit die hele pan goed met kleefwerende kossproei.

Meng die konfyt, droë- en groenvystukkies met die olie, eiers, suurlemoenskil en vanielje-ekstrak. Meng die meel, koeksoda, bakpoeier en speserye in ’n aparte bak, gooi die nat mengsel daarby en meng dit baie goed.

Voeg die neute, klapper en wortel by en vou dit in.  Skraap dit in die voorbereide koekpan uit, maak die bokant gelyk en bak dit vir 45-60 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek effens afkoel voor jy dit uitkeer en heeltemal laat afkoel. Versier die koek en laat dit vir minstens drie uur staan voor jy dit sny.

Maak die bolaag: Meng al die bestanddele tot glad en smeer dit op die koek. Versier dit met gesnyde vars vye net voordat jy dit voorsit.

Jenewer-en- spanspeksorbet (Somer)

Hierdie sorbet is verfrissend en anders. Sit klein porsies daarvan voor as ’n tongverfrisser tussen gange óf as nagereg.

Maak 1 liter

Bereidingstyd 15 minute plus vriestyd

Jy benodig

1 baie ryp spanspek, geskil en pitte verwyder
1/3 koppie (80 ml) jenewer
sap van 1 lemmetjie
’n knippie sout romerige Deense fetakaas om voor te sit

Só maak jy

Kap die spanspek in blokkies en verpulp dit in ’n voedselverwerker saam met die jenewer, lemmetjiesap en sout. Krap dit uit in ’n bak en vries dit tot hard (of gebruik ’n roomysmasjien).

Sit klein bolletjies sorbet voor met ’n skyfie kaas van jou keuse – ‘n romerige Deense fetakaas werk die beste.

Resepte en uittreksels met toestemming gepubliseer uit Weg! Platteland Seisoenskos, uitgegee deur Human & Rousseau 2018. Saamgestel deur Aletta Lintveldt.

2019-01-29T21:33:25+00:00