Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Op ’n snikhete Saterdagoggend gaan stap my kinders in die berg naby ons huis. Ek maan hulle om genoeg water saam te neem, want dis droog en warm. Hulle kom met stralende gesigte terug. Hoog in die berg – waar min mense ooit kom –het hulle op ’n diep kloof afgekom. Tussen die ruie plante en skerp rotse het ’n waterval gebruis. En daaronder was blink waterpoele. Weggesteek en onsigbaar vir die haastige stapper of fotograaf.

Party kinders in ons sorg is soos weggesteekte watervalle. Hulle gaan ongesiens hul gang –dikwels uit die oog, stil-stil, sonder om aandag te probeer trek. Daarom word hul misgekyk. Sonder hulle is die lewe egter armer. Wanneer ’n mens egter die moeite doen om so ’n kind werklik te leer ken en sy vertroue te wen, word jy verras deur ’n bruisende waterval vol energie en moontlikhede.

In ’n samelewing wat ekstroverte so hoog aanslaan, is dit nie vreemd dat die introverte dikwels – in ’n poging om raakgesien te word – voorgee hul is ekstroverte nie. Want dít is elke kind se diepste behoefte: Om erken en aanvaar te word.

In skole waar groepsopdragte deel van die leerplan is, gebeur dit maklik dat die kind met selfvertroue die groep oorheers en sy idees op die ander afdwing, terwyl die stiller kind dalk veel beter gedagtes het, maar nie die kans kry om dit te verwoord nie.

Kinders word aangemoedig om uit hulle doppe te kruip, terwyl party se ‘doppe’ dikwels hul enigste beskerming teen die wêreld daarbuite is. Wanneer iemand met insig so ’n kind raaksien en lei om homself te aanvaar vir wie hy is, kruip die skugter introvert vanself uit sy dop – nie omdat hy geleer het om ’n ekstrovert te wees nie, maar omdat hy geleer het om homself te aanvaar.

’n Drama-onderwyseres vertel dat sy onlangs ’n teruggetrokke seuntjie  die hoofrol in haar jaarlikse konsert gegee het. Dié seuntjie met sy krom skouertjies en onseker stappie was dikwels die teiken van spot op die speelterrein. Op die verhoog het hy ontpop as die onverskrokke prins. Skielik het die kinders met ander oë na hom begin kyk. Hulle het hom gesien vir wie hy regtig is: steeds ’n introvert-dromer, maar ’n mens in eie reg.

“Die geheim van die lewe is om in die regte lig te staan,” skryf Susan Cain, die Amerikaanse skrywer van QUIET: The Power Of Introverts in a World That Canʼt Stop Talking. “Vir party is dit Broadway se kollig. Vir ander is dit die gedempte lig van hul werktafel.”

In elke skaam kind skuil daar ’n helder, bruisende waterval met blink poele wat wag om ontdek te word. Ons as ma’s en opvoeders mag nie met oogklappe verby dié wegkruipkinders met hul unieke onontginde kwaliteite stap nie.

Op die koop toe verarm ons onsself, indien ons húlle menswees misken.

Here, dankie vir al die kinders in ons sorg. Ek bid dat U in besonder met die kleingoed sal wees wat stil-stil hul gang gaan, maar net so ’n groot behoefte aan erkenning en aandag het. Help ons om hulle veilig te laat voel, sodat hulle sal ontluik en oopblom tot die mense wat U bedoel het hulle moet wees. Amen

2019-01-29T21:14:56+00:00