Kuier by

Hasies & harte

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hannerie de Wet

Vir Koos en Natasha Schoeman, die eienaars van die dekor-en-koffiewinkel en klereboetiek Hoppy Hearts & Hartz-verloren in Krugersdorp, is dit haas onmoontlik om stil te sit.

Hulle is oral. Bonsend in profiel geskilder teen die buitemuur, in skattige “gesinnetjies” geskaar op die vloer, in vergulde portretrame, in netjiese rye op rakke, afgebeeld op strooikussings, sommige met engelvlerkies! Die hase het oorgeneem en hulle teel steeds aan. Altans, dis die indruk wanneer jy Hoppy Hearts, ’n sprokiesmooi winkel in die boomryke Viljoenstraat in Krugersdorp betree. Hulle het name: Anna-Gret, Lord Hoppington, Ich Liebe Dich, Bella Amé (lieflike siel), Claralie. En hulle is ontwerp om jou hart te steel en jou leefruimte te verfraai.

“Hase het my gekies,” lag Natasha Schoeman (31), ’n nooi Jacobs en gebore Rustenburger wat die onderneming twee jaar gelede saam met haar man, Koos (40), begin het. “Ons was op reis in China en ek het ’n prent van ’n haas wat spring op ’n T-hemp gesien. Die naam, Hoppy Hearts, het my te binne geskiet en ek het gedink, eendag wil ek ’n winkel met dié naam begin.

Koos, ’n voormalige rekenmeester by Alexander Forbes, verwys na dié winkel in Franse styl as “ ’n aftreedroom wat vinnig gekom het”. Saam is hulle ’n gedugte span wat hul bruilofbeplannigsmaatskappy, Event Inspirations, en langtafelfunksies al sewe jaar lank bedryf. “Dis ’n saak van liefde – vir my vrou,” knipoog Koos. “Dis ’n wonderlike voorreg om alles saam met hom aan te pak. Hy staan my in al my hartsreise by,” beaam Natasha. “Die Here het my geseën met ’n man wat my verstaan.” Hulle staan boonop bont met hul eie drie huppelende spruite, Joshline (10), Jóvan (8) en Jo-andrich (4).

“Die winkel was my genesing,” sê Natasha. “Ons het dit begin in ’n moeilike tyd.”

Volg jou droom

Die meeste van die opknapwerk is in ’n maand gedoen en almal, selfs die rangskikkers, het ingespring om te help voor die opening op 26 Januarie 2016. “Dit is ’n reuse-spanpoging. Ons werkers werk in die fabriek én die winkel. Ons het geverf, dekor en blomme geskep, hase en prentrame gemaak.” In Mei 2017 het hulle die eiendom gekoop en ’n skoonheidshuis en klereboetiek, Hartz-verloren, langsaan begin. “Maar dekor was die hoofrede en passie . . .”

Natasha ontwerp en teken die hase op haar tablet, vind visuele verwysings op die internet en skep daaruit haar eie reeks sjarmante karakters. “Ons het die produksie vanuit ons motorhuis aangepak, waar ons die gietproses stap vir stap baasgeraak het. My benadering was gewoon: koop ’n blik rubber, leer jouself en dink slim! Ek het ge-google en Youtube-video’s gekyk. Daar was baie probeerslae. Soms het ek lekker gehuil en die rubber het orals geloop,” lag Natasha. Die hase word in vorms gegiet met ’n mengsel van hars en ’n marmerstof wat nie maklik breek nie. Hulle skep en vervaardig sewentig persent van die winkel se produkte self.

“Ons het ons bemarking op Facebook gedoen en die dag toe ons open, is ons verras met ’n groot opkoms. Ons kliënte het ons reis van die begin af gevolg en ondersteun. Die winkel was nog redelik leeg en daar was min produkte – ons het selfs goed van ons huis af gebring!”

Die kleurskema van grys, room, beige, donkerbruin, swart en neutrale, aardse kleure laat besoekers dadelik tuis voel. “Ek is baie lief vir grys,” erken Natasha. “Dit skep ’n kalm gevoel, niks oorweldigend nie. Voorheen was die plek ’n naelsorgsentrum en woonplek geverf in giggelgroen en skeloranje, met honde se krapmerke teen die deure. Ons het dit eers gehuur. Die dag nadat ons ingetrek het, het ek begin om teëls en mure uit te kap – ons het toestemming gekry om te verander. Dit was bloed, sweet en harde werk. My oorlede pa het my geleer om self die mas op te kom.”

“Mense is te bang om in te spring en hul droom te volg,” glo Natasha. “Ons hoop ander mense sien ons winkel as ’n inspirasie en besef hulle kan dit ook doen. Ek is bevoorreg om mooimaak my werk te kan noem.” Koos skerts pragmaties: “Ons is te dom om op te gee! Ons is nou so ver, ons moet dit eenvoudig uitpluis en oplossings vir probleme vind. Mense gee te gou op. Die Here is baie genadig om ons soveel uithouvermoë te gee.”

Die geheim is koffie…

Hoppy Hearts, volgens Koos vir ’n “vintage soul”,met ’n uitbundige verskeidenheid dekor, versierings vir huis en tuin, handgemaakte geskenke, oudhede en opgeknapte meubels, strooikussings, antieke implemente soos tikmasjiene, weegskale en telefone, het in Januarie 2016 begin as ’n winkel met linte, geskenke en geskenkpapier.

“Ons koop baie van ons oudhede op veilings en boedeluitverkopings, waar wonderlike en unieke items te vinde is, ougoed wat die kinders nie meer waardeer nie en waarvan hulle ontslae wil raak. Dan restoureer ons die ou meubels wat al ’n lewe gehad het, maak dit mooi, verf dit en en gee dit ’n nuwe lewe,” verklap Natasha. (Alle produkte is beskikbaar by die aanlyn winkel.)

“Ons het aanhou ontwikkel in ’n klimaat van onsekerheid,” vertel Koos. “Die ekonomie het gesê: Gaan kleiner. Maar die Gees het gesê: Gaan groter! Ander winkels koop ook by ons en dit help om produksieuitgawes te verhaal,” beduie Koos. In die toekoms wil hulle produkte uitvoer, nog ’n winkel oopmaak en ‘n Hoppy Hearts-konsessie begin.

“Die geheim is koffie . . . as jy kuier en iets drink, koop jy iets. Aanvanklik het ons nie beplan om koffie te bedien nie. Maar as die kliënt dit wil hê – die tannies het heeltyd koffie gevra – dan moet jy aanpas en uitbrei.” Die eetplek bedien koffie, cappuccino, ligte etes, Franse slaaibroodjies, quiches, kaaskoeke en kaasborde vir een of twee (koue vleis, biltong, vrugte, kaas).

“Ons voed meer as ons eie kinders met die onderneming, ons voed ook ander se kinders. Ons is geseën met talente en dit sou verkeerd wees om nie ook ander te seën nie.”

2019-01-29T19:54:31+00:00