“Hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.” Hebreërs11:13

Die lewe is ’n reis, ’n lang kronkelpad oor die dekades heen. Oor baie winters en seisoene word ons siel gevorm. Jare se ervarings skep wysheid en diepte. Ons leer, ons  kyk af, ons korrigeer, ons groei. Ons kan egter slegs leer as ons die ervarings opdoen wat die reis ons bied! Ons móét die foute maak, die afdraai-paaie kies, die stampe en stote opdoen om ons lesse te leer. Hoe anders? Ja, so lank ons leef, bly ons reisigers, pelgrims op pad na die ewigheid. So lank ons leef is die reis al wat ons het.

Die gevolgtrekking is dit: Ons is nóg nie daar nie. Ons groei nog, ons verander nog. Ons wording kan nie aangejaag word nie. God neem sy tyd! Ons hele lewe is die kursus, die kurrikulum wat Hy ons opgelê het om ons lewensdoel te bereik. Terwyl ons nog op die pad is, moet ons dus geduldig wees met onsself. Vergewe jouself maar vir jou vele foute, want die Here het dit reeds gedoen. Verstaan dat jy uit genade leef, en laat dit jou vrymaak. Laat dit jou die reis geniet! Probeer nie net leef nie, maar leer. Vra jouself in watter rigting die lewe jou stuur, hoe die gebeure jou groei beïnvloed. Vra die Here na Sy doel met dinge. Fokus veral op vandag, want God neem self verantwoordelikheid vir die eendag.

Nog iets: jou medereisigers is ook nog op die pad. In daardie sin is geen fout of oortreding finaal nie. Wees begrypend, vergewensgesind – ook hulle het genade nodig.

Gebed

Dankie Here, dat U u tyd met my neem!

“Ons is onseker oor die volgende tree, maar ons is seker oor God.”  Oswald Chambers

Besoek ww.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

Foto | Pexels

2019-01-30T09:46:19+00:00