Boekgesprek

Lééf gesels met Dave Strehler oor sy jongste kinderboeke, My eie klein belofte-Bybel en My eie klein gebede-boek.

Dave Strehler is al vir langer as 25 jaar betrokke by kinderbediening en is tans betrokke by die Eastside Community Church in Pretoria. Hy is passievol daaroor om kinders en jongmense te help om die Bybel te verstaan en hulle te leer om dit te geniet om Bybel te lees. Hy bedryf ’n gewilde webwerf vir kinderbediening (www.truthforkids.com) en skryf kurrikulummateriaal vir kinders.

In My eie klein belofte-Bybel enMy eie klein gebede-boek leer Dave Strehler kinders tussen 6 en 10 jaar alles wat hulle moet weet oor God se wonderlike beloftes aan hulle en oor gebed. Hierdie boeke, met hul pragtige waterverf-illustrasies en beloftes en voorbeelde uit die Skrif, sal ouers en kinders se harte aangryp. Kinders sal in My eie klein belofte-Bybel God se wonderlike beloftes van beskerming, seën, sorg, leiding en liefde vir hulle ontdek en leer verstaan. Hulle sal ook meer lees oor sommige van die bekendste beloftes oor Jesus wat waar geword het en sien dat God altyd Sy woord hou. Die boek is ook in Engels beskikbaar as My Own Little Promise Bible.

Die verskillende afdelings in My eie klein gebede-boek kyk na verskillende tipe gebede en hoe om te bid. Kinders leer hoe om God te loof en aanbid, te vra wat hulle nodig het, dankie te sê vir wat Hy vir hulle gedoen het en om deur die loop van die dag oor alles en nog wat met Hom te praat – alles deur gebed.

Elke afdeling sluit ’n kort gebed om te bid, ’n sleutel-teksvers en ’n toepassing om te bekragtig wat die kind geleer het, in. Die boek is ook in Engels beskikbaar as My Own Little Prayer Book.

Vraag: Dave, jy staan in die bediening, maar jou skryfwerk is ’n belangrike deel van jou werk, nie waar nie?

Antwoord: Ja, dis waar. Maar ek is beslis nie ’n gebore skrywer nie. Ek is lief vir skryf omdat dit wat ek skryf ewige waarde inhou en omdat die kinders waarvoor ek skryf my baie na aan die hart lê. Om te begin skryf was nie my keuse nie, maar ’n roeping van God. Hy het my beslis ’n hupstoot gegee om te begin skryf en ek het gesien daar is ’n groot behoefte om die Bybel op ’n meer verstaanbare manier aan kinders bekend te stel sonder om dit te veel af te water. My boeke en my skryfwerk het my die geleentheid gegee om meer kinders te bereik as wat ek ooit van kon droom. Vandag word my boeke plaaslik en oorsee uitgegee.

Vraag: Jy geniet dit om vir kinders te skryf en hierdie twee boeke is vir kinders tussen 6 en 10 jaar. Hoekom is kinderbediening belangrik?

Antwoord: Kinders in hierdie ouderdomsgroep kan reeds die meeste geestelike konsepte verstaan en is gretig om te leer. Dit is vir hulle maklik om in God te glo. Hulle is nog onskuldig in hulle denke en vertrou graag. Dis hoekom Jesus sê dat ons sy Koninkryk soos ’n kindjie moet ontvang. Wie dit nie doen nie, sal nooit ingaan nie. Die Bybel sê ook dat ouers hulle kinders van God moet leer – die waarhede wat in Sy Woord is. Maar selfs ouers het hulp nodig om hulle kinders in hulle geloof te lei en te help groei. Dit is waar kinderbediening ’n belangrike rol speel.

Vraag: Jy is al vir meer as 25 jaar betrokke by kinderbediening. Vertel vir ons bietjie meer van jou werk met kinders en wat dit vir jou as mens beteken?

Antwoord: Baie jare gelede het God vir my die roeping en passie gegee om kinders te help om die Bybel beter te verstaan. Op hulle vlak met die kreatiwiteit en wysheid wat Hy vir my mildelik uitdeel. Hoewel daar baie storieboekies oor die Bybel en met Bybelse beginsels beskikbaar is, het Hy my geroep om laerskolers meer te leer van die fundamentele Waarhede in die Bybel en waarop jy jou persoonlike geloof moet bou. Ek konsentreer dus meer daarop om hulle te help met hulle persoonlike verhouding met God, eerder as om net te fokus op morele waardes (om die regte dinge te doen). Ek geniet dit werklik baie om jong kinders te help, vir hulle boeke te skryf en om hulle te leer oor God. Dit is ongelooflik vervullend en verskaf vir my groot vreugde om te sien hoe kinders geestelik groei.

Vraag: Wat behels die beloftes wat jy met kleingoed wil deel in My eie klein belofte-Bybel?

Antwoord: Die boek behandel drie tipes beloftes: Algemene beloftes (beloftes wat vir almal van ons bedoel is), spesiale beloftes (beloftes wat aan spesifieke mense gemaak word) en sogenaamde “as” beloftes, oftewel beloftes met ’n voorwaarde. Die boek gee dan voorbeelde uit die Bybel van elke tipe belofte. Daar is ook voorbeelde van beloftes wat vir ons meer wys oor God self, beloftes wat in die Bybel waar geword het, en beloftes wat God reeds vir ons gegee het.

Vraag: Wat is die lesse wat jy vir kinders deur hierdie boek wil leer?

Antwoord: Een van die belangrikste dinge is dat kinders moet weet hoekom God vir ons sekere beloftes in Sy Woord gee. In die eerste plek wil God ons leer om op Hom te vertrou – om te glo dat Hy Sy beloftes nakom en om die uitwerking van Sy beloftes in ons lewens te kan ervaar. Tweedens wil God hê ons moet weet wat Sy plan is. Hy gebruik gereeld beloftes om Sy plan aan ons te openbaar. En derdens het God vir ons beloftes gegee om te wys hoe lief Hy is vir ons is en om ons die versekering te gee dat Hy ons altyd sal beskerm en vir ons sal sorg.

Vraag: Dan is daar My eie klein gebede-boek. Hoekom dink jy is dit belangrik om kinders van baie jonk af te leer hoe om te bid?

Antwoord: Wanneer klein kindertjies leer om te praat, begin hulle sommer reeds vroeg om hulle behoeftes aan ons te kommunikeer. Hulle vrese, hulle frustrasies en hulle vreugdes. Hierdie tipe kommunikasie vorm die basis van hulle verhoudings met en vertroue in mense. Dit is presies wat gebeur wanneer kinders met hulle hemelse Vader begin kommunikeer. Hulle bou aan ’n vertrouensverhouding met Hom. Al kan kinders God nie sien nie, reik hulle natuurlik na Hom toe uit, omdat Hy die tyd het om na hulle te luister, vir hulle omgee en hulle help.

Vraag: Daar is spesifieke temas oor gebed wat in die boekie ondersoek word. Vertel ons asseblief meer hieroor.

Antwoord: Ek behandel ’n paar hooftemas rondom gebed. Daar word gekyk na lofprysingsgebede (ons dien God vir wie Hy is en prys Hom vir wat Hy doen), vra-gebede (om ons eie behoeftes met God te bespreek, maar ook om vir ander te bid), dankgebede wat kinders leer om die klein dingetjies in die lewe raak te sien en om dankbaar te wees vir al die goeie dinge wat God vir ons gee en doen en dan geselsgebede wat kinders aanmoedig om eerlik met God te wees oor hulle gevoelens en hulle persoonlike probleme. Jy kan met God praat soos jy met ’n vriend praat wat langs jou sit. Die boekie leer kinders ook meer oor dringende gebede en gebede uit die hart.

Vraag: Die boekie sluit dan ook voorbeelde van kort gebede in wat kinders kan bid, nie waar nie?

Antwoord: Ja, dit doen. Elke aspek van gebed wat in die boekie behandel word, word met ’n voorbeeld-gebed gerugsteun. Net soos wat Jesus Sy dissipels kort gebede geleer het, kan ons kinders leer om met God te praat deur verskillende tipes gebede te hoor. Hierdie voorbeelde in die boek wys vir kinders hoe kort en eenvoudig gebed kan wees en ook hoe gebede van mekaar kan verskil.

Vraag: Hoe voel jy oor jou boeke?

Antwoord: Wanneer ek aan een van my boeke dink, verbeel ek my hoe iemand dit vir ’n kind voorlees. Die blote gedagte dat ’n ouer, grootouer of onderwyser deur een van my boeke kan beleef hoe die kind ’n nuwe Waarheid ontdek maak my ongelooflik opgewonde. Kinderboeke oor die Bybel is soos pakhuise vol gesonde saad wat bedoel is vir die vrugbaarste grond. Die vrugbare grond van kinderharte. Dit maak my baie gelukkig.

Vraag: Waaraan werk jy op die oomblik?

Antwoord: Ek is tans besig om te werk aan ’n nuwe boek. Ek vertrou dat God my hopelik sal lei om nog baie boeke te skryf. Om ’n nuwe boek te konseptualiseer, skryf en uiteindelik uit te gee is ’n baie lang proses wat soms tot twee jaar kan neem. Daar is dus altyd een of twee boeke wat in verskillende fases van die proses is, en wat wag om eendag op iemand se rak op te eindig.

Dié boeke vir kinders word deur CUM Christelike Uitgewersmaatskappy uitgegee. Bestel joune by www.cum.co.za

2019-02-01T06:47:29+00:00