Lééf wys

Wees vakansie-slim

Saamgestel deur Christine Ferreira | Foto Pexels

Maak die meeste van die feestyd deur jou geldsake deeglik te beplan en seker te maak Ma kry ook kans om tydens die vakansie te rus.

Die Desembervakansie is so te sê hier en almal beraam planne vir wegbreke, bymekaarkomgeleenthede, die uitdeel van geskenke en genotvolle aktiwiteite. Maar hierdie planne kan nie sonder ’n begroting aangepak word nie. Indien ’n begroting ontbreek, gaan jy of jou vakansie nie geniet nie, of dit sal tot ’n groot mate veroorsaak dat Januarie ’n maand van finansiële ellende gaan wees.

Wikus Olivier, skuldbestuurkundige van DebtSafe, gee ’n paar nuttige wenke:

  • Sorg vir ’n sigbare begroting

Stel vir jou ’n Desember-begroting op, druk dit uit en plak dit op ’n sigbare plek soos die yskasdeur. Jou lysie moet alle kostes van die vakansie akkuraat aandui, soos byvoorbeeld: akkommodasie, geskenke, reiskostes, etes en kruideniersware. Dui die begrote bedrag aan vir elke item met ’n groottotaal aan die onderkant van jou lysie, sodat jy presies weet wat jou ‘spandeerplafonvir Desember is. Dit sal sorg dat jy en jou gesin nie julle Desember-begroting onnodig oorskry nie. Indien jou begroting nie ‘Desember-dig’ is nie, kan jy gerus met ’n skuldbestuurdeskundige kontak maak wat ’n gratis aksieplan, wat sal help om jou skuldpaaiemente te verminder en jou kontantvloei te verbeter, aan jou sal voorlê.

  • Skaf ’n spaarvarkie aan

Dit is ’n goeie idee om regdeur die jaar kleingeld wat rondlê vir Desember te spaar. Sit ’n spaarvarkie op die kombuiskas en sorg dat die hele gesin betrokke raak. Hierdie aktiwiteit is nie net pret nie, maar ook opvoedkundig vir oud en jonk: dit is ’n maklike manier om goeie spaargewoontes onder gesinslede aan te moedig. Hierdie gewoonte kan voortgesit word vir toekomstige geleenthede soos byvoorbeeld verjaarsdae en ander spesiale geleenthede. Indien die blote gedagte om te spaar binne jou huidige begroting jou egter laat sidder, kan jy gerus ’n skuldhersieningsprogram oorweeg, sê Wikus. Deur middel van onderhandelinge met jou krediteure, verseker so ’n program dat broodnodige kontant beskikbaar gestel word binne jou begroting. Dit sal help om te sorg dat jy jou rustyd sonder finansiële bekommernisse kan geniet.

  • Luister na jou geldsintuig

’n Wyse slagspreuk soos “Want what you have, don’t have what you want” herinner ’n mens daaraan om dankbaar te wees vir dit wat jy het. Daar is altyd iemand wat baie minder as jy het, selfs al het jy net ’n bietjie, en daar sal altyd iemand anders wees wat meer het as jy. Dit is ’n nuttelose stryd om jouself met ander te vergelyk. Wees dankbaar vir waar jy tans jouself bevind en besef dat genoeg méér as genoeg is. Jou eiewaarde is nie gelykstaande aan jou netto-waarde nie. Tevredenheid is die beginpunt van ware beheer oor jou finansies.

  • Maak gebruik van winskopies

Uitverkopings vroeër in die jaar kan handig te pas kom as jy pro-aktief is en geskenke lank voor die tyd aankoop. Stel egter ’n lys op voordat jy die uitverkopings besoek om te keer dat jy nie impulsief reageer en onnodige items aanskaf nie.

  • Wees slim met takies

As vakansievieringe vanjaar by jou aan huis plaasvind, is dit tyd dat jy met jou beplanning begin en sommer vanuit die staanspoor af take uitdeel. Onthou jy hoef niemand te beïndruk nie, veral as jou duur verversings gaan veroorsaak dat jy droë ryskoekies vir die eerste helfte van 2019 moet eet! As jou begroting skraps is, is dit sinneloos om vir alles uit jou eie sak uit te betaal, aangesien dit ’n mens net meer angstig maak wanneer jy jou begroting oorskry en dan is die vrede van die seisoen in elk geval daarmee heen. Vra jou gaste om almal iets te ete saam te bring en dink aan slim maniere om die geskenklading ligter te maak. ’n Oulike idee is om ’n geskenktrekking te hou waar elke persoon een bekostigbare geskenkie saambring en elkeen ’n beurt kry om ’n geskenk uit die versameling te kies.

Hou by jou begroting en aksieplan sodat jy jou aandag op die belangrike dinge kan rig en nie gedurig oor geld hoef te tob nie. Goeie beplanning nóú sal verseker dat jy kan fokus op dit wat regtig belangrik is hierdie tyd van die jaar; rus en samesyn na ’n dolle 2018.

’n Ma wat haarself ook nie ’n bietjie rus gun nie, loop die gevaar om uit te brand.

Ma, sorg dat jý ook ontspan

Met die feesgety op hande is dit tyd vir die hele familie om weer bande te smee, saam tyd te spandeer en om te rus en ontspan.

Ten spyte van die vordering wat gemaak is ten opsigte van gelykheid tussen mans en vroue, dra mammas steeds die meeste verantwoordelikheid om na die familie om te sien. Gedurende die vakansie moet die kleintjies vermaak word, familie maak sosiale verpligting-dagboeke dikwels oorvol en mag daar selfs ’n reis wees om te beplan. Dit alles kan daartoe lei dat Ma ’n vakansie nodig het, ná die vakansie.

Hier is ’n paar wenke om te verseker dat Ma ook dié vakansie kan rus:

Dis ’n familie-saak

Een van die belangrikste dinge vir ’n ma wat ook die vakansie wil geniet, is dat sy moet besef dat dit nie net haar verantwoordelikheid is om van die vakansie ’n sukses te maak nie. Verwagtinge van die gesin en familielede lei dikwels tot vakansiespanning. Sorg dat elke lid van die gesin deel aan die verantwoordelikhede. Dieselfde geld vir kuiergaste en familie wat kom kuier. Deel take uit en vra almal om in te spring en te help met die maak van kos en die skoonmaak van die huis. Onthou, alles hoef nie net op jou skouers te rus nie!

Kry iemand om te help

Vir diegene wat gelukkig genoeg is om die dienste van ’n gereelde huiswerker te hê, kan dit moeilik wees wanneer die persoon ook tydens hierdie tyd met vakansie is. Maak gerus gebruik van die dienste van ’n onderneming soos SweepSouth wat helpers op ’n ad hoc basis voorsien om jou vir ’n dag of meer te ondersteun en die huis weer in orde te kry.

My tyd

Maak tyd vir jouself. Dit is noodsaaklik en nie selfsugtig om na jouself om te sien nie. ’n Ma wat haarself ook nie ’n bietjie rus gun nie, loop die gevaar om uit te brand. Of dit nou ’n namiddag op jou eie is by ’n spa of ’n luilekker laat-ontbyt saam met vriendinne, ’n paar ure vir jouself kan wondere verrig.

Neem jouself voor dat jy hierdie feesgety nie alles self gaan probeer doen nie, dat jy vir hulp gaan vra en ook ’n blaaskans gaan neem. Jy verdien dit!

2018-12-01T13:56:08+00:00