Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Wanneer ons tyd maak om die lewe deur ons siel te laat vloei, beleef ons die wêreld soveel anders. En lééf ons soveel meer.

Ons oë is die lense van ons siel: Lense met filters wat ons die lewe op ’n sekere manier laat sien …

Ons het elkeen ’n storie: ’n Unieke verhaal wat ons gevorm het en ons oë met spatsels kleur geverf het sodat ons op ‘n bepaalde manier na die wêreld kyk.

Die vraag is: Hoe lyk die lense van mý oë? Het pyn, teleurstelling en teenslae die filters van my siel donker gekleur sodat ek hoofsaaklik grys prentjies sien? Of kan ek – ondanks alles – dit tog regkry om meer dikwels die helder kleure van die lewe raak te sien? Sien ek nog hoop ten spyte van ashope, oggendlag na die donker nag, die goedheid in ander ondanks hul swakheid?

Geloof kleur ons wêreld ánders. Dit help ons om brutaal eerlik te wees met die werklikheid, maar daarmee saam onwrikbaar te glo dat dinge sal uitwerk soos dit moet. Mense kan verander, môre kan beter wees. Dit maak van ’n dit-ís-situasie ’n dit-kán-moontlikheid. En omdat ek dan die onbeperkte moontlikhede van my Vader sien, hoop ek anders, sien ek mense anders en leef ek anders.

Miskien kan ek en jy meer gereeld die Gees vra om ons eie lense skoon te maak sodat ons die dit-kán-moontlikhede kan raaksien. Dalk:

  • Voel ons eie harte dan ligter – al verander ons omstandighede nie
  • Sien ons die goeie in ander raak – al maak hulle ook droog
  • Hoor ons die liefde – ten spyte van …
  • Proe ons die soet tussen die bitter
  • Weet ons intuïtief dat God by ons is: môre ook sal wees.

Ek bid vandag dat God my lense sal skoonmaak en my sal help om te fokus op die lig, die mooi, die liefde. Die Verlosser wat alles moontlik maak.

Dit-kán-mens
Here, ek dink die lewe het my oë
vol katarakte gemaak!
Nou kyk ek vaal-vaal na alles om my.
Verwyder die skadu’s oor my siel
sodat ek met lig-wees-filters sal kyk.
Met nuwe hoop sal glo.
Met groter verwagting sal leef.
Met oorgawe sal liefhê.
Ja, maak my oë weer oop …
vir al die goed wat U gee.
Wat U ís.

Toe níé donker nie!

Jakob was gebroke: Sy lieflingseun is dood (of so het hy gedink) en hy het nie genoeg kos vir sy familie nie (of so het dit gelyk). Maar God het ’n ander plan: Hy seën sy seun, Josef, met ongekende gawes en maak hom juis die koning in Egipte wat die uitkoms aan Jakob en sy ander seuns bring toe daar hongersnood in hul eie land is. Dis toe, op sy sterfbed, wat Jakob se oë oopgaan en hy vir Josef en sy kleinseuns sê: “Ek het nie gedink ek sou jou ooit weer sien nie, maar nou het God selfs toegelaat dat ek jou kinders ook kan sien.” (Genesis 48:11)

God se plan vir jou is ook vol hoop en goeie prentjies wat jy dalk nie nou kan sien nie, maar waarop jy kan hoop. Waarin jy kan glo.

Hou in tye wanneer dinge duister lyk, vas aan die lig. Die lig wat nie noodwendig ons omstandighede verander nie, maar ons harte. Die lig wat nie net maklik gee nie, maar wat ons al die krag gee om in moeilike tye vas te byt …

Boodskap: “Want U is die fontein van die lewe, in u lig sien ons die lig.” Psalm 36:10
2018-12-01T15:01:45+00:00