Op die wynrak

Deur Johan & Christine Ferreira

Die oes van die wingerd is ryk en oorvloedig…

Ses om te proe

Plaisir de Merle Grand Brut 2015

Dié elegante wyn is deur wynmaker, Niel Bester, volgens die Methodé Cap Classique in die Franse tradisie gemaak. Die wyn is gemaak van 55% pinot noir- en 45% chardonnay-druiwe en het ‘n verfynde boeket van suurlemoen, sitrus en brioche met ‘n tintel van sitrus en appel op die tong. Bedien saam met oesters en seekos. R230.

Jean Roi Cap Provincial Rosé 2017

Hierdie premie-rosé, afkomstig van Antonij Rupert Wyne in die Franschhoek-omgewing, bring hulde aan Jean Roi, die Franse Hugenoot van Provence wat die wingerdbougeskiedenis van die L’Ormarins-wynlandgoed, wat oor 300 jaar strek, ingelui het. Die Jean Roi Cap Provincial Rosé 2017 is ’n versnit van cinsault, grenache en shiraz. Hierdie uitsonderlike styl van rosé, wat wêreldwyd baie gewild is, is ook besig om vinnig onder Suid-Afrikaanse wynliefhebbers pos te vat. R290.

Paul Cluver Sauvignon Blanc 2018

Dié somerwyn is helder van kleur met ’n ligte groen skynsel. In die neus word vars, skoon aromas bespeur wat herinner aan grenadella, pomelo, appelliefie en swartbessie. Hierdie geure word na die mond deurgedra waar ’n heerlike, romerige tekstuur ervaar word, die gevolg van verlengde kontak met die moer en die insluiting van ’n bietjie semillon. Hierdie wyn is die ideale pasmaat vir ‘n vars somerslaai, ligte vleisdisse, seekosgeregte of ‘n kaasbord. R110.

Flagstone Poetry Cinsault Rosé

Dié somervars en sprankelende rosé spog met ‘n boeket van somerbessies, swart en rooi kersies en ‘n subtiele speseryagtige ondertoon. Die wyn proe sag en vrugtig op die tong en is die ideale wyn om saam met vars slaaie, Thaise disse en susji te geniet. Lees meer by www.flagstone.co.za. R55.

Whalehaven Conservation Coast Chardonnay 2014

Whalehaven, wat in 1995 gestig is, is die derde oudste wynkelder in die Hemel-en-Aarde area. Whalehaven se vlagskip Conservation Coast-reeks vier die wilde kuslyn van die Kaapse Suidkus van Valsbaai tot Kaap Agulhas, waar verskeie kus- en oseaanbewaarareas inheemse fynbos en besoekende oseaanlewe huisves. Een van die grootste bydraende faktore tot hierdie koel-klimaat, terroir-gedrewe wyne se kwaliteit, is die Hemel-en-Aarde streek se nabyheid aan die see. Dié chardonnay het botterkaramel en naeltjies op die neus, met die volronde smaak van croissant en baguette en ’n talmende mineraalagtigheid wat ’n verfrissende lemoenbloeiselsmaak nalaat. Perfek saam met foie gras en seekos. R390.

Groote Post Kapokberg Chardonnay 2017

Groote Post is ‘n pragtige historiese wynplaas in die Darling-omgewing. Vir eienaars Peter en Nick Pentz was 2017 ‘n uitstekende jaar en is hierdie spesifieke wyn plaaslik, sowel as internasionaal, bekroon. Die wyn het ‘n aanvallige goue strooikleur met ‘n neus van geroosterde amandels en die smaak van botter en lemmetjie-marmelade op die tong. Hierdie is ‘n elegante chardonnay met ‘n romerige palet. R160.

Leer ken die landgoed

Plaisir de Merle is in 1693 teen die hange van die Simonsberg tussen die Paarl en Franschhoek deur die Franse Hugenote gevestig en is ‘n ware juweel van ‘n landgoed. Dié landgoed wat 947 hektaar groot is, is deesdae in besit van Distell en spog met ‘n wye verskeidenheid bekroonde wyne, beide wit en rooi. Ongeveer 180 hektaar is opsy gesit vir die verbouing van druiwe wat uitsluitlik gebruik word vir die maak van die Plaisir de Merle-wyne. Vir wynmaker, Niel Bester, lê die geheim van ‘n goeie wyn in die vrug en die unieke gebied waarvandaan dit afkomstig is. Die harde werk van die wingerdspan dra boonop by tot die sukses van elke wyn hier wat gemaak word, glo Neil. Lees meer oor die landgoed en wyne by www.plaisirdemerle.co.za.

Sjefstafel

Beleef Idiom se Wyn & Makrolletjieervaring tot en met einde Februarie. Die makrolletjies word by Idiom gemaak, met bestanddele wat die wyne se karakter ten beste na vore bring. Saam vertoon hulle die uitmuntendheid van diversiteit en unieke terroir. Voorafbesprekings is noodsaaklik en groepsbespreking is beskikbaar op aanvraag. Bespreek per epos by reservations@idiom.co.za of skakel 021 858 1088. R150 per persoon. Besoek idiom.co.za vir meer inligting.

 Gabriëlskloof Restaurant is elke dag – behalwe Dinsdag – oop vir ontbyt en middagete. Die hele Gabriëlskloof-reeks bekroonde wyne is beskikbaar om saam met elke gang by die restaurant te geniet. Bespreek jou tafel by 028 284 9865 of stuur e-pos na restaurant@gabrielskloof.co.za. Die Gabriëlskloof Landgoed is op die Swartrivierpad, net af van die N2 buite Botrivier.

Delheim Landgoed is in die Stellenbosch Wynroetes se Simonsberg sub-streek en op die Knorhoekpad, net af van die R44, geleë. Vir meer inligting, besoek www.delheim.com of kontak Delheim by info@delheim.com of 021 888 4600. (Foto heel bo).

2018-12-01T14:49:05+00:00