Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Ons kleinkinders se ander ouma is skielik oorlede. Vir hulle – wat vir die eerste keer met die omvang en finaliteit van die dood in aanraking kom – is dit oorweldigend, onbekend en ontstellend.

In die veilige beskutting van my arms kan ’n nege jaar-oud haar vrese en vrae uiter: “Hoekom, Ouma? Ek verstaan dit nie… Liewe Jesus kon haar mos gesond gemaak het. Ek het so hard gebid… Hoekom bly slegtes lewe? Nou sal ek nooit weer by my ouma kan gaan kuier nie. Ek sal nooit weer by haar in die bed kan slaap nie… Sy het nie eers my balletkonsert se DVD gesien nie… Dink Ouma sy weet hoe lief ek vir haar is? Ek kan nie haar stem onthou nie! Ek gaan vergeet hoe sy lyk! Is sy in die hemel, Ouma? Kan sy my sien?”

In party van die vrae hoor ek my eie onmag in die aangesig van die onverklaarbare. ’n Klein dogtertjie se uitroepe eggo ons as volwassenes s’n. Want steeds – al is ons hoe oud en bekend met verlies – staan ons verslae wanneer ons met die onomkeerbare gekonfronteer word.

In die dae voor die afskeidsdiens koester ons mekaar. Verhoudinge verinnig. Alle ander noodeisende dinge word eenkant toe geskuif. En ons besef dat dit toe glad nie so noodeisend was nie!

Ons kuier en lag en huil. Ons herroep saamweestye en gedeelde herinneringe wat ons saam gesnoer het. Vreugde-oomblikke soos kleinkinders se geboortes. Krisisse. Feestelikhede soos troues en spesiale verjaarsdae en skoolkonserte.

Niks anders is belangriker as ons bymekaarwees nie. As hierdie oomblikke nie. As nóú nie.

Die kinders warrel in en uit. Hulle pluk blomme en rangskik dit in klein potjies vir hulle ouma se dankdiens. Hulle skryf briefies. Teken. Verf. Dans voor die TV. Sing temaliedjies van Heidi en Lollos enTrompie. Hulle speel klavier. Sit op ons skote. Hou vir ons konsert op die grasperk. Ons haal lego’s en legkaarte bo uit die wegsteekkas.

Soggens vroeg – voor eerstelig – word ek wakker van Ousus wat roerloos in ons kamerdeur staan. Ek klim suutjies onder die komberse uit – versigtig om nie die ander twee kleingoed – wat met arms en bene uitgestrek dwarsoor die bed lê – wakker te maak nie. Ons stap kombuis toe. Ons maak die deur agter ons toe. Dis ons twee se spesiale tydjie saam. Terwyl die huis nog rustig slaap, drink ons tee en eet beskuit. En ons praat.

“Ek is lief vir Ouma,” sê my negejarige kleinkind terwyl sy onder my blad inskuif.

“En ek vir jou… Liefde maak alles beter.”

“Nee,” sê sy, “partykeer is liefde nie genoeg nie.”

Sy is reg. Soms is die pyn net te oorweldigend. Liefde help, ja. Dit maak sagter. Dit kussing ’n mens teen die impak van swaarkry en verlies, maar kan dit nie wegneem nie.

Net die wete dat ons vir tyd en ewigheid in God se hand is, help ons wanneer onsself onmagtig voel. Dit – en die besef dat Sý liefde ons dra.

Almagtige God en Vader, dankie dat U liefde vir ons genoeg is, selfs wanneer ons mekaar nie kan help nie. En dankie dat U U Seun gestuur het as bewys van U ewige liefde vir ons. Amen

2018-12-01T15:07:42+00:00