In Het Boek  staan die begin van Psalm 23 só vertaal: De HERE is mijn herder, dus heb ik alles wat ik nodig heb! / Hy laat mij uitrusten in een groene weide / En wijst mij de weg langs kabbelende beekjes. / Hij verfris mij innerlijk. . .”

Teen die einde van ’n jaar voel mens beslis behoefte aan ‘n “groene weide”. So was dit ook met my einde verlede jaar. Moeg, sat. Op ‘n dag kom ‘n hartsvriendin by my. “Ek het ‘n lekker verrassing vir jou!” By ‘n funksie van haar kleinseun se deftige privaatskool het sy twee kaartjies gewen vir ‘n traktering by ‘n befaamde spa. Terwyl sy entoesiasties uitwei oor die voortreflikhede wat dit alles behels, trek my keel sonder meer toe. Ek’s nie ‘n perd vir uitgelewer word nie, en so ‘n ekspidisie ruik my alteveel na uitlewering. Ek en my privaatheid . .  . ten spyte daarvan dat Abba al meermale sy vinger op dié vergryp gelê het.

By Trudy is nie maklik verby te kom nie. “Ek lees sommer jou lyftaal,” sê sy, “maar dis nonsens ons gaan daai ding doen.”

En so meld ons een oggend by ‘n Jonkershoekse “Wellness Centre” aan – sy tintelend van afwagting en ek heeltemal soos ‘n lam ter slagting. Maar van die eerste oomblik af straal die plek stilte en koestering uit. Nodige vorms word ingevul terwyl ons voete salig in bakke koel water op spoelklippies nestel. Daarna verhuis ons na ‘n eie privaatkamertjie van wit japonne en handdoeke, die geur van roosblare en allerhande olies op die lug. Daar word die rituele voltrek:  eers ‘n gawe skroproom, dan stoombad en sauna en stort. En toe mekaar met verskillende verkwikkende Afrika-modders smeer, stoombad, sauna en stort. En nog ‘n keer herhaal. En aldeur suurlemoenwater drink om al die detoksifisering te weerstaan. Algaande raak die slagterslam “innerlijk verfris”. . .

In ons snoesige japonne op weelderige lêstoele, lang glas vrugtesap in die hand, lê ons soos wafferse vermoënde dames langs die binneshuise swembad en jacuzzi oor die omringende wingerde en Stellenbosse berge en uitkyk. Ek voel ek begin verstaan wat met “wellness” bedoel word.

En toe kom die hoogtepunt nog. Twee mooie jong terapeute lei ons na die roekelose bederf van ‘n volle uur se massering in soetgeurende skemerte by sagte panfluitmusiek. Ek val byna aan die slaap te midde van dié weelde. Toe selfs my hande masseer word, val die woorde op die silwer ringetjie aan my vinger wat ek in Jerusalem present gekry het, my by: ani l’dodi v dodi li. Die Hebreeus vir Hooglied 2:16: “My beminde is myne en ek is syne.” My Beminde het my vandag na waters gebring waar rus is, wetende hoe nodig ek dit gehad het. Dié bewussyn van sy liefde en begrip laat trane in my oë skiet.

Na die tyd ontspan ons in die lou water van die swembad en later luilekker in die murmelende jacuzzi –  inderdaad langs “kabellende beekjes” kyk Trudy na my en lag, maar sy sê nie: “Sien jy nou” nie, sy kan mos sien ek het lank al gesien.

Op pad terug kan ons ons egter nie blindhou vir die nypende armoede en die meegaande wetteloosheid aan die rand van al dié weelde nie. ‘n Kruitvat wat wag om te ontplof. . .

‘n Koue hand vat om my hart en ek gryp dankbaar na die res van Dawid se Psalm:  “Zelfs as ik door een donker dal moet lopen, ben ik niet bang, want U bent dicht bij mij. U bewaakte mij en gaat de hele weg met mij mee.”

2018-12-01T15:15:03+00:00