Ek deel my hart

‘Dis alles deel van menswees’

Deur Dawid Yzelle | Foto Hanneri de Wet

Jesus se vreeslose liefde – dít inspireer sanger Bouwer Bosch om in sy eie gebrokenheid lief te hê.

Sanger, storieverteller, komediant . . . hoe leef “denker” Bouwer en “grapjas” Bouwer in een lyf?

My gemoed is soos Londen! In die oggend reën dit, in die middag skyn die son, en in die aand sneeu dit soms. Elke dag is maar anders; soms staan ek op en dan wil ek glad nie kreatief wees nie, ander dae weer wil ek niks anders doen as skryf en musiek maak nie. Ek probeer ’n balans handhaaf. Die lewe is lekker en om te lag is belangrik, maar ek probeer soms ook my pols hou op wat aangaan in die wêreld en mense se lewe.

Paasfees is om die draai . . . wat beteken Jesus vir jou?

Jesus was en sal maar altyd vir my die grootste underdog van Sy tyd wees. Die Een wat teen die stroom was, die Een wat nie bang was om Sy hande vuil te kry nie, en die Een wat almal aanvaar het. Daardie karaktertrekke trek my aan na Sy lewe toe en maak Sy lewe so tasbaar vir my. Jesus se voete is deur ’n prostituut gewas, Hy was omstrede, Hy was nie bang met Sy liefde nie en ek wens soms ons kan so wees in óns liefde. Jesus se liefde was omstrede, en daarvan hou ek baie.

Waar het jou geloofspad begin?

Ek is baie bevoorreg. Albei my ouers was baie betrokke in die kerk. Ek het baie by my pa geleer van wat dit beteken om te dien. Hy het altyd stoele uitgepak voor kerk, en gehelp om kabels reg te maak vir die band, en net oral waar hy was het hy hand bygesit. Eers op 18 het ek regtig besef wat ’n verhouding met die Here behels. Ek was op ’n kamp waar ek Retief Burger se kitaarspeler was, en daar het ek vir die eerste keer verstaan hoe gebroke ’n mens se verhouding met God soms kan wees – en dat dit oukei is. God is ’n fan van stukkende mense en daardie besef het my lewe verander.

Hoe bly jy in verhouding met God?

Deesdae is podcasts maar my “kerk”. Ek hou baie van Pete Rollins en Rob Bell se podcasts. Ek voel ook jy is maar heeltyd connected met die Here. Soms is jou lewe meer besig en vol geraas, ander kere weer stiller en rustiger maar ek dink ons is die heeltyd connected aan Hom. Ek is altyd oop om te leer, oop om verkeerd te wees en oop om te groei, wat ek dink belangrik is in enige verhouding. So het ek nog baie om te leer rondom vriendskappe en verhoudings. Ek weet ek maak nog baie foute, maar ek het vroeg in my loopbaan duur lesse geleer oor wat belangrik is. Iemand het eenkeer gesê ’n mens moenie lief raak vir iets wat nie lief kan raak vir jou nie, en ek probeer dit toepas.

Wat het jou huwelik met Leandi (du Randt) jou tot dusver oor jouself geleer?

Mense is maar weerlose wesens en almal kom met bagasie. Ons leer in daardie opsig nog baie van mekaar en groei nog saam. Die moeilikste ding van ’n verhouding of huwelik is nie om iemand lief te hê nie, maar om iemand toe te laat om jou lief te hê. Ek dink dit is met God ook so. Soms voel jy te stukkend en gebroke vir iemand se liefde, maar ek ervaar juis God se liefde by mense, vreemdelinge selfs. Mense wat glimlag, mense wat net lief is vir ander, ongeag van hul verlede of omstandighede. Mense wat net liefhet omdat liefde lekker is, en omdat liefde ’n voorreg is.

Jou veldtog Liefde Wen wys kennelik dat jy glo dat die liefde sál wen . . .

Ons Liefde Wen-span se motief is maar altyd om positiwiteit te versprei. Om ’n narratief op die tafel te sit wat uitdagend is en iets is wat jou sal laat dink oor dinge. Liefde Wen probeer nie sê dat alles perfek is nie, maar meer net om te weet dat die manier hoe jy reageer en dink in ’n moeilike of hartseer situasie is belangriker as die situasie self. Die projek groei ongelooflik lekker. Ons het ’n asemrowende span mense. Walton Kruger en Ampie Vorster is aan die stuur van ons sportontwikkelingsprojek in die Transkei, waar ons by ‘n paar skole betrokke is om daar sport te ontwikkel. Ons het ook ‘n baba-projek in George wat deur CJ Vorster bestuur word en ek hou myself besig hierdie kant van die land deur lukraak los projekte hier en daar.

Vertel meer oor Narratief…

My eie podcast, Narratief, kom lekker aan. Ek gesels met mense wat ’n impak in my lewe gehad het, mense na wie ek opkyk en wie se opinies en uitkyk ek geniet en respekteer. Soms is dit moeilike gesprekke rondom ons almal se verskillende agtergronde, velkleur, bevoorregting en die toekoms. Ek voel in Suid-Afrika praat ons baie van mekaar en te min met mekaar, daarom probeer ek doelbewus gesprekke voer oor ons land se verlede sodat ons mekaar beter kan verstaan en net ’n bietjie meer empatie kan hê vir mekaar se agtergrond. Ons verlede is soos die oorlogswonde wat ons in ons hart dra. Die goed in my verlede waarop ek nie trots is nie, is die goed wat my herhinner aan hoe ek gegroei het, hoe onkundig ek was, maar ook net hoe menslik ek is. ’n Mens maak steeds elke dag foute en jy maak steeds mense seer, dis alles deel van menswees, maar ons verlede wys ook baie van ons karakter vandag. Dit is belangrik om soms na jou verlede te kyk en te besef dat jy deur dit kon kom en dat jy vandag ’n beter mens is, en ook sterkter.

2018-12-01T12:50:37+00:00