“Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie.” Psalm 25:4

Oordenking

Die ses “stil dae” tussen Kersfees en Nuwejaar fassineer my altyd. Die klimaks van Kersfees is verby, die Nuwejaar met sy verwagtings lê voor, maar tussen-in… ja, wat nou? Dis natuurlik ‘n heerlik tyd vir rus, vir doodgewoon sleg wees, ideaal gesproke in ‘n karavaanpark wat ruik na seil, sand, sonbrandolie en dennenaalde, met genoeg tyd vir slaap of boeklees in ‘n warm karavaan. O, dis salig! Mens kan egter meer maak daarvan, want dis ‘n oorgangstyd, en oorgangstye is belangrik.

Oorgange is onseker: jy’t reeds laat los, maar nog nie gevat nie. Een seisoen is agter jou, maar die nuwe het nie begin nie. Dis die tussen-in tye, die dun tye, skraal tye van ons lewe – die brûe, die passe, die noutes. Sonder oorgange kan ons egter nie óór gaan, aangaan nie! Oorgange is noodwendig, maar dis ook voordelig. Die onsekerheid wat transisies meebring lei tot geloof en oorgawe, asook groei. Dan is ons meer oop vir verandering, vir inset, vir die Here, as op enige ander tyd! Oorgange is groei-tye, transformasie-tye, ja.

Ons moet hierdie “liminale” tye (limen=drempel) dus ernstig aanpak, intensioneel. Ons moet werk met ons oorgange en krisisse. Maak gebruik van die stil dae; behalwe die rus en die vleisbraai, neem ook ‘n notaboek en stap veld toe. Praat met die Here oor die jaar wat verby is, probeer iets leer, iets onderskei. Praat met Hom oor jou lewe, jou verhoudings – jou verhouding met Hom. Wat sê Hy? Moenie net ‘n boek lees nie, lees ook die Bybel. Wees net oop en bewus. Skryf alles neer wat jy waarneem. Jy sal verbaas wees: jou stilste dae kan jou sinvolste dae word!

Gebed

Wat sê U, Here?

“Eer die spasie tussen nie-meer en nog-nie.” Nancy Levin

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2018-12-01T15:12:27+00:00