Kuier by

Plek van koestering

Foto’s Claire Gunn & Hein van Tonder

By La Petite Ferme in die Franschhoek-omgewing vergeet jy van die wêreld en sy sorge. Jacqueline Leuvennink het gaan kuier…

Aan die einde van verlede jaar vra Koos Kombuis in ‘n koerant-artikel ‘n vraag waarmee derduisende verrinneweerde Suid-Afrikaners hulle kan identifiseer: “Hoekom is daar deesdae so min gawe of goeie mense? So min regtig goeie goed?”

‘n Paar dae later is ek by ‘n bestemming wat vir Kombuis sou kon vertroos. Soos wat dit my tydelik vertroos. Omdat die koesterende, ongeveinsde gasvryheid wat ons land nog altyd ‘n gunstelingbestemming vir baie mense gemaak het, deel is van die skering en inslag van La Petite Ferme oftewel “klein plasie” in Afrikaans.

La Petite Ferme verkondig graag dat hulle die mooiste blik oor die vallei het. En hoewel talle ander plekke in hierdie omgewing ook hul stem dik kan maak as dit by indrukwekkende panoramiese vergesigte kom, moet ‘n mens toegee dat dit in hierdie geval nie blote bemarkingspraatjies is nie. La Petite Ferme se ligging is waarlik besonders.

Gewoonlik moet ‘n mens nogals sweet om so ‘n uitsig te verdien. Maar hierdie keer glip ek danksy Lééf sommer in my karretjie na waar jy daardie weg-van-als sug van verligting kan slaak. Ver onder in die vallei teen die dramatiese agtergrond van berg op berg vorm die netjies bewerkte wingerde en landerye van dié vrugbare landboustreek ‘n laslapkombers in allerlei strelende skakerings van groen.

Saans gly die son ná nog ‘n dag se wel en wee agter hierdie berge in, sy taak vir die dag voltooi. Die weelde van hierdie oomblikke – hoewel so vervlietend soos blomme – bly jou lank daarna nog by. En is vir menige mens meer as rede genoeg om weer die pad na hierdie boetiekhotel en sy gesogte restaurant aan te durf.

Ware kwaliteit is iets wat, soos ons almal weet, nie maklik te definieer is nie. Dit is net iets wat ‘n mens instinktief herken as jy gelukkig genoeg is om dit teë te kom. Dalk lê ‘n deel van hierdie bergvesting se sjarme daarin dat dit op La Petite Ferme voel of jy letterlik uitstyg bo dit wat krap en knel. Jy besef net skielik jy bevind jou nou hier vir ‘n wyle in ‘n ruimte en ‘n atmosfeer waar niks pla nie en niemand kla nie.

Dis uit die staanspoor veral die personeel se vriendelikheid en diensgerigtheid wat jou opval en verkwik. Een van die werkers reageer onmiddellik met ‘n breë, wit glimlag toe ek opmerk dat die musiek waarna hy op sy selfoon luister, geestelik van aard is. “Yes, you must come to our prayer meeting; people from all over – white, brown and black,” vertel hy opgewonde van ‘n byeenkoms wat iewers in die Kaapse Skiereiland beplan word.

Jy besef net skielik jy bevind jou nou hier vir ‘n wyle in ‘n ruimte en ‘n atmosfeer waar niks pla nie en niemand kla nie.

Hier word jy bederf

Sedert die “klein plasie” se nederige begin in 1984 het hierdie bestemming in die skadu van die Middagkrans-berge hom oor die jare gevestig as een van die Kaapse wynlande se gunstelingplekke. Die oorspronklike eienaars, die Dendy-Young familie, kon danksy die restaurant se gewildheid hul onderneming verder uitbrei deur in 1979 ook gerieflike plaas-verblyfplekke in te rig. En in 2015 is daar opnuut voortgebou op die stewige grondslag wat deur hulle gelê is toe La Petite Ferme in die besit van die gasvryheidsmaatskappy, The Nest, gekom het.

Vir die stigter van The Nest, Karim Charaf, kon La Petite Ferme met sy besonderse ligging, onopgesmukte gasvryheid en elegante, kontemporêre interieur as ‘n maatstaf dien vir nog toekomstige eiendomme in die maatskappy se versameling unieke verblyfplekke. “The Nest stel onsself ten doel om ons gaste te koester en spesiaal te laat voel. Vir ons is dit die essensie van ware gasvryheid. Wat jy jou gaste in jou teenwoordigheid laat ervaar,is net so belangrik soos  die gehalte van die diens wat jy lewer.”

Iemand wat hierdie ingesteldheid onderskryf, is bestuurder Marinda Armstrong, ‘n sleutelpersoon in die span wat sorg dat alles tot in die fynste puntjies versorg word. “Sedert ek my in La Petite Ferme se nuwe bedeling by die span aangesluit het, kon ek en van die ander nuwe personeel saam met die veranderinge groei en ontwikkel. Baie daarvan is te danke aan die voorbeeld van die ouer personeel wat reeds soveel jare van volkome toegewydheid en dienslewering hier agter die blad het. Ons is ‘n besonder gehegte span.

“Dit bly ‘n voorreg om mense van dwarsoor die wêreld hier te ontvang – dikwels vir ‘n spesiale geleentheid soos ‘n wittebrood, ‘n huweliksherdenking of ‘n lank begeerde vakansie – en dan te sien hoe hulle deur die gasvryheid en die atmosfeer hier oorrompel word. ”

Die vyf Vineyard Suites het die afgelope winter ‘n groot opknapping ondergaan het ten opsigte van die badkamers, interieur en die plonspoele voor elke eenheid. Hier kan gaste in totale privaatheid ontspan.

Die vier ruim suites in die ewe elegante Manor House loop weer uit op skaduryke semi-private terrasse met ‘n gemeenskaplike swembad waarin besoekers in die warm somermaande kan afkoel. Dit kan individueel of vir klein groepe bespreek word.

Vir die fynproewer

La Petite Ferme het ook sy eie kelder. Wynmaker Wikus Pretorius  het nadat hy eers in Frankryk, Kalifornië en Australië gewerk het, sy ondervinding vanaf 2015 op La Petite Ferme kom terugploeg. Benewens die opbrengs van die sewentien hektaar wingerd op die plaas benut hy ook die diversiteit van geselekteerde wingerde in die omgewing om groter kompleksiteit aan sy wyn te verleen. Die portfolio sluit tans vier wit wyne (Sauvignon Blanc, Viognier, ‘n paar Chardonnays en ‘n rosé) in asook drie rooiwyne (Merlot, Cabernet Sauvignon en Shiraz). ‘n Klein hoeveelheid word uitgevoer, hoofsaaklik na België en die Verenigde Koninkryk.

En dan is daar die persoon wat tans sorg dat La Petite Ferme se kombuis steeds voortgaan om gaste te verras en verruk. Hoofsjef Kyle Norris se verhaal is soos sy kos; inheems met geurtjies en invloede van oraloor.

“Ek was eers ‘n valskermsoldaat,” vertel hy. “Ná vier jaar in die Weermag het ek sekuriteitswerk in die casinowêreld begin doen. Dis ‘n gevaarlike milieu en in my vroeë dertigs het ek ‘n versadigingspunt bereik. Ek wou iets meer opbouends doen. My pa het vir my gesê dat as ek gaan aanhou om in ‘n gewelddadige konteks te werk, ek waarskynlik iewers gewelddadig gaan omkom.

“Hy het my aangemoedig om ‘n sjef te word en liewer op hierdie manier die wêreld te verken om my avontuurlus te bevredig. My oorlede ma, ‘n kunstenares, het graag onthaal en ek was altyd lief om vir haar in die kombuis te help.”

Kyle het sy wapens vir kombuismesse verruil en ‘n jaar afgeneem om ‘n kursus by die Christina Martin School of Food and Wine in Durban te doen. Dit was die begin van ‘n loopbaan wat hom hier en internasionaal na gesogte bestemmings soos die Alpha Michelin restaurant in Athene geneem het om met top-mense in die bedryf skouers te skuur.

By La Petite Ferme streef hulle daarna om tradisionele Franse fynkookkuns te kombineer met dit wat plaaslik verkrygbaar en spesiaal is, iets wat Kyle met kenmerkende oorgawe doen. Op sy spyskaarte kan jy  byvoorbeeld vetkoek gevul met bokkaas en kruie aantref of bobotie wat in balletjies gerol is. Alles ‘n fees vir oog en verhemelte.

“Ons beleid is ook om in die plaaslike gemeenskap terug te ploeg deur die opleiding van jong sjefs en betrokkenheid by ‘n sopkombuis vir bejaardes en jong kinders wat nie toegang tot voedsame kos het nie. “

  • Die restaurant is oop vir middagetes van 12 – 15.30 en aandetes word in die winter (Mei tot Oktober) op Vrydae en Saterdae vanaf 6.30 tot 9nm bedien. In die somermaande (November tot April) is die etenstye tussen 7 en 9.30 nm. op Vrydae en Saterdae. Bespreek vooruit by reception@lapetiteferme.co.zaof skakel Marinda Armstrong by 021-876 3016.
  • Bespreek aanlyn vir akkommodasie by lapetiteferme.co.za
2018-12-01T12:56:21+00:00