Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Die aankoms van kinders en kleinkinders vir ’n kuier is gewoonlik ’n holderstebolder, vrolike deurmekaarspul! Ek het al geleer om my voete stewig op een plek te anker, want die kans dat ’n uitbundige seuntjie my onderstebo spring, is baie goed.

Ná die eerste opwinding word tee gemaak en broodjies gesmeer. Die kleingoed is al om my. Die kleinstes trek stoele nader om beter te kan sien, of sit sommer pens en pootjies op die werksblad. Tussendeur hou nie een van hulle op met praat nie. Elkeen wil eerste vertel wat by die huis of skool gebeur het. Hulle wys hul bloukolle. Een vertel hoe hy met sy fiets geval het. Ons bespreek nerf-af knieknoppe en -elmboë en -skene.

Wanneer ek die skinkbord op die stoeptafel neersit, is al die pyne vergete en is hul reeds op hul eerste ontdekkingstog in die agtertuin.

Onlangs kom staan ons oudste kleinkind by my. Ek kan sien sy het iets op die hart.

“Is daar iets wat jy vir Ouma wil sê?” por ek.

“Ouma, Ouma weet mos as ons by Ouma-hulle aankom en Ouma kom uit om die hek oop te maak…”

“Ja?”

“As ons Ouma sien, is ons almal so bly. Ons spring dadelik op Ouma.”

“Maar dit is reg so. Ek wens ek kon julle almal gelyk optel.”

“Ouma, dis waaroor ek wonder. Sal Ouma sleg voel as ek eers na Oupa toe gaan? Niemand hardloop eerste na hom toe nie. Hy wag tot ons almal vir Ouma klaar gegroet het. Ek kry hom so jammer.”

Ek is skaam. Ek besef dat ek elke keer deur die vreugde-oomblikke oorweldig word. Dit trek my in. Ek sien niks anders raak nie.

Hoe kon my oë so toe wees?

Oral word mense uitgesluit. Dit is nie noodwendig altyd met opset nie, maar tog kan dit baat dat ons deurentyd vir mekaar op die uitkyk sal wees.

Op die speelterreine by skole is daar kinders wat pouse na pouse alleen sit en die ander kinders dophou terwyl hulle speel. Hulle smag daarna om deel van die groep te wees, maar weet nie altyd hoe om te vra of hulle mag saam speel nie. Sommige kinders het nie die sosiale vaardighede nie. Ander is reeds soveel keer tevore kwaadwillig uitgesluit dat hulle nie weer deur die vernedering daarvan wil gaan nie. Eén maatjie wat haar hand na so ’n kind uitsteek en sê“Kom!”, kan ’n vaal dag vir ’n eensaam kind vol sonskyn maak.

Ons moet ons kinders leer om met erbarming te leef. Hulle moenie omgee om uit hul gemaksone oor te leun na ander wat uitgesluit en afgeskeep voel nie. Ons kinders moet die waarde daarvan leer om uit te reik, sodat hulle sal besef dat dit hulself op die ou end verryk.

Ons elkeen wil gelief voel. Sonder mense wat ons raak sien en omarm, is die wêreld koud en alleen en onherbergsaam.

Óns kan die warmte vir ander terugsit.

Here, help ons om op die uitkyk vir mekaar te wees. Maak ons oë oop vir eenkantmense wat smag na iemand om mee te praat. Maak ons draers van u liefde wat ander met oop arms nader trek en insluit. Amen

2018-10-31T19:19:41+00:00