Lééf mooi

Mooi groen

Deur Christine Ferreira | Foto Pexels

Dis die kleur van grysgroen salie, ‘n somertuin se grasperk of die kleur van klam varings in ‘n woud. Groen, in al sy skakerings, spreek van skoonheid en gesondheid.

Groen is gesond

Om groen tee te drink is meer as net ‘n gier. Groen tee is een van die kragtigste antioksidante wat vandag aan ons bekend is. Dit beskerm die liggaam onder meer teen vrye radikale wat veroudering veroorsaak. As jy gereeld groen tee drink, kan dit met waterretensie en gewigbeheer help. Groen tee is ook besonder ryk aan vitamien C en aminosure en het ‘n strelende uitwerking op liggaam en siel. Twee koppies groen tee bevat net soveel vitamien C as ‘n glas lemoensap. Dit bevat ook verskeie belangrike voedingstowwe en spoorelemente wat die liggaam help om goed te funksioneer.

Groen groente behoort ‘n groot deel van jou daaglikse dieet te vorm. Broccoli en spinasie is onder meer ryk aan vitamien C en ander antioksidante. ‘n Oksidant is ‘n suurstofmolekule in die liggaam wat nie met ‘n elektron gepaar is nie. Oksidante is natuurlik daartoe geneig om ‘n elektron van ‘n ander molekule te steel om homself te stabiliseer. Die molekule waarvan daar gesteel is, word dan op sy beurt ‘n oksidant wat skade in die liggaam aanrig. Dié proses van abnormale selfunksionering en beskadiging word oksidasie genoem. Antioksidante stuit oksidasie en help dus om die vel en liggaam teen veroudering en aftakeling te beskerm. Avokadopeer is ‘n uitstekende bron van antioksidante vitamien E en C en word ook as bestanddeel in skoonheidsprodukte gevind.

Geurig groen

Groen fyngeure is ideaal vir die warm somerdae. Dié soort geur is skoon, vars en sprankelend, sonder om te soet te wees. Groen geure is buitelug-geure gemeng met note van vars-gesnyde gras, blare en ligte blomgeure. Groen geure om te beproef: DKNY Women met tamatieblaar wat ‘n natuurlike groen indruk laat; Chanel No 19 met die geur van iris; Carolina Herrera 212 men met ‘n energieke groen topnoot en Elizabeth Arden Green Tea Eau de Toilette met groen tee as basis.

Die natuur bied duisende plantsoorte wat sonder newe-effekte in skoonheidsprodukte gebruik kan word.

Groen goed vir jou vel

In die Clarins Herbarium, ‘n gids oor die gebruik van kruie en plante in skoonheidsmiddels, uitgegee deur die skoonheidshuis Clarins, word beskryf watter uitwerking die gebruik van plantekstrakte op die vel het. Botaniese ekstrakte help om die vel te voed, verferm, versterk, beskerm, vernuwe en die selfunksies goed te laat funksioneer. Die natuur bied duisende plantsoorte wat sonder newe-effekte in skoonheidsprodukte gebruik kan word. Dit is die aktiewe molekules, vitamiene en minerale in plantekstrakte wat die vel gesond en jeugdig help hou. Dié aktiewe bestanddele word deur gesofistikeerde prosesse in laboratoriums uit die plante onttrek.

Organiese of sogenaamde groen produkte word van organies verboude, natuurlike bestanddele vervaardig en bevat geen dierprodukte, kleur- en gifstowwe of ander skadelike middels nie. Die produkte is omgewingsvriendelik en word ook in omgewingsvriendelike materiaal verpak.

Net ‘n handjievol suiwer organiese produkte is in Suid-Afrika te kry. Kyk uit vir Esse Organic Skincare, ‘n plaaslike produk wat met slegs die suiwerste bestanddele vervaardig word. www.esseskincare.com

Dr. Hauschka is ‘n reeks holistiese produkte uit Duitsland. Die produkte word van plant- en blom-ekstrakte gemaak wat deur ‘n spesiale waterdistileringsproses onttrek word. Die proses help om die lewegewende essensie van die plant-ekstrakte te bewaar. Al die kruie en plante wat gebruik word om dié produkte mee te vervaardig word bio-dinamies of organies gekweek of uit die natuur geoes op plekke waar dit omgewingsveilig is.

2018-10-31T17:16:23+00:00