Leesgoed vir die jongklomp

Kweek van jongs af ’n liefde by jou kinders vir die Woord. Hier is van die jongste lekkerleesboeke vir jou kroos of kleinkinders …

Snowy en sy maats

Deur Angus Buchan

Die bekende perd Snowy is terug! En hierdie keer deel Snowy saam met van sy beste maats op die plaas hul stories. Die kleingoed sal nie net die stories baie geniet nie, maar ook heelwat lewenslesse leer soos die keer wat die lammetjie Mê weggedwaal het van sy mamma, of toe Rooies die haan in die moeilikheid beland het omdat hy nie na goeie raad wou luister nie. Elkeen van die 11 stories, met sorg geskryf deur bekende evangelis Angus Buchan, word ook gekomplimenteer met ’n teksvers en gebed. Kinders tussen 5 en 8 jaar sal ook die aktiwiteite saam met elke storie geniet. Belangrike lewenslese oor gehoorsaamheid, omgee vir ander, vriendelikheid, vertroue op God en vele ander word in hierdie boekie op ’n prettige en verstaanbare manier vir die kleingoed oorgedra. Hierdie boekie is ook in Engels beskikbaar. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/snowy-en-sy-maats-hardeband.

Leef vir Jesus

Deur Ewald van Rensburg

Die tweeling Chris en Joy wat die kleingoed leer ken het in Ewald van Rensburg se nuwe boek Skyn vir Jesus is op ’n nuwe missie! Saam met Gracie, hul speurhond, gaan hulle op ongelooflike avontuurreise om meer van die vrug van die Gees te leer. Chris en Joy ontdek ’n geheime deur na die land van Lig. In hierdie land word hulle op verskeie tydsreise geneem waar hulle bekende mense en Bybelfigure ontmoet wat vir hulle alles oor die vrug van die Gees leer. Deur eienskappe soos liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing uit te leef, lei hulle ’n hele bende boelies na Jesus en maak baie nuwe vriende. 8- tot 12 jariges sal saam met die karakters in die boek soos die wit duif, die leeu en die vriendelike Man ontdek hoe om hulle geloof prakties uit te leef. Daar is ook aktiwiteite agter in die boek onder die afdelings “oordink dit”, “leer dit”, “doen dit” en “bid dit” wat hulle help om die liefdesbeginsels in die boek toe te pas. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/leef-vir-jesus-sagteband.

Die groot geheim (Die Heldinne van Harbor View)

Deur Melody Carlson

Morgan, Amy, Carlie en Emily is vier meisies wat dalk nooit vriende sou gewees het nie as hulle nie deur omstandighede bymekaargebring is nie. Die groot geheim bestaan uit twee stories oor hierdie meisies se wedervaringe. In die eerste storie, Die meisies van Harbor View, besluit die meisies om saam te staan teen die boelies wat hulle lewe versuur.  Hulle kom so goed oor die weg dat hulle sommer ook besluit om hulle omgewing te verfraai. In die tweede storie, Die groot geheim, gee die opsigter vir die meisies ’n ou skoolbus as beloning vir hulle harde werk om die woonwapark mooi te maak. Dit lyk na ’n maklike taak om die bus vir hulle in te rig as klubhuis, tot die meisies op ou plate, stowwerige boeke en ’n dagboek vol geheime afkom wat hulle laat wonder: Aan wie het die bus behoort? En hoekom het die opsigter dit vir hulle gegee? Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/die-groot-geheim-die-heldinne-van-harbor-view-sagteband.

2018-10-31T18:50:32+00:00