Geloof het ‘n adres

Kom sit aan

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet

Khaleo, vriende Wayne Vermeulen en Gerrie de Haas se kuierplek in Pretoria, rig ’n Bybels-geïnspireerde uitnodiging tot saamwees – en lekker eet!

In ’n vlak fontein voor die ingang pryk ’n standbeeld van ’n jong meisie met ’n seilskippie in haar hande. Dit lyk of sy droom van avonture in verre lande. Khaleo, die eetplek digby die fontein, laat ’n besoeker eweneens droom van avontuurlike reise en verrassende spyse by eksotiese bestemmings. Betree dié veilige hawe en die belofte word waar. Jazzklavier tokkel gedemp agterlangs. Die styl is koel, sjiek-modern, kosmopolities: grys mure, houtvloere, groen plafonplante in emaljebakke, ronde blou tafeltjies en houtstoele, ’n botaniese muurskildery vol vrugte en blomme.

Mede-eienaars Gerrie de Haas (32) en Wayne Vermeulen (36) het ’n maand lank deur China gereis en dis waar die idee van ’n besondere eetplek begin posvat het. “Ons het baie oor ons drome gepraat,” onthou Wayne. “ ’n Jaar later het die Here met elkeen gepraat en ons saamgebring. Ek en my vrou, Ilené, het van Jeffreysbaai af teruggetrek na Pretoria. Ek en Gerrie het besluit om ons eetplek saam te open en vir ‘n jaar lank het ons gebid daaroor en aan die konsep gewerk.” Die amptelike opening was op 4 November 2017.

Dis Maandagoggend en die plek is sommer vroeg al vol. Wayne beweeg rustig tussen die tafels deur om seker te maak almal is gelukkig en geholpe – ’n aandagtige gasheer wat ’n wakende ogie hou oor elke bord wat die kombuis verlaat. Elke weeksdag van 07:00 tot 18:00 en Saterdae van 08:00 tot 17:00, en Sondae van 08:00 tot 14:00 staan die personeel van 14 bont om bestellings te hanteer.

Die naam van die eetplek, Khaleo, is ’n nuutgeskepte woord uit twee tale. Gerrie verduidelik: “In Grieks beteken dit ‘Om te nooi; ’n roep’. In Hawaïes, ’n stem of uitroep. Kalleo verwys weer na Jesus wat dissipels nooi om in Sy Teenwoordigheid te kom en Hom te volg. Op dieselfde manier wil ons besoekers uitnooi en verwelkom. Ons wil hulle spesiaal laat voel.”

“Die terugvoering was deurgaans baie goed. Mense hou van Khaleo; hulle dink dis anders. Ons het onsself die heeltyd afgevra: ‘Is dit ’n goeie anders?’ Gehalte moet voorrang geniet.”

Kalleo verwys na Jesus wat dissipels nooi om in Sy Teenwoordigheid te kom en Hom te volg. Op dieselfde manier wil ons besoekers uitnooi en verwelkom.

“Die volgende eetplek sal nog meer internasionaal wees,” glo Gerrie (32), ’n boorling van Polokwane wat B.Com aan Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer het. Hy het ’n jaar by die temapark Six Flags in Chicago, VSA, gewerk. Sendingreise saam met Global Challenge Expeditions het hom na 67 lande geneem. “Jy dieet nie terwyl jy reis nie,” skerts hy. “Die lekkerste kos ter wêreld is Indonesiese kos, iets wat jy nie in Suid-Afrika vind nie.”

Wayne (36), ’n gebore Pretorianer wat in Port Elizabeth getoë is, het sakebestuur studeer en onder meer ervaring opgedoen by Mugg & Bean. Hy het koffie leer rooster by die Tribeca-groep: “Ek het gedag dis ’n kuns, toe kom ek agter dis ’n chemie!” Wayne het ’n koffiestalletjie by die Boeremark bedryf. Die diverse koskulture van verre lande inspireer hom. Hy en Ilené het vir Global Challenge Expeditions wyd geswerf en die Goeie Nuus uitgedra – hulle het elk 30 lande besoek. “Daar doen en leef en eet jy soos die inwoners – jy word soos hulle,” vertel Wayne. Hulle het twee dogters, tweejarige Tehila (“spontane lofprysing”) en ses maande oue Lana-Louise (“lofstryder”). In Jeffreysbaai het die egpaar ’n koffiekroeg en roostery, First Light en Routed Roasters, bedryf. Ilené het ook ’n kleuterskool daar begin. “Sy het ’n groot hart vir kinders.”

“Elke drie maande verander ons die spyskaart, neem disse weg en voeg disse by volgens die seisoen, met  sop en potpasteie in die winter.”  

Riaan Bosch, ’n kunstenaar van Pretoria, het die volgrootte muurskildery geskep, ’n paradys van plant, ryp vrug en Bybelse simboliek. “Ons wou ’n Suid-Afrikaanse konsep hê, iets klassiek in Flaamse styl. Gysbert van Graan, wat die interieur ontwerp het, het voorgestel ons maak die muur vol strelitzias. Ons het egter besluit op die spesies van die Woord: Die granaat, wat outoriteit verteenwoordig, druiwe vir salwing, en vye vir vrede en voorspoed.”

Khaleo se embleem, ’n sierlike agtpuntster, inkorporeer die seël van Melgisedek. “Dis die seël van die Hoëpriester. Ons wou nie ’n duidelik herkenbare religieuse simbool hê nie, ons wou dit ’n bietjie versteek. Die Ou Testamentiese seël is ’n erkenning dat ons deel van ’n ewige priesterskap is.”

“Daar’s baie plekke wat goeie koffie bedien, en daar’s plekke wat lekker ontbyt bedien. Selde kry jy ’n plek wat in albei spesialiseer. Mense kom hierheen vir ’n unieke ervaring, goeie ontbyt én uitstekende koffie,” vertel Wayne. “Ons bedien ligte middagetes ook. Elke drie maande verander ons die spyskaart, neem disse weg en voeg disse by volgens die seisoen, met  sop en potpasteie in die winter.”

Die keuse van koffie is wyd: Espresso, Americano, cappuccino, cafe latte, flat white, cortado, macchiato, babychino. Lattes sluit in ’n mocha latte, chai latte en selfs ’n melktert latte. Alternatiewe koffiebroumetodes behels Chemex, V60 en Viëtnamese Drip. Vir teedrinkers is daar Ceylon, Marokkaanse ment, groe tee en daar is Viëtnamese yskoffie vir diegene wat iets koels verkies. Die kreatiewe spyskaart, saamgestel in samewerking met sjef Matlhatse Mathe en konsultant Ivan Richards van Toast Company, laat die smaaksin baljaar. Die personeel dra ook idees by. Verlustig jou aan piesangbrood/Franse roosterbrood met organiese amandelbotter, spek en heuning; soetmielie-rogpoffertjies met spek, tuisgemaakte brandrissie, spreituie en créme fraiche.

Smul aan fyngemaakte avokado en gesnipperde rooi-ui op ’n sny suurdeegroosterbrood met ’n geposjeerde eier, bros spek, verouderde cheddarkaas, beetketjap en beetblokkies. Probeer bottermelkwafels met gebraaide pynappel, vars bessies, laventelheuning, geroosterde amandels en créme fraîche. Of dalk die gerookte forel, roomkaas, kappertjie, geroosterde tamatie, spek en ’n chimichurri-geposjeerde eier. (Chimichurri is ’n ongekookte Latyns-Amerikaanse vleissous.) Speel saam en ontwerp jou eie ontbyt met brode, proteïen, groente, eiers, suiwel en smaakmiddels. Somerbrêkfisbakkies kom met chia, beet, appeljogurt, hennepsaad, komyntameletjie, gedroogde veenbessies, gedroogde appelkose, brandewyndruiwe, gesposjeerde peer en kokosneutvlokkies. Lê lekker weg!

2018-10-31T17:31:18+00:00