Kuns van Lééf

In die kleine

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet 

Niks ontglip die Pretoria-kunstenaar Alisa Rebel Günter se waaksame oog nie – en alles van blomme, goggas, landskappe tot gesigte kan kleinkuns word onder haar fyn waterverfkwas. 

Een van Alisa Rebel Günter (24) se kinderlik sjarmante illustrasies wys ‘n meisie met lang hare wat in die wind stroom, haar oë salig gesluit asof sy droom. Sy word omring deur helderkleurige blomme. Dit kan sy self wees, knik Alisa stralend. “Deesdae is ek meer gesentreerd,” verklap die vriendelike jong vrou kort nadat sy opdaag by die Kleinkaap Boutique Hotel se eetplek onder ‘n reuse eikeboom, waar Charlie die haan en sy henne skrop. Sy bestel Earl Grey. “Ek vind eers die middelpunt van my prentjie voor ek begin teken…”

Haar “minimalistiese illustrasies”, soos Alisa dit raak beskryf, kan netjies in jou handpalm pas. Elkeen bied ‘n blik op die natuur of ‘n kosbare oomblik van hoe ons leef wat onvermydelik ‘n glimlag lok. Jy kan jou verkneukel aan die presiese detail, kleurgebruik en humor. Tans is Alisa besig met ‘n piepklein projek wat tegelyk baie groot is: sy het onderneem om ‘n waterverfprentjie, poskaartgrootte, vir elke dag van die jaar te skep. Op 1 Januarie 2018 het sy weggespring met ‘n mini-portret van ‘n fiktiewe vis in roesbruin skakerings – en tot dusver het sy nog nie agter geraak nie. Sy moet toegee dat sy nie altyd weet wat sy gaan verf nie, maar gelukkig wemel dit van onderwerpe. Landskappe (ook klein) is “nuwe ding”, soos Bloemfontein (19 September 2018) en Victoriabaai (6 Oktober 2018). Elke dag lewer ‘n ontdekking op: om te kamp lewer ‘n prentjie van ‘n tent op.

Alles inspireer

Soms werk sy vooruit en doen sommer ‘n paar werkies op ‘n slag. “Ek werk vir elke dag, nie noodwendig elke dag nie,” lag sy. “Dis uitdagend en lekker omdat dit my heeltyd strek. Die doel is om my vaardighede te bou en uiteindelik te sien waarheen dit my neem, hoe ek gegroei het as kunstenaar.”   

Enigiets in haar onmiddellike omgewing kan dien as inspirasie: ‘n blom soos ‘n roos, tulp of protea (haar gunsteling), ‘n interessante blaar, ‘n eend, ‘n hadida, ‘n blou gogga, ‘n visvanger, ‘n swaeltjie. 

Soms gebeur dit dat sy ‘n reeks doen wat op ‘n tema fokus, soos  haar kosreeks: spek en eiers, ‘n pienk oliebol, ‘n garnaal, ‘n koppie koffie, ‘n avokado, ‘n aarbei-melkskommel.

“Ek het ‘n plantjie in ‘n bruin bottel op my tafel. Toe ek dit verf, word dit ‘n hele reeks met die bruin bottel en iets daarby (Bruin-bottel-plant reeks). Ek is mal oor blomme en raak maklik geïnspireer. Dit wil ek definitief skilder, dink ek, en begin summier wonder hoe ek die kleure gaan meng.” 

Op ‘n spesiale dag skep sy ‘n prentjie wat met dié dag verband hou, soos ‘n portret van Madiba op Mandela-dag, of iets wat pas by Vrouedag. Sy werk meestal van foto’s af, en daarvoor is haar selfoon immer byderhand.

Die formaat kan skielik verander, soos toe sy op ‘n dag haar prentjies sirkelvormig begin skilder het, byna soos  petite Victoriaanse portretjies.           

Gawe ontdekking

Dié gebore Pretorianer het in Tzaneen grootgeword. Sy is ‘n middelkind tussen ousus Annerina (26), ‘n fotograaf, en Chrisjan (20) wat inligtingtegnologie aan Noordwes Universiteit studeer. Pa Johan is ‘n korporatiewe sakeman en Ma Christa ‘n fisioterapeut wat interessante brode bak en op ‘n avokadoplaas, Camelot, boer. Haar skoolopleiding was aan Doringkloof Laerskool, Tzaneen Laerkool en Hoërskool Merensky.

 “Ek het myself nooit gesien as kunstig nie,” erken sy. “My ousus Annerina was altyd die kunstenaar wat met waterverf en olieverf geskilder en beeldhouwerk gedoen het. Ek was besig met kultuur en sport, ballet en drama. Vir ‘n tyd lank wou ek ‘n aktrise word.”

Ná matriek het sy ‘n jaar lank as au pair in Bilthoven, Nederland gaan werk – nie haar gelukkigste dae nie.

“Skielik moes ek die verantwoordelikhede van ‘n grootmens dra, Al het ek lief geraak vir die twee kinders, was die ouers baie moeilik. Ek het my toevlug geneem tot teken. In my tas het ek op ‘n boekie met leë bladsye afgekom, maar ek kon nie dink hoe dit daar beland het nie. In my vrye tyd het ek begin om te krabbel met ‘n balpuntpen, blitsige klein illustrasies. Die een het gelyk soos ‘n olifantjie – wat my verras het. Ek het aangehou daarmee, maar nog nie begin verf nie.”

Terug in Suid-Afrika het haar suster haar gewys hoe om met waterverf te werk.

“My eerste probeerslag, vyf jaar gelede, was baie lelik. ‘n Meisie op ‘n fiets. Maar ek het my medium ontdek en aangehou. Ek wil graag ‘n portfolio opbou van my werk.”

Vir haar finalejaarsprojek as onderwysstudent aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom moes sy ‘n kinderboek skryf en illustreer. “Ek het gehoor dis moeilik; ‘n mens kry nie sommer ‘n onderskeiding nie. Vir my kinderboek met die titel Benjamin and the Secret Garden kry ek toe 92% en die kommentaar: ‘consider publishing’! Ek sien uit waarheen die Here my lei met kinderboeke…”           

‘Waterverf bied wonderlike vryheid om skeppend te wees met baie tegnieke vir vele teksture’

 Tuinateljee

Die naam van haar besigheid, Vos&Ink, was die ingewing van haar man, Heinrich Günter (28). “Toe ons ontmoet het, het hy my Vos genoem omdat my hare so lank soos ’n vos se stert was. Hy lewer heeltyd inspraak by my onderneming en toe ek begin wonder oor ‘n naam, het hy dadelik Vos&Ink voorgestel. Dit werk net.” 

Heinrich was twee jaar lank ‘n argitekstekenaar en teken steeds huisies in sy boekie vir hulle. Deesdae is hy ‘n sanger en kitaarspeler met die verhoognaam Faraway George, wat sake in die sangkompetisie Die Kontrak op VIA-kanaal uitgespook het.

Tydens haar studies in Potchefstroom het sy ‘n kursus in grafiese ontwerp deeltyds gedoen. Een van die dienste wat sy bied is om bruilof-uitnodigings te skep. 

Tans woon die jong egpaar in ‘n tuinwoonstel in Rietondale, Pretoria, naby die Uniegeboue. Haar ‘buitelug-ateljee’ is ‘n stoeptafel onder ‘n veselglasdak wat ‘n sagte blou skynsel afgee, in ‘n paradystuin, omring deur haar geliefde potplante, Begonias, ‘n Chinese geldplant, twee geraamteplante (Delicious Monsters), Peperomia’s, gesiggies en kaktusse.

“Ek kan die voëltjies hoor terwyl ek werk. In die winter skilder ek binne op ‘n klein lessenaar by ‘n venster in ons kamer. Maar ek verkies ‘n groot tafel met groot oop spasie,” sug sy. 

 

‘Al wat ek ken’

“Ek hou van die persoonlikheid van waterverf,” mymer Alisa. “Wanneer die verf droog is, kan jy dit weer natmaak en voortgaan, dit word nie hard en onplooibaar nie. Waterverf gee my ‘n gevoel in die hart as ek dit sien, want ek weet hoeveel moeite en fyn aandag daarin gegaan het. Dit bied vryheid om skeppend te wees met baie tegnieke vir vele teksture. 

“Mense vra my hoekom ek die ‘moeilikste medium’ gekies het. Ek weet werklik nie, dit is al wat ek ken.”

Sy het wel in ‘n groter formaat ook gewerk, en wys haar botaniese skilderye van ‘n Engelse roos en ‘n magnoliabloeisel – “my gunsteling!” 

In Mei vanjaar het sy haar eerste solo-uitstalling by Grounded at Echo in Villieria gehad. “Dit was suksesvol, met ‘n volwaardige openingsaand. Ek was verras met al die mense wat opgedaag het en ek het baie kunstenaars ontmoet.”

Alisa het ‘n kwartaal lank skool vir graad 2’s gegee by Laerskool Tygerpoort in Pretoria-Oos. “Dit was ‘n tydelike pos en ek het dit geniet, maar eintlik wil ek net verf. Dis so lekker om te kan sê ek’s ‘n kunstenaar!”

Haar ouers ondersteun haar in dié rigting, al was haar pa aanvanklik effens verbaas oor haar beroepskeuse. Sy kon steeds haar onderwysvaardighede inspan tydens werkwinkels vir beginners wat sy saam met ander kunstenaars by Grounded at Echo en in Potchefstroom aangebied het. 

“Ek leer die aspirant-kunstenaars basiese dinge soos die gereedskap wat jy benodig, ‘n paar tegnieke, hoe om kleure te meng. Dis moeilik om kleure te meng – dit verg oefening en het my lank geneem om reg te kry. Verder gee ek hulle kans om wat hulle geleer het toe te pas op ‘n onderwerp, iets soos ‘n blaar.”        

Bruilofmensies

Onlangs, in September en Oktober, was sy op toer saam met Heinrich vir sy optredes in die Kaap.

“Ons het deur die Karoo gery en ek was stomgeslaan deur die kleure, skakerings van geel, die blommeprag met plate aalwyne, vygies en madeliefies in Namakwaland. Vakansie was dit nie, maar ek het alles ingedrink.”    

Onlangs het die sanger Chris Chameleon en sy aanstaande, Daniella Deysel, Alisa opdrag gegee om klein poskaartgrootte portrette van hul bruilofsgaste te maak.Die eindresultate is vars en uniek, geskenke van die bruidspaar aan hul gaste.

“Dit was ‘n uitdaging om die essensie en karakter van elke persoon en paartjie vas te vang, Ek werk van so vier foto’s vir elk af om die vorm van die gesig, wenkbroue, mondstand en oë te kry. Ek het almal vorentoe laat kyk en wou nie te veel rondspeel met profielaansigte nie…” 

Alisa keer graag terug na die familieplaas, ‘n paar keer per jaar, waar sy rustig kan verf – “veral die plante”. 

Oor haar gunstelingkleur moet sy eers tob: “Sjoe. Kleure… daar’s soveel waarvan ek hou…  wynrooi en diepgroen. Maar mosterdgeel is my absolute gunsteling.”   

Sy raak opgewonde oor waterverfkunstenaars van die buiteland op Instagram. ‘n Kleintydse invloed is die Britse kinderskrywer en illustreerder Beatrix Potter: “Ek het met haar stories groot geword en geniet steeds haar kostelike skryfstyl en illustrasies van diere.”

‘n Teksvers wat haar verryk, is Filippense 4:8: “… alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees – bedink dit.”

2018-10-31T18:26:24+00:00