Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Die kerksaal was stampvol gepak. Oupas en oumas, ouers en die 50 laerskool kindertjies het op ‘n loom agtermiddag opgewonde gewag. Vir oulaas is weerbarstige kuiwe platgevryf en kouse opgetrek. Ons Karoo-skooltjie sou sy eerste prysuitdeling aanbied en die energie vir hierdie amptelikheid was tasbaar. Vanwaar ek en pa Jan sit, kon ons Dawid en Darius sien. Kort-kort leun Dawid vorentoe uit sy ry uit en maak groot oë vir ons. Duidelik was hy beïndruk met die formaliteit en plegtigheid van die aangeleentheid, terwyl Darius met ‘n bleek gesig strak voor hom gekyk het, sy gedagtes vasgekeer by die woorde wat hy van sy gedig moet onthou. Die name van elk van die kinders word gelees as ‘n geleentheid vir erkenning en om ‘n meriete-sertifikaat te ontvang.

“Darius Möller gaan nou vir ons sy gedig voordra”, ruk die skoolhoof se stem my tot die werklikheid terug. Ek sien hoe hy stadig uit sy stoel vorentoe stap en sy hande aan sy broek droogvryf. My hart klop soos hamerhoue in my bors en my mond voel droog. Ai boeta, dink ek, ek hoop jy hou jou fokus…

Die eerste paragraaf verloop vlot. Sy stem is hard en helder en hy leef hom in by die woorde wat hy sê. Die gehoor skaterlag vir sy vertolking en ek begin so effens ontspan. Dit gaan goed. Halfpad deur sy tweede paragraaf sien ek hoe sy oë onseker begin rondkyk. Hy stop dood, sluk swaar. Kyk beangs na agter waar juffrou in die gordyne staan. Hy sak sy kop in sy hande en ek sien die trane is naby. Hy stotter weer ‘n paar woorde,  maar ek kan hoor die woorde en paragrawe is deurmekaar. Hy hardloop van die verhoog af in Juffrou se arms in.

Vir ‘n rukkie is dit doodstil in die saal. Dan kom hy met ‘n strak gesig agter die gordyne uit en neem weer sy plek in. Hy begin weer van voor. Die woorde tuimel haastig oormekaar tot hy uitgegiet en verslaan van die verhoog afstap.

‘n Paar dae later ry ons die veld in om ‘n pyplyn te grawe vir ‘n nuwe krip. Ek en die honde wag in die bakkie, my gedagtes die hele tyd by die seuns in die koshuis. Darius se skaam-kwaad vir homself omdat hy weet hy kon lag-lag die gedig voordra. Wat my wel opgeval het, was dat hy nooit verskonings gesoek of iets blameer het vir sy vaal vertoning nie. Hy het sy pakkie gedra, sy ken opgelig en weer probeer. Al kon hy ‘n beter vertoning lewer, het hy aangehou. Terug gekom en weer probeer. My oë tuur in die veld toe ek die boom hier strak voor my sien staan. ‘n Stomp van ‘n boom wat jare gelede omgeval het met die helfte van sy wortels wat in die lug staan. Uit die stomp groei twee nuwe bome kiertsregop boontoe. Net nooit opgegee nie.

Leer jou kind

  • Swaarkry leer ons om te volhard – aan te hou, weer te probeer!
  • Volharding lei tot ‘n betroubare karakter.
  • Dit laat ons weer uitsien na wat die toekoms inhou, maw wat kan van hierdie les kom?
  • Ons hou aan hoop omdat die Heilige Gees in ons harte werk. (Romeine 5:3)

Lees meer:

 “Kweek kinders met karakter”deur Hettie Britz. ‘n Immergroen ouerskap boek vir elke ouer wat dit beter wil leer doen.

2018-10-31T19:48:35+00:00