Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Jy hoef nooit te dink jy is alleen in jou stryd nie. Want dit wat jy so intens en persoonlik ervaar, is dikwels die mees universele.

Ons is almal skaam oor iets. En hierdie wegsteekding kan een van baie wees: dinge soos die donker van ons depressie, die stryd wat ons teen versoekings het, die manier hoe ons oor ander dink, ons eie swakhede en droogmaakdinge … En natuurlik wil ons nie hê die hele wêreld moet daarvan weet nie. Ons werk immers kliphard om ’n goeie, gesonde en gebalanseerde menswees-beeld voor te hou. En nou? Nou worstel ons maar so alleen-alleen met hierdie dinge wat deel is van ons lewens.

Miskien help dit jou om vandag net weer te onthou dat jy nooit alleen in jou gebrokenheid hoef te voel nie, want dit wat jy ervaar, word deur baie ander ook beleef. Jy’s nooit alleen in jou stryd nie. Niemand van ons se situasie en emosies is so uniek dat dit nie ook deur ander beleef word nie. Langs ons, iewers in ons gemeenskap of kring, sukkel iemand anders met presies dieselfde kwessies. Beleef daardie persoon ook die emosies wat ons het; is hy/sy ook verleë oor die donker kolle in hulle lewens.

Henry Nouwen skryf in sy boek, “Discernment”, dat ons hierdie kragte van die donker net kan aanvat deur baie naby aan die Lig te leef. Deur keer op keer na die Lig terug te keer. Oor en oor te erken dat my eie gebrokenheid maar net te groot is om self te hanteer en regop te bly. Daarom gee ons dit telkemale oor in die hande van die lewende God. Die Een wat elke kraak in ons mondering ken, elke donker skadu in ons lewe raaksien en dan kies om saam met ons in ons menslike stryd te wees. Ja, God draai nie Sy rug op ons stukkendwees nie. Veel eerder hou Hy Sy hand uit om ons op te help, koesterend vorentoe te neem … saggies na die lig te lei.

Dalk weet net jy van jou besondere stryd. Jy … en die Vader. Die Een wat jou, ondanks alles, oneindig lief het en jou weer en weer Sy lig sal wys. Gaan sit daarom elke dag in die teenwoordigheid van die Een wat nie skaam oor jou is nie, maar kies om saam met jou die pad te loop. Kies om jou lief te bly hê. Ondanks.

In u lig
Ag Here
U ken my so goed!
Hoe kan ek iets vir U wegsteek?
Dink dat U verby my sal kyk?
U Woord sê dan soveel keer
dat U juis gekom het
vir skerwe-mense soos ek.
Dankie Vader,
dat U
juis in my stryd by my is.
In die donker by my kom sit
en my keer op keer daaraan wil herinner
dat ek U s’n bly
en dat geen donker
teen u lig kan kers vashou nie.
Help my juis daarom
Om lig te wees.
Veral
lig te leef!

Laat niks jou ontstel nie

Sonde en stukkendwees sal nooit deur God goedgekeur word nie. Daarvoor is Hy te lief vir ons en wil Hy hê dat ons altyd saam met Hom daarteen sal stry. Tog laat dit mens beter voel wanneer ons hoor hoe Paulus ruiterlik erken dat hy sukkel om die goeie te doen – dat sy stryd teen menswees intens en voortdurend is. (Gal 5:17)

Vind vandag saam met my troos in die woorde van St. Teresa, “God alone is enough.”

Let nothing disturb you / Let nothing frighten you. / Those who cling to God / will lack nothing / Let nothing disturb you / Let nothing frighten you / God alone is enough.

Ja, laat niks jou ontstel nie, want Hy wat aan God vashou, kom niks kort nie. God alleen is genoeg. Veral vir jou.

Boodskap: “Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy liefde het geen einde nie. Op u ontferming kan mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut.” Klaagliedere 3:22b-23
2018-09-30T09:37:44+00:00