Pitkos & padkos om jou kind oor God te leer.

Ons lewe op ’n wolplaas is vol afwisseling en opwinding, maar ook die geroetineerde gang wat die seisoene en die natuur van jou vereis. So weet ons al as die dae begin langer word – al is die wêreld om ons nog vaalgrys en stowwerig – dat daar skielik die verruklike verrassings van veldblomme op die kaalste vlak sal staan, dat daar jong wit lammers sal bokspring agter skoenlappers aan, en dat die swane hulle groot neste sal pak en hulle swaar lywe op die stokke sal opkrul vir die lang wag op nuwe lewe.

Dis ook die tyd, hier in die vroeë lente, wat ons die lammerooie skeer. Gewoonlik is die weer al aan die warm word en kan ons gerus slaap dat die skape versorg is en ook gemaklik is vir die warm somer wat voorlê. Maar ai, die jaar lyk die weer patrone mos heel anders! Toe die skeerspan met hulle kooigoed en slypstene op die werf afpak, toe skraap ons nog ryp en kapok van die bakkie se ruite af. Soggens as ons die grondpad aandurf skool toe, draai die temperatuur by minus een grade rond. Die kinders se asems stoom en ons vingers trek blou-blou die baadjies stywer.

Een oggend lê die kapok so twee sentimeter dik op die grasperk. Die skape maal rusteloos in die kampie rond. Ek steek ’n koue vinger in die boer se sy en vra bekommerd, “Wat van die skapies? Ons kan sekerlik nié in hierdie weer skeer nie?” en steek sommer ’n lang relaas af van hoe ons goeie rentmeesters van ons diere moet wees. Pa Jan knik instemmend. Soos hy altyd doen wanneer hy my laat begaan … Maar steeds word die skêre geslyp en die ooie in die skeerhokke ingejaag. Die seuns kyk bekommerd toe en draai na hul Pa. “Nee wat seuns,” se Pa Jan gerusstellend. “Solank hulle magies vol bly kan dit maar koud raak. Die wolvesels is so effektief dat al is hulle kort, hulle steeds die skaap kan warm hou. Ons moet net bid dat daar nie ’n koue wind opsteek nie.”

My hart hoor weer die waarheid wat ons geestelike lewe aanbetref. As jy van binne gevoed is, kan jy die felheid van buite weerstaan. Alles kom van binne! Gesondheid, skoonheid, geluk, geloof. Te dikwels probeer ek met fisiese en tasbare elemente my kinders, en selfs my wêreld, gesond en gelukkig hou. Maar dis die woorde van Ann Voskamp wat perspektief bring: “Without His Word, theworld warps”. Sonder God se Woord wat ons van binne voed en ons harte op Hom rig, kan níks wat die wêreld bied, ons geestelike welstand verseker nie en trek die prentjie skeef. My werk is om my kinders daagliks met God se waarheid en Sy Woord te bedien – dan kan die koue winde van chaos en verwarring maar waai! Ek weet immers Sy Woord sal nooit leeg terugkeer nie, en sal ’n skans teen die koue bied. “Elke Woord van God is getoets. Hy beskerm elkeen wat beskerming by Hom soek.” Spreuke 30:5

Leer jou kind

  • God se Woord is soos medisyne. Dit werk van binne af om ons gesond te hou.
  • Net soos ons daagliks gesond moet eet en leef om ons weerstand sterk te hou, so moet ons daagliks God se Woord bestudeer om ons harte sterk te maak.
  • Ons lewens is soos ’n tandepasta buisie. Wat binne ons is sal uitkom wanneer die lewe ons druk!
  • Omring jou oë en gedagtes met dinge wat edel, mooi lieflik en loflik is. Bedink dit. Kyk doelbewus weg van die sonde en kwaad.

Lees meer:

“Waarheen met die nuwe wyn?” deur Christo Nel www.nuwewyn.co.za

2018-09-30T09:39:52+00:00