Kuier by

Droomhuis

Deur Christine Ferreira | Foto’s Hanneri de Wet

Liz en Chris van der Merwe se huis in Zwavelpoort aan die Oostekant van Pretoria is ’n viering van hul liefde vir die Franse platteland.

’n Laning koeltebome lei jou na die groot houthek en klipmuur wat die van der Merwe’s se huis netjies wegsteek. Hoewel die huis in ’n gemeenskapslandgoed lê, voel jy asof jy iewers ver van die stad af kuier. Daar is oorgenoeg spasie tussen die erwe om ’n amper-plaasgevoel te skep.

Vroegoggend heers daar ’n rustige atmosfeer. Die tuin is nog nat van die dou en tortels koer lustig in die bome. Sommer met die intrapslag besef jy hierdie is ’n gesinshuis. Die eerste reën van die seisoen het pas geval en die grasperk is lowergroen. Die laning vaderlandswilge, groot roostuin met meer as ’n honderd roosbome en olyfboord herinner aan ’n plaastuin van ouds.

“Ons is buitemense. Alles draai vir ons om die tuin” vertel Liz, (45), ’n ma van twee dogters, Megan (9) en Olivia (6) is ook besigheidsvrou en eienaar van die Zau Spa in Cullinan.

Ons kuier gesellig om die kombuistafel. Liz bederf ons met ’n tuisgebakte sjokolade en roosmaryn-briochebrood en koffie. “Ons het sowat ses jaar gelede ingetrek. Dit was ons droom om ’n huis te bou wat aan die Franse platteland herinner. Ons kuier gereeld in Provence waar my sus ’n huis het.”

Die huis leef na buite. Soggens vroeg word al die vensters en deure wyd oopgegooi vir die sonlig om na binne te stroom. Daar is ’n lang tafel wat op die swembad uitkyk en ’n oop stoep waar naweke gebraai en gekuier word.

Die gesin se twee Jack Russels, Jack en Russel, lê rustig op die gruis en slaap en steur hulle nie eens aan die besoekers nie. “Ons braai die naweek om en is groot aanhangers van Jan Braai. Die droom is om ’n hothouseaan te bou waar ons kan groente en plante kweek. My man, Chris, maak sy eie saailinge en spesiale kompos.”

Regdeur die huis is tekens van hierdie liefde vir Frankryk sigbaar. Van die boustyl tot die dekor. Die hoendermotief wat soms tong-in-die-kies na vore kom, is opvallend. Daar is van ’n skildery wat ’n vriendin geskilder het as ’n verjaarsdaggeskenk vir Liz tot vrolike ornamente wat aan die Franse haansimbool herinner. “Die hoendertjies sê vir my iets van Frankryk.”

“Dit was ons droom om ’n huis te bou wat aan die Franse platteland herinner.”
Die laning vaderlandswilge, groot roostuin met meer as ’n honderd roosbome en olyfboord laat jou dink aan ’n plaastuin van ouds.

Kleurvol

Liz se passie vir kleur kry vergestalting in die vrolike muurpapier in die sitkamer, hoofslaapkamer en die gaste-badkamer. “Die inspirasie vir die kleurvolle muurpapier in die sitkamer kom van ’n kombers wat ek gehekel het. Ek kan nie genoeg van die kleur kry nie!

“Alles het begin by die deure. Ons het vyf jaar lank elke jaar ’n Indiese deur gekoop voordat ons begin bou het. Die ontwerp van die huis het hiervandaan ontvou.”

Saliegroen en bottergeel is op aksentmure regdeur die huis gebruik. “Ons wou verder met tekstuur speel. Muurafwerkings wissel van baksteen tot pleisterwerk en in die kombuis is van die mure met gips gepleister om ’n growwe en interessante tekstuur te skep.”

Liz se liefde vir kosmaak sorg daarvoor dat die kombuis die hart van die huis is. “Naas die venstersitplek, het ek ook ’n spesiale rak vir al my resepteboeke laat insit. Ek wou hê dat gaste sommer hier in die kombuis moet kan sit en kuier.”

En vanuit die kombuis betree mens ’n binnehof met ’n fontein en watertenk, die ideale wegkruipplekkie om vroegoggend ’n koppie koffie in stilte te geniet …

2018-09-29T19:21:26+00:00