As ons in die lig wandel … het ons gemeenskap met mekaar en die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde. – uit 1 Joh 1:7 NAV

Sommige glo dat jy nie sommer moet toegee dat jy verkeerd was nie – jy moet aanhou stry dat jy reg was! So behou jy die een of ander oorhand. Of so dink hulle. Mense weet wel as jy verkeerd is – en dan nog onleerbaar en onvolwasse ook! In elk geval, dis ’n groot tema in die Bybel dat ons ons foute moet kan erken – teenoor die Here, maar ook teenoor mekaar. Die Bybelse woord daarvoor is “belydenis”, wat nogal oulik saamgestel is: die Grieks, homologein, kom vanuit woorde wat “dieselfde” en “praat” beteken en dui op iets soos “saamstem”, om te erken. Dit verg volwassenheid, hoor, as iemand sê dat jy verkeerd was en jy kan saamstem! Ja, soms is dit pynlik.

O, maar die voordeel! Belydenis veronderstel selfkennis, insig in waar die donker lê, die foutlyne. Belydenis bring ontlading en genesing – dit haal die prop af, dit gooi die vensters oop, dit sit die las uiteindelik neer. Belydenis is groei, want dit wíl groei en dit gee die eerste tree na groei toe, naamlik om te sê: “ek het ’n probleem”. Belydenis is die omdraaipunt wat ons bekering noem, waarop vergiffenis kan volg, versoening. Belydenis hou ons nederig en geaard. Ons bedoel natuurlik nie ’n neurotiese sondesoekery nie, maar gesonde selfkennis, eerlike uitpraatsessies – met God en ander – en die groei wat daaruit volg, die volwassenheid, die nuwe verhoudings. Nee wat, bely gerus, erken maar – stem saam!

Gebed

Help my myself ken, Here. Skyn u lig in my donker!

Aanhaling

Die belydenis van verkeerde werke is die eerste van jou goeie werke. Augustinus

Besoek www.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

2018-09-30T09:42:25+00:00