Lééf met oorgawe

Die krag van kleur

Deur Jacqueline Leuvennink Foto’s Hanneri de Wet & Pexels

Kleur is veel meer as waarna dit op die oog af lyk. Dit help vorm en skep ons leefwêreld en bepaal dikwels die stand van ons bui en binnewêreld.

Ons leef in ’n wêreld van kleur. Waar ek en my man tans in een van die aarde se rykste blomtuine woon, is dit die ene spikkels kleur en tekstuur as jy deur die fynbos berg-op beweeg. En draai jy jou neus see se kant toe loop jy jou weer in ’n omhelsing van groen en blou vas.

Op vroegsomerdae vertel heide van ’n nuwe seisoen wat in die veldtuin vorm, sien jy perdalks ’n Kaapse flap hom geel uitpof as hy van bos tot bos flankeer. Orals bring klein blommetjies en ewe klein voëltjies kleurverrassings. Solank jy net nie haastig is nie. En bereid is om soos digter Sheila Cussons die beskeie roosmaryn te ag wat “so dwarsdeur rein is”, dikwels bloei en “duisende klein introspektiewe pers gedagtetjies” dink.

Sien die mooi

Skil dinge en plekke soos ’n sagte, rooiryp vy tydsaam af. Gaan lê op jou rug in ’n rivier. Daar waar stroomversnellings in diep, donker poele verstil. Of gaan sit in die groen asem van ’n botaniese tuin. Want die lewe se kleurvolle kinkels en kabels kan soms teisterend wees. Vandaar kunsmuseums se stil, wit mure. Plekke vir die oë om te rus. Want alles het ’n kleur.

Selfs dae wanneer die wind alles uitrafel en die see homself soos ’n uitgewaste, wapperende denimblou lap om als drapeer.

Ook ’n gedagte het ’n kleur, skryf Rona Rupert jare gelede. Sy het bruin ervaar as die kleur van aanhou en uithou, tot sterwens toe, en ook die kleur van glo. Die kleur van geloof wat aanhou hoop tussen die niksgroei deur. Hoop op die wonderwerk van reën – sodat die vygies die gelyktes vol oranje kan strooi en alles wat so rég is om te groei, oornag in die grond begin roer.

Ook seisoene is gekleurd. In ’n bergdorpie soos Hogsback in die Oos-Kaap gloei die bladwisselende ambers, Amerikaanse moeras-eike, esdoring-en berkebome in April en Mei in ryk herfskleure tussen die groen ruigtes. Teen Julie is dieselfde bome statige, grys spoke teen die koue winterlug, ruik jy die geur van houtvure en rietdakke, voel jy die sneeu se stil, wit asem wat alles in ’n ommesientjies kom verander.

En dan kom die lente met sy oornaggroen en massas bloeisels, rododendrons en asaleas – van salm-en koraal gekleur tot koraalrooi en yswit … en flits seldsame skoenlappers op Ghaika-kop in koorsmooi kleure.

Lig uit lig

In die Middeleeue is die intense, ryk kleure van katedraalvensters as ’n voorsmakie van die hemelse Jerusalem beskou. Vir die Afrikaans-Joodse digteres Olga Kirsch was dit behoorlik of rooi, geel en blou uit die ruite vlam waar sy as klein kind verwonderd aan haar pa se sy in die sinagoge gestaan het terwyl die kantor se stem “yl en soet” soos wierook omhoog gestyg het. “En ek staan gedruk vas teen jou knie en bewe van geluk … ”

Fotograwe tas vergeefs na woorde as hulle oor die kwaliteit van vroegmôre-kleure begin uitwei. En laatmiddag, daardie magiese uur wanneer die lig weer versigtiger oor die landskap begin streel en dit ’n skamele rukkie in kleur begin gloei, laat hulle ook na hul kameras gryp. Vir Sheila Cussons word als dan ’n “blou en koper floute in die diep namiddagson.” Selfs klippe kan skatkamers van kristalle vol “splinterheerlikheid” word, neem digter Wilma Stockemström waar.

En dan kom die lente met sy oornaggroen en massas bloeisels, rododendrons en asaleas …

Die kleur van onthou

Herinneringe is dan ook dikwels “oorstelp gekleur”. Soos ons jongste se grysgroen oë waar hy my as kleuter maan om hom nie te styf vas te druk nie – “onthou, ek is die smalste in die huis.” My Sotho-vriendin in haar rolstoel, haar glimlag onder ’n eiertjieblou kopdoek ná die ongeluk steeds wit en wyd. Ons gesinshond se blymoedige bruin oë soggens voor my bed. ’n Bleek wintersoggend saam met ons oudste, toe pas twee, in die Kaapse kultuurhistoriese museum. Agterna stap hy met sy rooi reënsteweltjies uit hierdie skatkis van ontdekkings en sug: “Nou is ek uitgeput van opgestopte diere … ”

Cussons sien haarself ook nog waaghalsig nael in ’n kleindorpse bekrompe Spaanse gemeenskap om haar dan, kop omlaag, vas te loop “teen die hele Maandagwasgoeddraad se haelwit selfgeregtigheid”.

Hoogmoed en skynheiligheid is gekleur. Witwarm woede ook.

Kleur bepaal op soveel maniere hoe ons ’n plek beleef. Van ’n see-huis skryf ek: “Hierdie houthuis, met sy ingehoue kleure van rots, klip, duin, lug en water, is luuks in ligging en eenvoud. Bedags maak vollengte glasvensters en deure oop op die buitewêreld waar die buurhuise se dakke groen en blou en rooi lê en veldblomme geel en pers kolle gooi oor die duin voor die huis. Snags sluit wit Amerikaanse luike dig teen donkerte en storms.”

Met haar aankoms by die Patriot Hills-basiskamp in Antarkte skryf ’n vroue-avonturier in haar dagboek: “Die blou ys op die aanloopbaan is miljoene jare oud en seepglad soos natgemaakte ysblokkies uit die vrieskas. Rondom my is alles vreemd. En wit.”

Kleur in die Bybel

Die profetiese betekenis van kleure kan ’n wêreld vir die gelowige ontsluit. Blou staan vir vrede en geregtigheid; vrede met God, jouself en ander mense. Volgens Eksodus 24:10 het God by Sy ontmoeting op die berg met Moses op iets gestaan wat soos ’n vloer gelyk het wat met saffiersteen uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug.

Antieke Joodse geskrifte sê dat die oorspronklike tablette van die Tien Gebooie ook van saffier was. Die afleiding kan gemaak word dat die Heilige Gees ons as’t ware al dieper intrek in die onpeilbaar dieper blou dinge van God.

Hoeveel waarde God self aan kleur heg, is duidelik waar Hy vir Moses in Eksodus 25 sê dat die Israeliete vir Hom geskenke na Sy blyplek toe moet bring. “Die geskenke kan van goud, silwer of brons gemaak wees, van blou, pers of bloedrooi wol, van linne, bokhaar, rooigekleurde velle … ”

2018-09-29T13:04:04+00:00