Boekgesprek

Lééf gesels met die gewilde skrywer, Milanie Vosloo, oor haar dagstukkieboek, Moed vir elke môre, wat nie net ’n vars nuwe baadjie dra nie, maar ook in Engels vertaal is met die titel Take Courage, Dear Heart

Vraag: Milanie, waar het jou liefde vir skryf begin?

Antwoord: Ek’s ’n gewone vrou wat elke dag bewus is van enorme genade en met dankbaarheid oor baie dinge leef. Alhoewel ek die afgelope 34 jaar voltyds my besigheid, Uppe Marketing, bestuur, het dit 18 jaar gelede vir my ’n passie geword om spontaan uiting te gee aan my belewenis van God se genade en liefde. My gebed is dat die Gees self deur my menslike woorde ander met Sy lig sal aanraak en inspireer.

Vraag: Moed vir elke more is nie ’n splinternuwe boek nie, maar het ’n nuwe baadjie aangetrek vir 2018? Hoekom dink jy is die tema van die boek nog steeds so relevant na soveel jaar?

Antwoord: Die lewe is vir niemand van ons net maklik nie en op ’n manier het ons almal – soms meer as ander kere – moed nodig om met oorgawe te leef. Hierdie boek gee dan ook perspektief, wysheid en inspirasie vir verskillende situasies en aspekte van ons gewone menswees.

Vraag: Dit is baie interessant is dat hierdie pragtige boek ook nou in Engels beskikbaar is onder die titel Take Courage, Dear Heart? Wat het jou laat besluit om die boek ook in Engels beskikbaar te stel?

Antwoord: Hier kan ek net my uitgewer, Sua du Plessis van CUM, al die krediet gee. Sy het die behoefte in die mark raakgelees, die boek laat vertaal en ook daaraan meegewerk dat die boek in Amerika uitgegee word.

Vraag: Vir watter tipe vrou is hierdie boek geskryf of is dit relevant vir almal, jonk en oud?

Antwoord: Die temas in die boek is universeel en van toepassing op ons almal. Die terugvoer wat ek kry is dat die boek deur duisende vroue, van 14 tot 84 gelees word. Ek glo dat ons – ongeag wie en wat ons is en hoe oud ons is – almal maar dieselfde drome, strewes, uitdagings en emosies het. Moed vir elke more praat daarom met ons almal.

Vraag: Jy wil graag met die boek vroue inspireer om elke dag met moed en oorgawe aan te pak. Watter tipe moed praat jy van in die boek?

Antwoord: Ons het moed nodig om ons drome te leef, ons dagtaak te vervul, ons gesinne met liefde, geduld en wysheid te versorg en sommer net daaglikse uitdagings met vertroue en deursettingsvermoë aan te pak en deur te voer. Maar ons het ook moed nodig om te glo én te twyfel, te lag én te huil, bang te wees, maar dan steeds vorentoe te beweeg. Moed vir môre inspireer die lesers om, onder alle omstandighede, met dapperheid die lig te bly soek.

Vraag: Hoekom dink jy voel vroue dikwels mismoedig of oorweldig?

Antwoord: Omdat vroue, selfs in ons moderne eeu en ten spyte van ’n voltydse beroep, die kern is waarom haar gesin draai. Sy is steeds die een wat fisies, emosioneel en geestelik haar mense (by huis, werk en in haar gemeenskap) op verskillende maniere moet dra. Daarbenewens loop baie vroue op verskillende maniere ’n pyn-pad: ’n reis waarop sy daagliks bemoediging nodig het.

Vraag: As mens die boek lees, is dit duidelik – dit is vir jou belangrik dat vroue hul vrouwees koester en dat hulle die lewe reguit in die oë kyk? Wat beteken dit vir jou om jou vrouwees uit te leef? En waar pas God in by vrouwees?

Antwoord: Om vrou te wees beteken jy het ’n duisend fasette, vermoëns en talente ontvang. Jy het die vermoë om tegelykertyd rotsvas en broos te wees. Juis daarom het ons die voorreg om op ’n besondere manier iets van God se krag en Sy sagte hart te demonstreer.

Vraag: Wat het jou die meeste inspireer terwyl jy die boek geskryf het?

Antwoord: My eie pad van val en opstaan; van onseker wees en tog berge klim, van hartseer beleef en dan op ’n besondere manier Sy hand te voel. Hierdie dinge en die gawe van die Gees maak dit so maklik om uitdrukking deur woorde te gee.

Vraag: Wat was vir jou die grootste uitdaging met die skryf van die boek?

Antwoord: Alhoewel ’n mens geïnspireerd moet wees om te skryf, lê die grootste uitdaging om aan te hou … om, wanneer jy reeds 250 unieke dagstukke geskryf het, vas te byt en dieper te delf totdat jy 366 stukke het. Skryf is heerlik maar dis verseker ook ernstige “sweet-tyd”.

Vraag: Die omslag en illustrasies in die nuwe uitgawe en die Engelse uitgawe is pragtig gedoen. Hoe het dit gevoel om die eerste kopie van die “nuwe” boek in jou hand vas te hou?

Antwoord: Sjoe, selfs na 20 boeke, huil ek nog spontaan in oorstelpte dankbaarheid wanneer ek die eerste gedrukte weergawe in my hand hou … verstom oor wat God gedoen het toe ek maar net bereid was om Hom te hoor en gehoorsaam te wees.

Vraag: Laastens, is daar enige toekomstige boeke in beplanning?

Antwoord: Ek is besig met ’n splinternuwe dagboek wat, DV, in Oktober 2019 die lig sal sien. Baie opgewonde daaroor.

Moed vir elke more en Take Courage, Dear Heart deur Milanie Vosloo word uitgegee deur CUM Christelike Uitgewersmaatskappy.

2018-09-30T14:57:25+00:00