Kuns van Lééf

Suikerkuns

Deur Amanda de Lange | Foto’s Hanneri de Wet

Elli Saayman se liefde vir suikerblommetjies het ’n omwenteling in haar lewe teweeg gebring. Iets wat as ’n stokperdjie begin het, het vinnig omgesit in ’n winsgewende besigheid.

Suikerblommetjies is wat Elli Saayman se oë laat skitter. Dis wat haar opgewonde maak en uitdaag, wat haar laat voel sy léwe. Dít, en om koeke te bak en te ontwerp wat die ontvangers daarvan hul hande in vreugde laat saamslaan.

“My ouma het altyd Kersfees vir elkeen hul eie pakkie koekies present gegee. Daardie ding van om gebak te ontvang en te geniet – dís wat vir my lekker is. En nou kan ek dit vir ander doen,” vertel sy.

Die pad na sukses

Maar die pad na bakster van formaat het nie oornag gebeur nie. Dit was ’n interessante reis met ’n hele paar onverwagse draaie in die pad. Elli (30) het altyd gedink haar roeping is om die Here te dien deur by haar kerk te werk.

“Dis mos die mees logiese manier van dienslewering, nie waar nie?” sê-vra sy met ’n skewe glimlag terwyl haar blou oë blink. Sy het haar reis by die kerk begin met die kinderbediening, wat later oorvleuel het met werk in grafiese ontwerp by die kerk tot laasgenoemde later ’n heeltydse werk by die gemeente geword het. Tussendeur, in haar vrye tyd, het sy haarself met bakwerk besig gehou.

Dit was eintlik haar Duitse herkoms wat alles begin het, verduidelik sy, tussen slukke tee deur. “Ek het begin om Kersfees in Julie te doen. Die koue van die winter maak my lus vir ietsie soets: koekies, glühwein en eend. So, ek het begin om tradisionele Kersfeeskoekies in Julie te maak, en te versier soos ek by my Ouma geleer het op die eg, tradisionele Duitse manier.”

Dit was nie lank nie toe het vriende wat gelukkig genoeg was om saam aan dié lekkernye te smul, begin vra of hulle bestellings kan plaas. Dié bestellings het gelei na versoeke vir makrolletjies en koeke en uiteindelik ’n spesiale verjaardagkoek vir ’n vriendin. Daarvandaan was dit die een bestelling op die ander. En toe Elli haar oë uitvee, toe moes sy ’n keuse maak tussen werk by die kerk en heeltyds bak.

“Ek het drie jaar by die kerk gewerk en ek het werklik gevoel dit was my roeping. Dit was nogal vir my moeilik om te besef dat om heeltyds by die kerk te werk, dalk nié was wat die Here vir my in gedagte gehad het nie. Dit was vir my ’n baie groot stap om by die kerk te bedank en dit het heelwat gebed en nabetragting geverg.

“Ek was heel skrikkerig oor die groot stap, maar wat uiteindelik die deurslag gegee het, was die ondersteuning van die mense om my. Dit was húlle wat my help verstaan het dat my passie by die koeke lê. My oë het geglinster wanneer ek daarmee besig was. Ek was opgewonde en vol energie. Aan die ander kant was die grafiese kuns meer meganies. Dit was nooit iets wat my heelnag sou laat opbly nie.”

“Troukoeke is beslis ’n groot uitdaging. Ek wil graag iets besonders lewer vir daardie paartjie se groot dag.”

Bak vir ’n lewe

Dieselfde kan helaas nie omtrent koeke gesê word nie. Buiten die ure en ure wat sy bestee om die volmaakte suikerblomme te maak, geniet sy die kreatiwiteit van om heerlike geure en smake bymekaar te sit.

“Ek gebruik gewoonlik ’n basisresep, maar dan speel ek met geure. ’n Mens kan ook lekker kreatief raak met die vulsels, en ek probeer om iets te skep wat ’n mens nie sommer in ’n winkel sal kry nie.” Dink aan Nutella en haselneut. Whiskey en heuning. Om net twee voorbeelde te noem.

Sy bly maklik deurnag wakker om ’n spesiale koek klaar te maak. En ook wanneer die nood druk. “Daar is beslis dae wanneer alles verkeerd loop – dit gaan meestal oor tyd. As jy wil hê die koeke moet vars wees, kan jy nie té lank voor die tyd begin bak nie. So, as iets onverwags verkeerd loop, soos dit al dikwels het, dan moet jy maar net oor begin en weer bak. Daar is niks wat jy daaraan kan doen nie, dit is buite jou beheer. Dan werk ek deur die nag om seker te maak alles is betyds reg.”

Elli borrel behoorlik terwyl sy oor haar nuwe loopbaan praat. Haar besigheid, The Turquoise Squirrel Patisserie, was aan die einde van Augustus ’n jaar oud. Sy het haar hande vol met bestellings, soveel só dat sy onlangs ’n assistent aangestel wat haar kan bystaan.

Kyk jy na haar webblad, kan jy verstaan dat sy skaars kan bybly. Haar suikerblomme is asemrowend. Van die groot koningsprotea tot die kleinste, fynste blommetjies, ballonne en selfs skoenlappers, is alles met groot sorg gemaak.

En Elli het haarself geleer. “Ek het een kursus gedoen, verder het ek myself geleer deur aanlyn te kyk en baie, baie boeke te verslind. Ek dink dit is waar my graad in skone kunste my help. Ek kon sien hoe iets gedoen word en myself leer. Dit het baie lank geneem om te leer om dit reg te doen. Aanvanklik het die blommetjies effens eienaardig gelyk, veral as ek nou daarna terugkyk.”

Sy lag, korrigeer haarself dan, “Man, daardie blomme was lélik, al het ek toe gedink dit was koel. Dis maar dat ek daarvan hou om uit te werk hoe om dinge te doen. Uitdagings doen my goed. Wanneer ek iets in my kop kry wat ek wil doen, sal ek aanhou probeer tot ek dit regkry.”

Só was dit dan ook met die proteas wat sy uit suiker maak. “Ek het oral gesoek na iets waar ek kon leer om dit te doen, maar ek kon niks kry nie. Dit is beslis die moeilikste blom wat ek nóg gemaak het – albei, die koning en die koningin. Maar uiteindelik moes ek dit vir myself uitwerk sonder hulp. Ek het net aangehou tot ek dit reggekry het.”

Daai spesiale dag

“Ek doen gewone koeke en ook spesialiteitskoeke, maar die troukoeke is vir my baie spesiaal. Eintlik maar omdat die ontwerp dikwels meer ingewikkeld is en die begrotings groter is. Ek hou daarvan om met suikerblomme te werk en daar is nie werklik aanvraag daarvoor by gewone koeke nie. Dalk soms met ’n baie spesiale verjaardag, maar dikwels laat daardie  begrotings nie toe vir suikerblomme, handgeverfde werk of verskillende lae nie.

“En ek hou van die interaksie met mense. Wanneer hulle my kom sien, neem ek tyd om hulle te leer ken en wanneer ek daarby uitkom om die koek te bak, is dit vir my iets wat baie betekenisvol is. Ek dink dit is ook maar omdat ek van ’n uitdaging hou. Troukoeke is beslis ’n groot uitdaging. Ek wil graag iets besonders lewer vir daardie paartjie se groot dag.”

Elli se betrokkenheid begin en eindig nie altyd net by die lewering van ’n spesiale koek nie. Sy beskou dit as ’n voorreg om van tyd tot tyd die geleentheid gegun te word om inspraak in mense se lewe te hê. “Ek probeer altyd om die paartjie te leer ken wanneer hulle kom om koeke te proe en soms kry ek die kans om bietjie in hul lewens te belê vanuit my eie perspektief. Dis vir my wonderlik om net my klein stukkie goud met hulle te deel van wat ek ervaar het en hoe ek die Here se liefde in my eie huwelik beleef. Dis werklik vir my spesiaal om dit te kan doen en om net deel te wees van hul spesiale dag.

“Ek betrap myself dikwels dat ek oor die koeke bid voor ek dit aflewer.” Sy lag effens. “Dit klink dalk vreemd, maar ek vra net dat dit vir hulle lekker sal wees en dat die dag alles sal wees waarop hulle gehoop het.”

Elli se groot liefde is om suikerblommetjies te maak. Maar haar drome strek veel verder as dit. “Ek sou graag oor die wêreld heen wil reis en my vaardighede met ander wil deel. Ek het nogal ’n hart daarvoor om mense te leer. Dít is my heel grootste droom.”

Vir nou is daar nog nie tyd vir hierdie groot droom nie. Té veel koeke om te bak. Té veel suikerblommetjies om te maak. Maar eendag, ééndag …

Het jy geweet?
  • Die suikerdeeg waarmee suikerblommetjies gemaak word, bestaan gewoonlik uit sukrose en glukose. Soms word daar ook daarna verwys as suikergom, maar dit is nie dieselfde as fondant nie.
  • Suikerdeeg kan gebruik word om ’n koek mee te bedek, en ook om versierings vir koeke te maak – soos die blomme, skoenlappers en ander versierings op Elli se koeke.
  • Suikerdeeg word kliphard en daarom is dit ideaal om te gebruik vir versierings wat uitstaan op ’n koek en ook vir groter blomme. Daarenteen bly fondant sagter, wat dit weer meer ideaal maak vir kleiner blommetjies en versierings.
  • Hierdie versierings kan ook vir langer tye geberg word – soms vir so lank as ’n jaar.
  • Daar is aanduidings dat suikerblommetjies en –versierings tot so ver as die 1600’s terugdateer.
  • Die eerste lekkergoed wat in Kersfeesklappers gebêre is, is van suikerdeeg gemaak, waarop woorde en kort frases aangebring is. (Bron: Wikipedia)
2018-08-31T17:23:54+00:00