Ek deel my hart

‘Nie uit myself nie’

Deur Schalk Schoombie | Foto Hannerie de Wet

Milanie Vosloo, bekroonde sakevrou, geliefde spreker, skrywer en ma, het oor meer as drie dekades in die sakewêreld geleer om met afhanklikheid na die sagte fluistering van die Gees te luister.

As kind was Milanie se passie om te hardloop. Veral langafstande. “Sport was altyd deel van my lewe. My pa was ’n atleet en my grootste droom was om in sy voetspore te volg,” onthou Milanie.

Op 57 pas sy steeds dié fiksheidsdissipiline toe en getuig haar fyn gestalte en goed versorgde voorkoms hiervan. Waarheen sy ook al reis, pak sy haar oefenklere in en bly fiks deur soveel moontlik fiets te ry en litte in ’n gimnasium los te maak. Milanie is getroud met Johan Vosloo, en het twee kinders, Marizelle (30) en Johan (27).

Sy het die Here tydens ’n jeugkamp in standerd 6 (graad 8) ontmoet. “Sedertdien bly dit wonderlik om te ontdek en beleef wat ’n naby-verhouding met Hom beteken. Want dis dán wanneer mens iets van Sy hart leer ken en geloof ’n persoonlike en opwindende reis word.”

 Genade elke dag

Milanie, ’n nooi van der Merwe en boorling van Windhoek, het by Hoërskool Jan Mohr gematrikuleer en daarna gestudeer aan die PU vir CHO (nou Noordwes Universiteit), waar sy ook primaria en Studenteraadslid was.

Ná haar studies het sy ’n jaar by ’n reklamemaatskappy gewerk en toe op die jong ouderdom van 23 haar eie reklameagentskap, Uppe Marketing (Edms) Bpk, begin. Dié maatskappy hanteer ’n wye verskeidenheid kliënte waaronder ook Afrikaans.com, waarvan Milanie die projekleier is.

“As jong sakevrou was daar vele struikelblokke en teenstand. Destyds was vroue in die sakesektor nog ’n ietwat vreemde verskynsel. Boonop was ek bloedjonk, onervare en met ’n gebrek aan ’n mentor was ek vanuit die staanspoor intens bewus van my totale weerloosheid en afhanklikheid van God. Dié afhanklikheid en die opsoek van Sy teenwoordigheid is iets waarsonder ek nie kan leef nie. Die aansteek van ’n kers is vir my die simbool van by Hom wees. Daarom reis daar ook altyd ’n kers saam met my op my sakebesoeke. Aan die einde van ’n uitdagende vol dag, help dit my om stil te word en bewus te bly dat Hy saamreis op al die voetpaaie van my lewe.

“In die moderne gewoel is dit maklik om verby God te leef. Dit help nogal as ’n mens deurentyd bewustelik probeer leef en God raaksien in die gewone dinge: die weerlose blaar van ’n roos, die kekkellag van ’n kleinkind, die postiewe uitkoms van ’n vergadering, die rykdom van vriendskap …

“God ís oral. Ons moet Hom net ráákleef – nie net nou en dan nie, maar in die volle saamstap met Hom. Hom sien en hoor, in Hom leef en toelaat dat Hy in jou leef.”

“God ís oral. Ons moet Hom net ráákleef – nie net nou en dan nie, maar in die volle saamstap met Hom. Hom sien en hoor, in Hom leef en toelaat dat Hy in jou leef.”

’n Sagte oog

“Mense vra my dikwels hoe ek die harde sakewêreld met my verhouding met God kan versoen. Eenvoudig. Ek neem my werk na Hom toe wanneer ek by Hom kuier en Hy gaan daagliks saam met my werk toe. Wanneer jy jou verhouding met Hom geïntegreerd leef, kry mens dit makliker reg om jou geloof en jou werkplek natuurlik te laat saamsmelt. Want dan is Hy deel van jou leefwêreld. Die sakewêreld kan ongenaakbaar wees. Tog kan ’n mens onder Sy leiding met beslistheid, wysheid én sagtheid jou loopbaan ’n ander dimensie gee.

“In die besigheidwêreld word ek gereeld gekonfronteer met kwessies soos eerlikheid, deursigtigheid en etiek. As dit jou ingesteldheid is om te doen wat God van jou verlang, kan besluite steeds moeilik wees, maar iewers langs die pad ontvang ’n mens die wysheid en krag om die taaiste situasie deur te sien en tog die regte keuses te maak.”

Milanie is ’n gedugte onderhandelaar omdat sy glo dat sy in alle gevalle haar kliënte se beste belange op die hart moet dra om van hulle besighede ’n sukses te maak. Sy glo dit kan egter steeds gebeur binne die konteks van respek vir ander. “Alhoewel dit die strewe van enige besigheid is om wins te maak, dink ek ’n mens vind soveel meer vervulling as dit deurgaans jou ingesteldheid is om betekenisvol te leef deur ’n positiewe verskil in ander se lewens te maak.

“Bly ingestel om Sy Lig aan te gee, om regtig die sterk en mooi dinge van ander raak te sien, dit uit te lig en hulle te help om as mense te groei. Dít gee enorme vervulling en betekenis aan ’n gewone werksdag.”

Om te skryf

Lesers vind haar dagstukkies inspirerend; propvol praktiese wenke en wyshede oor alle aspekte van die lewe. Elk van Milanie Vosloo se boeke is ’n topverkoper omdat sy dit regkry om op ’n eerlike en opregte manier die hart van die vrou te raak. Drie van haar boeke, Moed vir elke môre, Sielskos vir die vrou wat leef en Net soos jy is, het platinumstatus bereik. Moed vir elke more (CUM Uitgewers) word vanjaar ook in Engels gepubliseer, plaaslik en in die VSA, as Take courage, dear.

Sy kan haar diepste gewaarwordinge aangrypend in woorde uitdruk; daarvan getuig haar gereelde optredes as spreker en skryfwerk.

Milanie glo dat elke mens besondere talente en gawes ontvang het waardeur ons van die wêreld ’n beter plek kan maak. Vir haar beteken dit ook om haar diepste belewenisse van gewone mens-dinge in woorde te kan uitdruk.

Op 40 het sy een nag wakker geword met ’n brandende begeerte – om te skryf. “Dit het gereën. Ek het ’n pen en ’n stuk papier uit my bedkassie gehaal en begin skryf oor ervarings, waarnemings en insigte. ’n Jaar later het ek dit gewaag om ’n manuskrip in te stuur. Daarna het die een boek op die ander begin vloei. God het my – ook met my reis in die sakewêreld waar ek so baie leer en dikwels uit my gemaksone moet optree – ryp gemaak om boeke te skryf. Ek is so dankbaar dat ander daardeur iets van Hom kan leer ken.”

Sy kan op enige plek skryf: op ’n vliegtuig, op ’n bankie onder ’n boom of sommer op haar bed. Die lekkerste en dikwels enigste tye wanneer daar tyd is, is vakansies of naweke.

“Niks van my skryfwerk kom uit myself nie. Wanneer ek skryf, gee die Gees my die gedagtes, woorde en beleef ek dat ek maar net ’n gebroke kanaal is waardeur Hý kragtig werk. Ek bly keer op keer verstom oor wat die Gees doen wanneer ek wel tyd maak om te skryf. Ek kan nie skryf oor dinge wat ek nie beleef het of die dinge waarin ek nie glo nie, juis omdat ek op eerlike manier my emosies, pyn, ontnugtering, vreugde en teleurstelling met my lesers deel.”

“Niemand gaan ons onthou vir wat ons gedoen of bereik het nie; maar vir hoe ons hulle laat voel het. En hoe ons die lewe geleef en die lig aangegee het.”

Net liefde

Die afsterwe van geliefdes maak haar telkemale weer bewus van ons almal se verganklikheid: “Om by iemand te sit wat sterwend is, verander jou perspektief. Dan weet jy twee dinge: dat al wat regtig saak maak die liefde is, en hoe belangrik dit is om voluit en met oorgawe te lééf terwyl ons nog lewe.

“Christus het so baie gepraat oor gestrooptheid: om onsself los te maak van die onbelangrike en te fokus op die liefde. As ons maar net altyd kan onthou dat verhoudings die een ding is wat regtig saak maak: die verhouding met ons Vader, met onsself en met ander. Niemand gaan ons onthou vir wat ons gedoen of bereik het nie; maar vir hoe ons hulle laat voel het. En hoe ons die lewe en die lig met oorgawe geleef en aangegee het.

“Ons is almal gebore om te gee. Om die bietjie of baie wat ons ontvang het, eenvoudig aan te gee. En dis in die aangee wat ons self ryker word.”

Oop vir Hom

Milanie probeer in alle gevalle om bewus te wees van die lewe om ons en van God se rivier van lewende water waarin ons is.

“Daar is ’n vloei in die lewe, sê Richard Rohr: Ons is almal in God se riviere van die lewe. Probeer ons daaruit klim of stroomop swem, ondervind ons ongelukkigheid en stres. Wanneer ons egter in Sy genadestroom wil bly, beleef ons dat Sy sagte hand altyd onder ons is – veral ook in moeilike tye. Tye wat Hy ons help om Hom nog beter raak te sien.

“Ek is dankbaar vir die baie uitdagende plekke waarheen God my al geneem het, want dit het my nie net gevorm nie, maar my gehelp om met meer begrip na ander te kyk en oor regte mens-dinge te skryf.

“As mens nie oop is vir God se werking in jou lewe nie, is jy verbaas as jy in ongemaklike plekke beland en kan geloof selfs ontnugterend wees. Totdat ons Hom – ook in die pyn en waaroms – raaksien. Dan kom God se sëen op verrassende wyse na jou toe … ”

Jesaja 41:10 het haar al dikwels gedra: “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou.”

“Ons leef in onrustige tye. In elkeen se lewe is daar dinge waaroor jy geen beheer het nie, tog kan jy kies hoe jy daaroor voel. En waarop jy gaan fokus.”

Geloof is ’n lewenslange reis van oortuiging en twyfel, van val en opstaan, van mislukking en weer probeer, meen Milanie. “Geloof maak nie van jou ’n foutlose mens nie. Inteendeel, dit maak jou diep bewus van jou eie onvermoëen swakhede, maar daarmee saam juis ook intens bewus van die groot geskenk van genade vir mense soos ek!”

2018-08-31T19:11:31+00:00