Lééf as gesin

Meer tyd saam

Foto Hanneri de Wet

Wat is die voorwaardes as ons ’n groot geestelike erfporsie aan ons kinders wil nalaat? Ouerskapkenner, Hettie Britz, glo daar is daar is twee voorwaardes hierby betrokke, naamlik tyd en verhouding.

“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan” Deuteronium 6:6-7

Hierdie opdrag is gegee aan die Israeliete toe hulle nog in die woestyn rondgeswerf het. Waarom was dit so nodig dat hulle die gebooie by hulle kinders moes inskerp en aanmekaar met hulle daaroor moes praat, in die huis, buite die huis, met slaaptyd en met opstaantyd? Ek glo dit is omdat die Here geweet het hulle was op pad Kanaän toe, ’n land vol afgode, ’n land met ’n giftige kultuur.

Tyd is geld

Dit is dieselfde in vandag se wêreld. Ons samelewing is giftig. Ons woon nie in ’n land met ’n Christenkultuur nie. As ons wil hê ons kinders moet teen vandag se kultuur staande bly, moet ons die dinge wat ons glo by hulle inskerp. Ons moet aanmekaar met hulle daaroor praat en dit as’t ware heeldag uitleef en daarmee saamleef. Dit moet dag-in en dag-uit die belangrikste element van ons lewe wees as ons ’n groot genoeg impak op ons kinders se lewe wil maak.

Baie van ons dink ons sal aan ons kinders ’n goeie geestelike erfporsie nalaat deur hulle Sondagskool toe te neem, by ’n Christelike skool in te skryf of Sondagaande vinnig vir hulle ’n Bybelstorie te lees. Maar HL Mencken het gesê: “A Sunday school is a prison in which children do penance for the evil conscience of their parents.”

Dalk is dit waar dat ons ons kinders Sondagskool toe stuur of na Christelike kampe laat gaan met die hoop dat die kerk iets sal doen aan die leemte wat ons as ouers in hulle lewe laat.

Hoe vergelyk jou sinvolle tyd saam met jou kind met sy of haar tyd by maats, voor die TV, op die iPad of internet of voor skoolboeke wat sekulêre en humanistiese idees verkondig? Stel jou voor Jesus het vir sy dissipels gevra om elke aand ná werk net so ’n bietjie saam met Hom te kom kuier. Sou Hy hulle binne drie jaar Sy volgelinge kon maak om Sy evangelie oor die wêreld heen uit te dra? Nee, Jesus het binne drie jaar ’n wonderlike geestelike erfporsie aan Sy dissipels gegee omdat Hy dag en nag saam met hulle geleef het.

Dalk is dit die rede hoekom ons meer as drie jaar het om ons kinders groot te maak. Ons kan nie in die tien minute voor slaaptyd ons kinders in dissipels van Jesus verander nie. Ons leef in ’n giftige samelewing en ons kinders is op die oorlogveld, blootgestel aan ongelooflik baie lelike dinge. ’n Uur se Kinderkerk en Bybelstories met slaaptyd sal eenvoudig nie genoeg wees nie.

Dit gaan maar rof met ons almal. Tog kan ons nou en dan die tyd uitkoop en ons verhoudings red.

Die grootste geskenk

Hoekom is dit dan so moeilik om genoeg tyd te vind om saam met ons kinders deur te bring? Ek glo die gejaag na geld om dit op plesier en materiële besittings uit te gee is ’n groot vyand van ons tyd saam met ons kinders.

Hoekom werk ons so hard? Om wat te kan koop? Om wat te kan bereik? Om dinge te koop wat ons en ons kinders van mekaar af weghou? Om geld vir eendag weg te sit en skatte hier op aarde bymekaar te maak?

The Message se weergawe van Psalm 127:2-5 is:useless to rise early and go to bed late and work your worried fingers to the bone. Don’t you know he enjoys giving rest to those he love? Don’t you see that children are God’s best gift, the fruit of the world, his generous legacy? Like a warrior’s fist full of arrows are the children of a vigorous youth. Oh, how blessed are you parents, with your quivers full of children! Your enemies don’t stand a chance against you; you’ll sweep them right off your doorstep.

Hier is ’n heel ander erfporsie ter sprake, nie waar nie? Ons kinders is ons kosbaarste erfenis, ons grootste geskenk van God. Ek dink nie dit is toevallig dat die psalm met dié vermaning begin nie: “Vergeefs werk die wat die huis bou as God nie saam met hulle die huis bou nie” (1953-vertaling).

Die psalm praat nie hier van kliphuise of baksteenhuise nie, maar van gesinshuise en geestelike huise. Ons bou hierdie huise met ons kinders, lewende kinders, kinders met ’n ewige siel. Die Here waarsku ons teen die leuen dat ons van vroeg tot laat moet werk om self ons huis te bou. Nee, sê die Here, dit is nie met werk dat jy jou huis bou nie; dit is met jou kinders.

Toe ek klein was, het ek vas geglo die Krugermiljoene is in ons dak versteek, reg bokant die studeerkamer, want ek het eenkeer my pa op ’n leer onder die luik betrap. Hy het belowe om eendag, wanneer ek groot is, vir my te sê wat daar versteek is. Op ’n mooi dag het ek my ma en pa in die kombuis hoor fluister, ernstig fluister. Die woord “rewolwer” het opgeklink. Dít was al die tyd die “skat” op die plafon. Ek was bitter teleurgesteld! Ja, ek was baie teleurgesteld omdat ek nie goue ponde sou erf nie. Vandag weet ek ek sou daardie ponde, ás dit daar was, sonder ’n oogknip prysgegee het vir wat ek wel by my ouers geërf het: herinneringe aan vakansies in huise met sementvloere en ’n buitetoilet met ’n koue stort; someraande se saamkuier in die kombuis met ons gunstelingete op die tafel – Franse roosterbrood met stroop; Saterdae se pap-en-wors …

Te min van mekaar

Kinders heg nie regtig meer waarde aan al die duur items waarvoor ons ons so afsloof as aan die gratis gesinsoomblikke wat deesdae so skaars geword het nie. Moeder Teresa het iets kosbaars gesê en dit is vir my nogal ironies omdat sy nie ’n ma was nie, maar dalk het sy meer van moederskap verstaan as baie van ons wat kinders in die wêreld gebring het. Sy sê: “Everybody today seems to be in such a terrible rush, anxious for greater developments and greater riches and so on, so that children have very little time for their parents. Parents have very little time for each other, and in the home begins the disruption of the peace of the world.”

Om tyd te maak om by ons kinders te wees voel vir ons so moeilik. Maar is dit dalk net moeilik omdat hierdie tyd nie met ’n rooi vlaggie gemerk is soos daardie dringende e-pos nie? Is dit dalk omdat hulle nie in jou ore lui soos jou selfoon nie? Of omdat daar nie ’n departementele nota “Dringend! Dringend! Dringend!” op hulle voorkoppe geplak is nie? Of omdat ons hulle makliker kan ignoreer as die grappies wat ons met WhatsApp ontvang?

Klankbord

Vraag: ‘Ek het drie pragtige kinders. My seun is sewe, my oudste dogtertjie vyf en die jongste twee. My seun is nou graad 2 en ons doen tuisonderrig (ons bly op ’n plaas). Ek het regtig raad nodig. My seun vereis al my aandag. My vyfjarige is die leergierigheid self, maar ek kry net nie tyd om ook aan haar aandag te gee nie. En ek voel skuldig daaroor. Die tweejarige eet die soutklei op … Soms voel ek lus om sommer die vlaktes in te hardloop. Hoe kry jy ’n gesonde balans tussen al jou verpligtings as vrou, juffrou, mamma en vriendin? Groete uit die koue Vrystaat.’

Antwoord: ‘Ek sou die vlaktes in gehol het as ons hier by ons vlaktes gehad het! Kan ek Vrystaat toe kom daarvoor? Ek kry dikwels lus om iewers af te spring – ons het darem wolkekrabbers …

Ek dink dit kom saam met die territory. Ek dink nie ons voel ooit in beheer nie. Daar is dae wanneer ek níks regkry nie en dan wil ek liewer my kinders laat aanneem voordat ek hulle lewe heeltemal verwoes. Maar later ontdek ek dat die een, terwyl ek my krisis hanteer het, ’n toestel gebou het waarmee ’n mens die hoogste blomme van die rankbos kan afknip en die ander een ’n pragtige gediggie geskryf het – en dit net omdat ek nie met skoolboeke onder die arm en potlode in die hand in hulle nekke geblaas het nie. Kort-kort wys die Here vir my dat Hy self ook my kinders onderrig.

Ek het ook hulp nodig met die tweejarige, want soms is alles net te erg. Sy het ’n neus en ’n voorliefde vir permanente koki’s … Ek is nie seker volkome balans is haalbaar nie. Dit lê op ’n kontinuum. Ek dink elke dag is effens van balans af – party verloop glad nie goed nie; ander is net wonderlik. Dalk is die balans dan iewers in die gemiddelde. Wanneer daar ’n dag kom dat ons ’n ekstra uur het om pannekoek te bak of buite piekniek te hou, gryp ek dit soos ’n reddingsboei aan. En ek bid my kinders sal meer van daardie dag onthou as van al dié waardeur ons jaag. En dit gebeur ook!

My vriendinne is ook nie altyd seker ek het balans nie en dan sleep hulle my koffiewinkel toe – sommer in skooltyd. Ek en my man het ’n uur of twee alleen elke Maandagaand wanneer die kinders om agtuur gaan slaap het. Dit is ons tyd om te droom, te bid, te beplan, ons dagboeke te vergelyk en geen werk te doen nie. Woensdae is familie-aand. Dan eet ons lawwe kos wat die kinders kies en speel speletjies wat hulle wil. Ek dink jy hoor my.

Dit gaan maar rof met ons almal. Tog kan ons nou en dan die tyd uitkoop en ons verhoudings red.’

Uittreksel uit Kweek kinders met heel hartedeur Hettie Britz met toestemming van die uitgewer, Lux Verbi, gepubliseer.

2018-08-30T20:21:07+00:00