Net één helder ding onthou ek van Oumagrootjie wat 104 jaar oud geword het. Sy kon mens so stip aankyk en afgemete sê:  “In hierdie wêreld sál julle verdrukking hê, máár hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Dit gaan soms rof om goeie moed te hou.  Feit is dat ek onder te veel druk kan uitmekaar val. Ek is geneig  om  met ‘n manuskrip se klaarmaak uit te stel tot die D-date ‘n swaard bo my kop raak. So gebeur dit dan nou weer. Augustus sien sy einde en die manuskrip met half Januarie 2019 by die uitgewers wees. Een kwart is redelik afgehandel en twee ander skryfsels wag.

My wiele val summier af. Ek verwyt die stapels informasie, maar hulle wag al maande daar. Ek vererg my vir die stroom e-posse asof hulle nie my bron van inligting is nie. Ek kla hartstogtelik dat niémand, niémand besef dat wat ek doen, wérk is nie. Snags kan ek nie slaap nie en as ek in die kombuis ‘n nagbroodjie staan en eet, wonder ek hulpeloos waarheen ek eintlik met my storie op pad is.  Die tyd raak min en ek probeer my aan Gideon se geval troos. Sy krygers het immers net so roekeloos min geword soos my dae.

Nege jaar lank was die weelde daar van alles oppak en vir ten minste drie salige weke by Francois en Elmarie se dierbare houthuis in Stilbaai intrek. Dit het tot ‘n einde gekom. My man het demensie en hy is in ‘n verpleeghuis binne loopafstand.

My seun kyk oor sy bril na my in die sitkamer waar ek sonder my wiele sit, na aan trane. “Jy kan tog in die oggende tussen 9 en 11 jou foon afsit, jou studeerkamerdeur toemaak en werk!”  Ek haal diep asem en knik.

Dus die volgende oggend staan ek vroeër op, hou my stiltetyd en Skrifleeswerk. Kwart oor nege gaan ek voor die rekenaar sit, tel die Siamees wat haar altyd onmiddellik voor die skerm opstel vir ‘n derde keer af.

Skryf? Ek kyk na die skerm voor my, na die iPad met al sy opgegaarde informasie, die boeke wat ek rondom my op die tafel uitgelê het, potlode en uitveërs. Ek gaan nog ‘n slag ‘n glas water tap. En ek skryf nie. Ek sweet en staan op en maak die deur oop. Ek lees die vorige hoofstuk nog ‘n keer deur. Maar dit werk nie. Niks werk nie. Ek het geen idee waarheen ek met die boek op pad was nie. Nog minder waarom ek ooit gereken het ek kan skrywe nie.

Sadistiese dink ek aan diegene wat so swymel oor hoe romanties dit is om te skrywe, en wens hulle die ervaring toe. Die ure tussen 9 en 11 verdwyn soos rook. Ek skrywe, maar ek het geen behae in wat ek skryf nie. Teen die middag laat sak ek my kop op die rekenaar en huil van suiwer ellende.

En toe is sy Teenwoordigheid meteens daar. By my. Hy die Ewige, en dis of ek Hom duidelik hoor vra: “Hoeveel maal het Ek jou al deur hierdie wanhopige skryfdae gedra? Hoeveel maal moet Ek nóg sê my genade is vir jou genoeg? Dat ek nie een dag roep en die volgende dag in die steek laat nie? “ Dit is net of ek weet Hy glimlag : “Het jy weer vergeet wat Ouma Lenie se gesegde was?”

En toe kompleet soos ‘n kind, vee ek my trane af en maak my rekenaar oop. Want ek het my Vader se stem in die huis gehoor en dis veilig ek sal dit maak. . .

2018-08-31T18:05:46+00:00