Klein Kook & Geniet

Deur Christine Ferreira | Foto’s Myburgh du Plessis

Dié kleinsus van die befaamde Kook & Geniet leer kinders met selfvertroue kook en bak.

In baie Suid-Afrikaanse kombuise sal die immergewilde Kook & geniet deur S.J.A de Villiers op die rak aangetref word en het menige jong huisvroue uit hierdie trefferboek leer kook. Nou het Eunice van der Berg, dogter van die befaamde kookboekskrywer, S.J.A de Villiers, met Klein Kook & Geniet, ’n kookboek vir kinders wat vroeër vanjaar uitgegee is, die tradisie voortgesit met meer as 55 smullekker resepte vir oud en jonk, spesiaal uitgesoek en getoets.

Hierdie is ’n eg Afrikaanse kookboek vir beginners van alle ouderdomme. Die gewilde kookgids vir kinders is nou terug in ’n vrolike baadjie – met dieselfde vertroude staatmaker-resepte en splinternuwe kleurfoto’s. Met gunstelinge soos hamburgers, tjips, pizza en ’n verskeidenheid soetgoed, van grondboontjieklontjies tot suikerkoekies. Daar is selfs ’n heerlike partytjiekoek met ’n botterversiersel om mee fees te vier, vir die jongklomp om self te bak.

“Hierdie boek leer kinders hoe maklik en lekker dit is om kos te maak. Ek wil kinders aanmoedig om self ’n hele ete vir die gesin voor te berei of vir Mamma met een van die geregte te help as sy kosmaak” sê Eunice.

Die resepte is so geskryf dat dit kinders leer kook én bak. “Die metodes word almal met foto’s verduidelik. Dit is ook dieselfde metodes wat in ander kookboeke gebruik word. As jy leer om hierdie metodes te volg, sal jy uit enige ander resepteboek kan kosmaak!”

Kinders word geleer wat belangrike simbole beteken, hoe om die kombuis in gereedheid te bring vir die kook- of bakproses, hulle kosse te ken en selfs hoe om af te meet. Daar is ook ’n hoofstuk wat spesiaal aan kombuisgereedskap en die dek van ’n tafelplek gewy word. Dié ideale kookboek vir jong meestersjefs in wording.

Kolwyntjies

Haal uit

muffinpan
2 mengbakke
meetkoppies
meetlepels
houtlepel of elektriese handklitser
12 papierkolwyntjievormpies
Sif
skeplepel
vatlappies
afkoelrak
kapplank
mes
teelepel

Wat is nodig?

90 g sagte margarine of botter
185 ml strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
2 eiers, nie yskoud nie
375 ml koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
100 ml melk
rooi bessiekonfyt

Die kolwyntjies kan ook met botterversiersel en gekleurde lekkers versier word vir afwisseling.

  1. Skakel die oond aan op 180 °C (350 °F).
  2. Pak die papierkolwyntjievormpies in die muffinpan.
  3. Room die margarien of botter in ’n mengbak met die houtlepel of elektriese handklitser.
  4. Skep 3 lepels strooisuiker op ’n keer by die margarien. Klop elke keer goed voordat die volgende strooisuiker bygevoeg word. Die mengsel moet liggeel en romerig lyk.
  5. Voeg die vanieljegeursel by. Breek dan die eiers by die mengsel in die mengbak. Klop dit met die houtlepel of handklitser totdat alles goed gemeng is.
  6. Sif die meelblom, bakpoeier en sout saam in die skoon mengbak.
  7. Roer die helfte van die gesifte meelblom versigtig met die lepel in die bottermengsel. Roer die melk by.
  8. Roer nou die orige meelblom weer versigtig in die mengsel net tot alles goed gemeng is. Dit moet ’n gladde dik beslag vorm.
  9. Skep die beslag in die papiervormpies met die skeplepel sodat daar ewe veel in elke vormpie is. Wees versigtig dat daar nie druppels beslag op die randjies mors nie.
  10. Bak dit 15 minute lank of tot gaar. Skakel die oond af.
  11. Lig die koekies op die afkoelrak uit om af te koel.
  12. 12 Sny ’n skyfie bo van elke koekie af met die mes. Sny die skyfie dan middeldeur.
  13. 13 Skep ’n teelepel konfyt op elke koekie. Plaas die 2 halwe skyfies koek soos vlerkies terug bo-op die konfyt. Sprinkel versiersuiker oor indien verkies.
Klop die versiersuiker bietjie vir bietjie by die bruinsuikermengsel in die kastrol.

Neut-karamels

Haal uit

plat bak of oondpan (20 cm x 20 cm)
sif
mengbak
glasmeetbeker
kastrol
meetkoppies
meetlepels
houtlepel
lepel
kapplank
mes
deegskraper

Wat is nodig?

500 ml versiersuiker
125 ml margarien of botter
250 ml bruinsuiker
60 ml melk
5 ml vanieljegeursel
250 ml gebreekte okkerneute of pekanneute

  1. Smeer die bak of pan baie goed met margarien of botter.
  2. Sif die versiersuiker in die mengbak.
  3. Meet die 125 ml margarien of botter en bruinsuiker in die kastrol af.
  4. Skakel ’n stoofplaat op matige hitte en plaas die kastrol daarop.
  5. Roer aanhoudend met die houtlepel terwyl die margarien en suiker saamsmelt. Laat dit 2 minute lank kook en roer aanhoudend.
  6. Voeg die melk bietjie vir bietjie by en roer elke keer goed. Dit kan spat. Roer tot dit weer kook. Skakel die plaat af.
  7. Haal die kastrol van die plaat af en plaas dit op die kapplank. Laat die mengsel afkoel.
  8. Klop die versiersuiker bietjie vir bietjie by die bruinsuikermengsel in die kastrol. Gebruik die houtlepel.
  9. Roer die vanieljegeursel en gebreekte neute by. Roer tot dit dik is.
  10. Skraap die mengsel in die gesmeerde bak uit en druk dit bo-op gelyk met die lepel.
  11. Laat dit goed koud word in die yskas. Sny die karamels in blokkies.

Suikerkoekies

Haal uit

2 bakplate
groot mengbak
klein mengbak
meetkoppies
meetlepels
deegsnyer
vurk
koekiedrukkers
draadklitser
vatlappies
koekroller
sif
slaplemmes of eierspaan
kapplank
afkoelrak

Wat is nodig?

250 ml bruismeel
50 ml mielieblom
60 ml strooisuiker
1 ml sout
60 ml margarien of botter
1 eier
2 ml vanieljegeursel

  1. Skakel die oond aan op 180 °C (350 °F).
  2. Smeer die bakplate met margarien of botter.
  3. Sif die bruismeel, mielieblom, strooisuiker en sout saam in die groot mengbak.
  4. Vryf die 60 ml margarine of botter met die vingerpunte in die meelmengsel of sny dit met die deegsnyer in die meelmengsel. Dit moet soos fyn broodkrummels lyk.
  5. Klits die eier en vanieljegeursel met die draadklitser in die mengbak. Voeg dit by die meelmengsel. Meng dit met die vurk.
  6. Knie dit in die mengbak tot die deeg ’n gladde stuk vorm.
Roer die hawermout, die klapper en vanieljegeursel by tot alles goed gemeng is.

Sjokoladeklontjies

Haal uit

bakplate
meetkoppies
meetlepels
meetbeker
melamienlepel
mengbak
kastrol
kapplank
2 teelepels
bakpapier

Wat is nodig?

125 g margarien of botter
500 ml suiker
125 ml kakao
125 ml melk
750 ml hawermout
250 ml fyn klapper
5 ml vanieljegeursel

  1. Voer die bakplate uit met bakpapier.
  2. Meet die margarien of botter, die suiker, kakao en melk af in die kastrol.
  3. Skakel ’n stoofplaat aan op matige hitte. Plaas die kastrol op die plaat en roer die mengsel tot dit kook.
  4. Skakel die plaat op lae hitte en laat dit presies 5 minute lank kook. Haal die kastrol van die plaat af en plaas dit op die kapplank. Skakel die plaat af.
  5. Roer die hawermout, die klapper en vanieljegeursel by tot alles goed gemeng is.
  6. Skep klein klontjies met die 2 teelepels op die bakplate terwyl die mengsel nog warm is.
  7. Laat staan tot dit goed afgekoel en styf is.

Resepte en uittreksels met toestemming gepubliseer uit Klein Kook & Geniet deur S.J.A de Villiers en Eunice van den Berg, uitgegee deur Human & Rousseau 2018 kosfoto’s Myburgh du Plessis, stilering Sonja Jordt.

2018-08-30T20:49:57+00:00