“Kyk, Ek maak alles nuut.” Openbaring 21:5

Die mens het ’n ewige nuuskierigheid oor die hiernamaals. Sedert die vroegste tye wou mense méér weet as wat die Bybel sê! Apokriewe boeke het hulle opwagting gemaak en deur die eeue allerhande hemelvisioene. Dink byvoorbeeld aan die klassieke Intra Murosen die boeke van Mary Baxter en Choo Thomas. Ja, oor baie aansprake daarin mag ons maar vraagtekens hang, want dis nie die Skrif nie – dis mense se visioene, drome of dalk verbeelding. Lees sal ons egter lees, want ons wil wéét! En soms verlang ons …

Die Bybel self bied eintlik min konkrete beskrywings van die hiernamaals en dit word nog minder as ons besef dat dit gewoonlik beelde is wat oor honderde jare gevorm is en gelaai is met simboliek. Die konteks is die antieke wêreld – die hemel is dus om veilig te wees in ’n stad met ’n muur om, die hel is om weggegooi te word op die brandende vullishope, buite die stad. Dis eerstens metafore, ryk Skrif-simbole met diep betekenisse.

Dalk moet ons ons fassinasie en spekulasie temper en terugkeer tot die wese van die saak: om met God te wandel is om hemel op aarde te beleef. Hy voltooi ons en gee ons vrede en vreugde. Om sonder God te leef is om verlore te wees, uitgelewer aan jouself, afgesny van die lewe – hél op aarde! Op ’n dag dan sal die lewe egter oor wees en die aarde wegval. Al wat sal oorbly is die mét God of die sónder God – die hemel en die hel, dus. Vir ewig.

Gebed

Here, ek wil met U leef – vir ewig!

‘Vir die Christen is hemel waar Jesus is.’ William Barclay

Besoek ww.jimileroux.com en skryf gratis in vir Jimi le Roux se daaglikse oordenkings.

 

2018-08-31T17:44:57+00:00