Kuns van Lééf

Waar inspirasie gedy

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hannerie de Wet

Jeanne Badenhorst, kreatiewe direkteur van Beetroot Inc in Waterkloof, Pretoria, leef haar passie vir tekstiele en speelse kleurkombinasies in ’n dekorwinkel vol verrassings uit.

Die houtmeubels met pastelkleure lyk lekker genoeg om te eet. Afgewitte laaikaste met vinkgeel, liggrys en kakiegroen vertikale en horisontale stroke; ’n eetkamerstel in room, ligbruin, poeierblou en swart; salmpienk prentrame, roomysblou bedkassies.

Die rusbanke en gemakstoele, in ’n palet van blou, bruin, beige en brandweerrooi blokke herinner aan ’n vergange kunsvorm: toe ouma tydsaam met naald en garing en ’n bontspul laslappies haar vrolike dekens en tafeldoeke saamgeflans het.

Beetroot Inc se dekor voer jou terug na die goeie ou dae en die speelplekke van jou kindertyd; dit laat jou droom van somervakansies by die see. Die kleurkombinasies verras heeltyd en lok ’n glimlag; dis onbeskaamd informeel en nooi jou om te ontspan en net jouself te wees.

“Ek hou van kleur, alle kleur!” bevestig die Pretoriase ontwerper Jeanne Badenhorst. “Wat is die lewe daarsonder? Ek kry nooit genoeg van groen nie. In my huis omring ek myself met groen. Dit simboliseer groei en lewe. Soms moet ek weer gaan kyk hoe groen my pa se mielies op die lande staan. Ek soek inspirasie in tuine en die natuur, al die wonderlike skakerings van groen en onverwagte kombinasies soos rooi en pienk.”

Plaasnooi

Dié gebore Pretorianer wat in Lydenburg, Mpumalanga op die plaas Rietfontein getoë is, het by haar drie boeties geleer om trekker te bestuur en te skiet. Jeanne is die tweede oudste kind. Twee van haar broers is meganiese ingenieurs, die derde ’n sportbestuurder by Nelspruit Hoërskool.

“Ons was sulke lekker maats, maar hulle het my toegelaat om te wees wie ek wou wees. Van kleins af was ek lief vir verf, handwerk en naaldwerk. Ek het vroeg al langs my ma gesit waar sy doenig was met naaldwerkmasjiene en gehelp om kopspelde uit te trek.” Jeanne onthou dat sy nog tot diep in haar matriekjaar popklere gemaak het. “My ma het vir ons almal klere gemaak, en ek het dit geniet om my eie kledingstukke te skep wat anders is.”

Sy gaan skep steeds asem in die middelveld van Mpumalanga, met die Steenkampsberge op die kim, bloekombome, groen grasvelde en mielielande; waar die dae warm en die nagte koel is. “Ek gaan laai steeds my battery daar,” mymer sy verlangend. Dis die rustieke omgewing waar haar oupa se gemengde boerdery met beeste, mielies en kool voortgesit word deur haar pa en oom. Jeanne skerts dat haar ma, Magdaleen, destyds ’n graad 1-onderwysers, die hele dorp se kinders leer lees en skryf het.

Kuns as vak op hoërskool en naaldwerkkursusse saam met haar ma het gelei tot ’n beriggie in die plaaslike koerant. Haar oorlede kunsjuffrou, Lina Nel, het destyds voorgestel Jeanne moet ttekstielontwerp studeer: “Sy kon toe al raaksien waar my aanleg lê, die plek waar naaldwerk, kuns en tekstiele ontmoet.”

Prys op prys

Jeanne het haar diploma in modeontwerp aan die Joeliene Mode-akademie in Pretoria verkry, maar sy het besef sy is nog glad nie klaar met lap nie. Vervolgens het sy haar B. Tech-graad in Tekstielontwerp en Tegnologie aan TUT voltooi en as dosent by Fashion Design International en TUT haar kennis van die bedryf verdiep.

“Ek was altesaam tien jaar by TUT betrokke en het sterk begin fokus daarop om vaardigheidsopleiding in die swart gemeenskap te ontwikkel, borduur- en naaldwerk en batik waarmee vroue n inkomste kan genereer.” Verskeie toekennings vir haar ontwerpe dui op haar veelsydigheid. In 1996 is sy aangewys as Jong Tekstielontwerper (Jacquard Design) en was sy ’n finalis in Bundu Creations se T-hemp-ontwerpwedstryd. Die volgende jaar was sy naaswenner van die Jong Tekstielontwerpkompetisie in manspakmateriaal. In 1998 is sy vir haar ontwerp van ’n korporatiewe geskenkdas bekroon as wenner van die Rektors-Daskompetisie.

Vier jaar gelede het die eienaars van Beetroot Inc, Lucas Oosthuizen en Elize van den Berg, haar genader om werkers op te lei vir hul nuwe dekorprojek. “Ek was in Lydenburg op Sabbatsrus toe hulle my kontak. Dit was opwindend, die geboorte van iets. Hulle het my ’n vennootskap aangebied in Beetroot Inc en ek het Pretoria toe getrek.”

Die handelsnaam Beetroot Inc was die voorstel van Pieter van Zyl, Elize se gewese man. Hy het die naam aan hul seun Liebner geskenk. “Die idee spruit daaruit dat beet alles rooi kleur waarmee dit in aanraking kom, jou vingers en mond, en ons wil op dieselfde manier kleur in mense se lewens bring. Lucas se leuse vir die onderneming sluit hierby aan: ‘The lighter and brighter side of beautiful living.’ Ons is beslis nie skaam oor ons kleurgebruik nie,” lag Jeanne.

Lucas Mathlala, die naaldwerkfabriek se lynbestuurder, het sonder werk gesit en die eienaars het hom gevra om vroue te werf in die township wat naaldwerk wou doen. So is die grondslag vir ’n lewenskragtige onderneming gelê. Takke van Beetroot Inc kom landwyd voor: Ballito, Kaapstad, Pretoria en Johannesburg. Al die takke word van voorraad voorsien vanuit Pretoria.

‘Groen simboliseer groei en lewe. Soms moet ek weer gaan kyk hoe groen my pa se mielies op die lande staan”

Elke stuk uniek

“Ons wil nie iets verskaf wat reeds in die mark is nie. Deel van Beetroot Inc se kern-identiteit is om volhoubare werk te verskaf en oorspronklike produkte te skep. Elke meubelstuk is uniek en word nie herhaal nie.”

Aan die agterkant van die winkel zoem dit van gemoedelike aktwiteit, in ’n ordelike naaldwerkfabriek waar 15 werkers by tafels meet en pas en knip aan “komberse”, die veelkleurige bedekking waarmee strooikussings, stoele en banke oorgetrek word. Dié komberse herinner aan die outydse lappieskomberse wat ons voorsate met soveel liefde en vernuf aanmekaar gewerk het.

“Ons het ’n sagte lyn wat fokus op voorskote, strooikussings, plekmatjies, tafellinne en meubelafwerking, en ’n meubellyn wat by ’n fabriek in Silverton vervaardig word deur agt mense onder toesig van Quintin Ferreira. Ons stoffering word gedoen deur ’n medewerker, Paradise,” verduidelik Jeanne. Sy is deurlopend betrokke by alle ontwerp en opleiding en kies materiaal en lasplap in samewerking met Quintin.

“Sewentig persent van die materiaal wat ons gebruik, word plaaslik geweef. Ek bly heeltyd op die uitkyk vir wat nuut en anders en beskikbaar is, en inkorporeer dit in ons ontwerpe. Verder maak ons gebruik van ons eie selfgemaakte materiaal waarop kleurkombinasies en patrone uit ons omgewing voorkom.

Die span werk kreatief saam en kleur kom in alles prominent na vore. “Die vroue werk nie met ’n resep nie, hulle volg hul intuïsie om iets unieks te maak wat voldoen aan Beetroot se lighartige voorkoms. Elkeen is deel van die geheel maar verskaf hul eie kreatiewe insette. Sommige werk net op komberse, ander weer op kussings, voorskote, leerhandsakke. Ons is ’n hegte span by Beetroot Inc wat lekker saamwerk en ’n sterk visie deel.”

Jeanne hou ’n wakende ogie oor elke afdeling en werk vol dae, menige dag oortyd. “Maar as jy kreatief wil bly dink, kan jou werk nie jou lewe oorheers nie,” glo sy. “Ek doen keramiek, ry fiets en stap graag. Ek maak myself vol om weer te kan gee. By die werk gee ek my volle aandag. Ek probeer om die balans te handhaaf en die kliënt se opdrag te dien. Die lyf raak wel moeg, maar die hart en kop bly geprikkel!”

‘Die idee spruit daaruit dat beet alles rooi kleur waarmee dit in aanraking kom, jou vingers en mond, en ons wil op dieselfde manier kleur in mense se lewens bring.’

Ontwerp is oral

Jeanne wil graag reis na Swede, ander Skandinawiese lande en Frankryk om die legendariese ontwerp te bewonder en bestudeer. Sy meen die rol van ontwerp in ons wandel en handel word te dikwels misken of as vanselfsprekend aanvaar.

“Min mense dink oor wat dié stoel funksioneel en gemaklik maak,” beduie sy na ons sitplekke in die koffieplek waar ons cappuccinos geniet. “Ek bly voortdurend op die uitkyk vir goeie ontwerp en kan gewoonlik sien as iets nie nageboots of afgekyk is van die internet.

“Die beroemde Britse ontwerper William Morris het moeg geraak vir die alewige herhaling, en met sy ryk ontwerpe en kleure wou hy skoonheid laat herleef. Dis wat ek ook probeer doen. Ontwerp is oral merkbaar in ons omgang met die wêreld, in huisprodukte, meubels en tegnologie. Te lank het ontwerpers aan die agterspeen gedrink. Dit is aan die verander. Ontwerpers kry meer erkenning vir hul bydrae om die wêreld leefbaar en mooi te maak.”

2018-03-29T19:01:01+00:00