Lééf in oorwinning

Tuiskoms

Foto’s | Natalie Loots

Onderwyseres, Estie Smit (35), van Witrivier, vertel haar storie van ’n laslappielewe op soek na liefde …

“Waar begin mens om te vertel van ’n hartswens wat waar geword het op die mooiste manier moontlik? Hoe verduidelik mens die dankbaarheid van ’n gebed wat beantwoord is na 33 jaar se afwagting, smeking en vertroue op God.

“As daar een ding is wat ek geleer het in my jare van enkellopend-wees, dan is dit dat jý niks kan doen om die proses aan te jaag nie. Jou omringende skare se ongeduldige en soms aanklaende vrae kap aan die brose glasblad van jou fondasie. Want sien, dis hoe ek my fondasie ervaar het. ’n Onderbou waarin jy die hunkering vir iemand, ’n gesin, ’n huis vol lewe van jou eie eenkant toe skuif, want dit gebeur net nie. Nou en dan breek di fondasie, omdat jou moed min en jou gemoed te swaar raak, want jou beste vriendin, niggies, vreemdelinge en selfs jou jonger sussie kry iemand en jy moet alleen vorentoe stap. Die fondasie breek ook onder die las van almal se vrae en onbegrip dat jy geen beheer oor jou alleenwees het nie. Omdat sekere vrae wat eenkant in ’n hoekie weggesluit word na die oppervlakte dobber en jou oorweldig: Hoekom? Het die Here van my vergeet? Is ander se stories belangriker as myne? Ignoreer Hy my? Hoor Hy nie? Is ek nog nie reg nie? Is daar dinge wat ek nog nie uitgesorteer het in die beradingsessies of kampe en daaglikse gebede en intieme tyd met God nie?

Totdat een van my pa se vriende, omdat hy ook nie kon verstaan wat die rede vir my enkelpaadjie was nie, ’n saadjie van hoop in my hart geplant het, wat ek gevoed het en aan vasgeklou het om so sal die ander stemme te verdring. Sy woorde was: “Dalk maak God al die ander mans blind, sodat net die regte een jou sal raaksien”.

As jong vrou en meisie poog jy net jouself meer en meer vind en die lewe om jou ontgin. Jy bly jouself opbou en ander drome najaag, maar dié één droom bly onaangeraak. As mens het jy geen beheer, geen mag, geen vaardigheid om dit te bepaal nie, want dit is lankal bepaal. Ek glo dat die dag wat jou man se pad met joune kruis deur ons Hemelse Vader bepaal is, net soos die dag wat jy gebore word en die dag wat jy goue spore begin trap in die ewigheid in.

My avonture het ver en wyd gestrek. Ek was ’n plaasmeisie van Grootvlei in die ou Transvaal en het ’n wonderlike, storieboek-kinderlewe gehad met die oulikste, liefste ouers wat ’n kind voor kan vra. ’n Pa wat rondrol op die mat en speel en kielie tot die trane loop van die lag. ’n Ma wat koekies bak (en jou laat saambak) en klere maak en ’n warm huis geskep het wat ek nou nog altyd na toe wil gaan. Ouers wat altyd beskikbaar is vir nog liefde en raad en tyd vir elkeen van hulle kinders.

Na skool is ek die wêreld in om in Engeland vir twee jaar te werk en my oë bietjie wyer te rek. Terug in ons Suid-Afrika het ek kom studeer, paar jaar gewerk en toe my roete gevind na die lieflike Laeveld. ’n Plek waar dit heeljaar groen is. ’n Plek waar mense buite leef en kuier. Waar die wildtuin naby is vir ’n vinnige wegduik van realiteit af. ’n Plek waar die son warm skyn en my hart kan lag en gemaklik asemhaal.

Drie jaar het ek hier gebly met gereelde toe-oogafsprake wat vriende, kollegas, my hoërskool Wiskunde-onderwyseres, die jong aptekertjie en ander vir my gereël het. Ek is iemand wat nie kan “nee” sê vir ’n geleentheid nie en het telkens sleepvoet ingestem. Ek het vriende gemaak en uitgegaan en met tye het my kalender soos dié van ’n sosiale vlinder daar uitgesien. Soms in ’n stil oomblik het ek uitgesien na “eendag”. Eendag wat ek by my huis kan bly omdat dáár iemand is om mee te kuier en ek nie meer soveel mense hoef te ontmoet nie.

‘Ek glo dat die dag wat jou man se pad met joune kruis deur ons Hemelse Vader bepaal is, net soos die dag wat jy gebore word en die dag wat jy goue spore begin trap in die ewigheid.’

Ek het egter meeste van die tyd my hede omarm en ’n vol lewe geleef. Ek het mense ontmoet. Die Here het my geseën met vriende vir elke kompartement van my hart se begeertes. Ek is geseënd met ’n optimisme en dankbaarheid vir elke dag en ’n hart wat dinge raaksien soos die goud van sonstrale wat elke oggend die blare inkleur en omlyn. Met die Here se genade kon ek al die seer van my verlede, los in die verlede en aanstap vorentoe, verdiep, ryker, wyser en baie meer nederig.

Maar my ou storie het ’n nuwe begin. Net toe ek finaal moed opgegee het op die moontlikheid van man kry en totaal aanvaar het dat dit nie vir my bepaal is nie, gebeur die ondenkbare. Die perfekte. Dit wat net God kan beplan.

Op ’n gewone naweek in die kleurvolle herfsseisoen drink ek koffie in my woonstel se tuin en sien ek raak hoe ’n nuwe buurman sy intrek in die woonstel langsaan neem. Die volgende dag het ek my nuwe buurman onder die wasgoedlyn ontmoet, terwyl ek in my rooi bootse my wasgoed afhaal. Ons het hand geskud, kennis gemaak en weer gegroet.

Die volgende dag het ons saam koffie gedrink op die gesamentlike grasperk voor ons woonstelle en begin kuier.

Elke dag na werk het dit roetine geword. Ons het die wêreld en sy dinge bespreek. Ons het ons wêrelde en almal daarin bespreek. Ons het perspektiewe, gelukkies, ongelukkies, alles en niks bepraat, asook hoe ons ontdek dat ons al hoe minder weet namate ons ouer word. Ek het vir hom vertel dat ek nou finaal opgegee het aan die gedagte van my eie liefde vind en dat ek van plan is om getroude vrouens jaloers te maak met die enkellopende lewe wat ek sal hê en aangryp. Hy het op dieselfde trant vertel dat hy ook onlangs dieselfde besluit geneem het om op sy eie aan te gaan.

Maar … ses dae nadat ek hom ontmoet het, het Michael aan my deur kom klop met blomme.

Hoe dinge van daar af verder ontwikkel het is ’n lekker en lang storie, maar vir ’n ander keer. Ek wil egter net noem dat ons toe getroud is en dat Michael Smit toe wel die beste vriend geword het wat ek nog ooit gehad het en sekerlik ooit sal hê.

Ons troukaartjie se woorde voorop het gelees: “We met each other at home and then found home inside each other.”

Huisies was ook die tema vir ons troue. Houthuisies, ou boeke, warm kleure en enamelware met kruiebossies soos wat jy dit in die veld sou pluk. Ons s’n was ’n sakpastroue. My ma het die kos gemaak en die families het saamgestaan om dit ’n wonderlike geleentheid te maak. Ons het onder ’n wasgoedlyn in Seremoniestraat, Heanertsburg, ’n klein dorpie op ’n heuwel tussen woude, getrou. Almal in die klein gemeenskap het gehelp, geleen en gegee om ons troue mooi en spesiaal te maak.

Daar was ’n tyd wat ek gewonder het of dit in die Here se plan is vir my om ’n man te kry en wat ek heeltemal opgegee het op die droom van mamma-wees. My hart is nou propvol, want ek het meer geluk en liefde gekry as wat ek gedink het moontlik is.”

5 lewenslesse wat ek op die pad na liefde geleer het:

  • Harte is baie kosbaar, baie sterk, baie broos, baie veerkragtig. Die hart is die middelpunt. Harte is aan die stuur van elke mens se pad, al bedoel hulle dit nie so nie.
  • ’n Hart moet nooit onderskat of oorskat word nie. Jy móét die waarde van elke individuele hart ken voordat jy die waarde van daardie persoon en alles wat hy bied, kan ontgin of ervaar.
  • Niks wat die moeite werd is, kom maklik nie – wyse woorde wat ek by my gedetermineerde ma van kleins af geleer het.
  • Ja, jy kan vra. Moet nooit ’n geleentheid laat verbygaan sonder om te vra nie. Jy mag dalk net iets wen as jy vra.
  • Ons lééf en ontdek nog meer van mekaar elke dag. Ek is nie alleen nie. God het my geseën met my eie gesin en dit is vir my genoeg.
2018-03-29T19:00:49+00:00