Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Wanneer ons tyd maak om die lewe deur ons siel te laat vloei, beleef ons die wêreld soveel anders. En lééf ons soveel meer.

Tussen die krip en die kruis het Jesus drie dinge kom demonstreer: Geloof. Hoop. En liefde. Veral liefde.

Daar was ʼn krip. ʼn Voerbak vol hooi met ʼn pasgebore baba. En ʼn ster wat vertel het dat hier iets meer as net nog ʼn kind in die wêreld gekom het. Dat die Messias wat redding bring, hier is. Asof dit die vaste wete en oortuiging wou bring dat God se beloftes waar is.

Daar was die Man. Die Een wat ʼn stukkende wêreld kom heelmaak het. Wat aan moedeloses hoop gebring het. Siekes gesond gemaak het. Die Skrif kom demonstreer het. Aan sondaars vergifnis uitgedeel het.

Dan was daar die Kruis. Die kruis wat aan ʼn selfsugtige wêreld kom wys het hoe géé lyk. Wat alle menslike beperkings kom oortref het. Die dood oorwin het. Wat léwe gebring het. Altyd-lewe aangebied het.

Kom ons stap in hierdie dae die pad vanaf die krip tot by die kruis saam met die Man wat ons aan die hand neem, ons die pad wys en ons tot anderkant die kruis wil neem. Tot by die plek waar ons in sy arms stap en Hy vir ons sê: Lank voordat jy in die wiegie van die lewe kom lê het, het jy in my hart gelê. En totdat die kruis vir jou lewe geplant sal word, sal Ek by jou wees. Daarna? Dan sal jy kan sien hoe geloof, hoop en liefde regtig lyk. Veral hoe my liefde vir jou lyk.

Onthou sommer net weer vandag. Jy het geloof ontvang van die Een wat jy met jou hart en siel kan vertrou. Aan jou is hoop uitgedeel – daarom kan jy uitsien na soveel meer. Maar bowenal het die Kind in die Krip, die Man van die Kruis aan jou Sy hart, Sy goedheid en guns, Sy onvoorwaardelike liefde … Sy álles kom gee. Mag Sy liefde jou sommer net weer motiveer om met ʼn vaste wete en met hoop te bly glo!

Dankie vir u álles!
Vandag onthou ek opnuut
hoe U as Krip-baba u
naelstring-verbintenis
aan ons kom bevestig het.
Hoeveel hoop U
dwarsdeur u lewe uitgedeel het.
En met hoeveel liefde U uitgeroep het:
“Dit is volbring!”
Dankie Here, dat U
u alles gegee het.
U ook vir my met u
bloed verseël het.
Hoe sê ek ooit vir U dankie, Here?

Soos spykers in die hout, het die swaard van pyn haar hart deurboor. Johannes moes haar broosheid vashou toe haar knieë onder die smart knak. Dit was asof iemand die naelstring uit haar ingewande ruk … tussen die krip waar sy Hom in doeke toegedraai het en dit wat nou hier gebeur, verstaan sy min, maar weet sy: Hierdie Seun van haar het die wêreld kom verander op die manier wat Hy geleef én gesterf het.

Jesus se koms bly vir ons ’n misterie wat ons nooit regtig sal verstaan nie, maar wat ons kan aanvaar as die waarheid wat ons vrygemaak het, wat ons eendag kom verseël het en aan ons kom demonstreer het hoe die liefde regtig lyk. ‘n Liefde wat alles wat goed is, insluit. Alles wat hoop is, omvat. Alles wat lewe is, géé.

Hou vandag en elke dag vas aan hierdie allesinsluitende, onvoorwaardelike en ewige liefde vir jou!

Boodskap: En elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit? Johannes 11:26
2018-03-29T19:26:24+00:00