Kuier by

’n Groter oes

Deur Jacqueline Leuvennink | Foto’s Francois Pistorius & Josh Rowe

Op Klein Sering in die rustige Noordhoek-vallei het die meetsnoere vir Willie en Lienie Koen in stiller plekke geval.

Toe ek my hand in die nes steek, is die eiers nog louwarm. Die Leghorns in die hoenderhok kyk nuuskierig op. Dan buig hulle weer hul koppe om voort te gaan met hoenderdinge. Lienie hou twee ligblou eend-eiers na my toe uit. Sy het ’n glimlag om haar mond en ’n mandjie in haar hand.

’n Entjie verder is die warm Februarie-son besig met sy suikersoet werk. Ek korrel aan ’n tros hanepoot, digby plukgereed. Dan stap ons ’n draai deur die groentetuin. Vir Lienie, self ’n ywerige kok, ’n malse, heerlike speelgrond – genoeg om enige sjef na potte en panne te laat gryp. Tussen die geur van tamatie, basiliekruid en laventel op ’n somerblou Kaapse oggend raak die vlies tussen hemel en aarde vir ’n wyle ekstra-dun.

Swart vye hang aan bome. By die ingang van die huis rank glippertjies. Lienie vertel van 30 kg sonbruin heuning wat Pa en Seun onlangs kon oes. Oor twee dae is dit die sauvignon blanc se beurt. Die jare 2016 en 2017 se vrug van die wingerd lê in die koel kelder onder die huis gebottel. Vir die olyf-en granaatbome se opbrengs gaan hulle nog moet wag. Maar Klein Sering, die afgelope paar jaar die Koens se tuiste, stort reeds daagliks talle seëninge op hulle uit.

’n Groter plan

Lienie se hart is vol. “Klein Sering, of die idee daarvan, is maar in 2010 gebore. Ons het vir byna twintig jaar in Rondebosch gewoon. Vir my sal dit altyd die plek wees waar al vier ons kinders klein was en grootgeraak het.” Sy het kuns studeer toe die mediese student Willie Koen haar aan die Universiteit van Pretoria raakgesien het. “Vandag, op 54, voel dit of ons self maar nog kinders was toe ons later begin kinders kry het. Gelukkig vir die Here se groter plan want hulle was almal onbeplan! Daar was vier kinders in vyf jaar, die laaste tweetjies ’n tweeling.” Hulle is Durban toe waar Willie in kardiotorakale chirurgie begin spesialiseer het, ’n uitgerekte, opdraende pad vir die jong gesin. “Vandag is hy ’n hartoorplantingchirurg, iets wat geweldig baie van hom verg. Dis grotendeels lewe of dood situasies en hy is ’n geroepe dokter. Ek kon nog by tye deeltyds klas in kuns gee maar met die koms van die tweeling het dit te veel geraak. Soms was dit moeilik vir my. Dan dink ek nou is ek net weer in die kar op pad na ’n kind se sport of musiek toe … Maar dit was ’n keuse. Ons kinders is vir ons kosbaar. Johan (28) spesialiseer nou ook in kardiotorakale chirurgie, Ramona (26) gee voorskoolse onderwys en hul 22-jarige sussies studeer nog. Jodine is gekeur om veeartseny in Grenada te gaan studeer, sy het ’n honneurs in Dierkunde en Liné doen B.Mus met twee hoofvakke, Musikologie en Operasang.”

Dit was toe die kinders uit die huis uit is – “nie goed vir hul ma se psige nie” – dat hulle begin rondkyk het vir ’n plasie wat nie te ver van Willie se werk by die Christiaan Barnard hospitaal in die stad is nie. “Ek was, nes hy, immer op ’n hollie-patrollie. Ons het ’n behoefte daaraan gehad om stiller te gaan, terug te kom aarde toe. Willie kom van sy pa se bergplaas, Sering, in die buitewyke van Pretoria, en is steeds in sy hart ’n berg-en grondkind. Ek doen die pluimvee en groente, hy die wingerd. Saans as hy by die huis kom, klim hy op sy trekkertjie en woer, daar gaat hy … ” Dit was nie ’n maklike besluit nie. “Toe ons uiteindelik dié barre stuk grond – met net droeë, vertrapte fynbos en grashope daarop – hier in Noordhoek gekry het, het ons baie getwyfel. Dit was boonop ’n moeras, wat verstopte water van oral opgevang het. Dit het eintlik hopeloos gelyk. En tog wou ons dit doen.” ’n Vriendin, onbewus van die moeilike besluit maar “sag van gees”, stuur toe vir Lienie uit die bloute ’n boodskap, Deut. 8:7. “Die Here jou God gaan jou in die goeie land inbring, ’n land van baie water, fonteine en riviere wat oral ontspring; ’n land van koring en gars, van wingerde, vyebome en granate; ’n land van olyfbome en baie heuning … ”

Lienie sluk. “Dit was só in die kol. Daar wás ’n fontein op die grond; ons kon drie boorgate sink vir helder, skoon water. Klein Sering vorm deel van die oorspronklike De Goede Hoop plaas wat eens die produktiefste groenteverbouingsgebied in die Kaapse Skiereiland was. En goeie dreinering het werk gemaak van die moeras. “Ons kon in 2013 4 500 wingerdstokke, veertig granaatbome en sestig olyfbome plant en tien heuningkorwe vestig. En die volgende winter plant ons toe koring tussen die wingerd om kos te gee vir die wingerdstokke wat ons dan in die grond terugploeg.” Hulle het terselfdertyd begin huis bou. Nog ’n uitlaatklep vir Lienie se kunssinnigheid en huisvlytvaardighede. As sy nie boer nie, skilder sy (nie genoeg nie), of werk aan ’n tapisserie. Tussendeur lees sy als waarop sy haar hande kan lê. Iewers glip dit uit dat Willie haar Bytjie noem. Jy wonder nie juis hoekom nie. Klein Sering is naby die koue Atlantiese oseaan wat die wingerd met ’n seebries laaf sodat die druiwe lekker stadig ryp kan word. Hulle is aangeraai om Sauvignon Blanc en Semillon te plant. ’n Bekende wynmaker uit die omgewing het na die eerste druiwe-oes kom kyk. “Toe hy ons vra of ons dit aan hom sal verkoop, het Willie daar en dan besluit om sy eie wyn te maak. Hulle sê mos darem nie verniet ’n goeie druif maak goeie wyn nie!”

Tussen die geur van tamatie, basiliekruid en laventel op ’n somerblou Kaapse oggend raak die vlies tussen hemel en aarde vir ’n wyle ekstra-dun.

Geloofspad

Lienie se geloofslewe is soos die skilderye wat sy maak. Laag op laag gevorm. “Dit is ’n wonderlike, steil, moeilike, intense, fantastiese pad. Ek ken verlies. Maar as ek terugkyk, was Hy altyd daar. My kindertyd was moeilik. Dit het my geleer om te veg vir wat vir my belangrik is. By ’n veldskool … ek was sestien … was dit een aand of Hy my net gevát het. Ons het in die middernagtelike ure vir iemand wat verjaar het O Heer my God, as ek in eerbied wonder, gaan sing … ”

In Rondebosch het ’n groep van twaalf vriendinne ’n Bybelstudiegroep begin wat twaalf jaar lank ’n integrale deel van hul lewens was. “Ek was aanvanklik totaal uit my diepte uit en het geen geheim daarvan gemaak nie. Dan sê hulle vir my: ‘dis hoekom jy hier is; jy is uit jou diepte uit!’”

Sy lag. “Benewens die wonderlike samesyn kon ons ook by tye in mekaar se diep hartseer deel, ’n groep ‘roeiers op die rugbreekrivier’ van die lewe soos die titel van ’n boek dit so mooi sê. Verlies is deel van ons almal, of dit nou ’n verlies aan vriendskappe of jou ouers of jou huwelik is. Dit gaan met geweldige emosies gepaard wat jou behoorlik omdop. Daarom maak dit ook later jou vlak van verstaan van ander se seer dieper.

“Die Here praat dikwels die meeste met my deur wyse, sogenaamd eenvoudige mense wat ’n pad met die waarheid loop. Wildvreemde mense het al vir my dinge kom sê wat my behoorlik geruk het en dinge vir my oopgebreek het.”

’n Joodse rabbi het vir hulle kom Mazel Tov (baie geluk) toewens met hul tweede wyn-oes. Die wynkraffie wat hy as geskenk gebring het, het ’n hart in die middel gehad – “nie net omdat Willie ’n hartchirurg is nie, maar omdat die drink van wyn in die Joodse tradisie baie nou met die hart verbind is. Wyn kan help om mense openhartiger te maak en verbintenisse te verstewig.”

Vir nou is Klein Sering die plek waar sy en Willie moet wees vir die beloftes van kalmte en vrede wat die Here vir haar gegee het. “Waar ons andersins soms by mekaar verby geleef het, bring die tye in die hoenderhok, die eendhok, die groentetuin en die wingerd weer perspektief. Ons kan stil word hier, mekaar van voor af waardeer. Wat ’n reis is dit nie! Maar tog een waarop ek kan terugkyk en sê: dit was goed, groot en mooi. Dit laat my baie klein voel. Die Here het na my blý kyk.”

2018-03-29T18:59:17+00:00