Lééf gesond

Leef lig!

Deur Vivienne Heath | Foto’s Hanneri de Wet

’n 40-dae-reis kan help om jou gesondheid te verbeter én om jou in die proses nader aan God te bring.

Die hoeveelheid dae wat aan ons elkeen toegeken is – hoe lank ons lewe – is uiteindelik in die Here se hande, maar ons alledaagse keuses het ’n dramatiese invloed op die gehalte van daardie dae. Ons het nie die mag om ’n enkele oomblik by ons lewe te voeg nie, maar ons het die mag om die meeste uit die lewe in daardie oomblikke te kry.

Hoekom 40 dae?

Regdeur die Bybel verteenwoordig die getal 40 ’n tyd van beproewing wat gewoonlik die weg baan vir iets nuuts. Dink byvoorbeeld aan die Israeliete wat vir 40 jaar in die woestyn was – ’n reis van slaaf tot kind van God. Dink aan Noag en die ark – 40 dae van reën om die wêreld skoon te was en die mens ’n nuwe begin te gee. Jesus is vir 40 dae in die woestyn in die versoeking gelei nadat Hy gedoop is – en dit het Hom van timmerwerk tot by Sy bediening geneem.

Dié reis is ontwerp om die leuens wat jy dalk glo en die afbrekende gewoontes wat jy aangeleer het, bloot te lê. Dit het ten doel om jou liggaam, siel en gees te reinig, en hulle in ooreenstemming te bring met God se ontwerp en gebod. Dit is ’n 40-dae-vas van suiker en graan – om jouself te weerhou van iets wat elke dag deel uitmaak van jou lewe en hopelik iets te kry wat oneindig beter is! Dit is ’n beroep om terug te keer na die basiese van ’n eenvoudige lewe.

Die basiese beginsels van gesondheid

Om oorgewig te wees, is ’n teken dat ons lewe ongebalanseerd is. Dit dui op iets groter as ’n blote langtermyn-kaloriewanbalans (deur meer kalorieë in te neem as wat jy verbruik). Dit is maar net een van die voor die hand liggende tekens dat ons gesondheid nie goed is nie.

Om deurgaans een van die sewe basiese beginsels van gesondheid te verwaarloos, sal daartoe lei dat jy ongebalanseerd is – amper soos ’n wankelrige stukkie klei op die pottebakker se wiel wat nie in balans is nie. Ons voel dit instinktief aan en probeer dan om ons lewe weer in balans te bring, maar dikwels sonder sukses.

1. Jy is geskep om ’n liefdesverhouding met God te hê

‌Om hierdie eenvoudige waarheid te ignoreer kan geweldige gesondheidsprobleme veroorsaak. Om in ’n konsekwente en eerlike verhouding te wees waar jy met Jesus, die Vader en die Heilige Gees kan gesels, is die eerste tree tot ’n gesonde verstand, gesonde hart en gesonder liggaam. Die Drie-eenheid is in perfekte harmonie met mekaar. Hulle leef op so ’n wyse dat hulle mekaar met hul lewe eer. ‌Indien jy in die volheid van jou roeping en lewensdoel wil wandel, glo ek dat jy mettertyd ’n verhouding met elke Persoon van die Drie-eenheid moet ontwikkel. In oorstemming met hierdie fundamentele waarheid, word jy uitgenooi om elke dag ’n geskikte private plek en tyd te kry om die Bybel te lees, jou hart in gebed teenoor God oop te maak en jou gedagtes neer te pen.

2. Verbeter die gehalte van die brandstof wat jy jou liggaam gee

‌Knaende honger kan moontlik ’n teken wees van laegraadse wanvoeding. Kies die tipes kosse wat die naaste is aan hoe God dit oorspronklik geskep het om te wees.

Vergeet van die ou voedselpiramide. Ons hoofbron van voedsel moet vanuit die aarde kom. Dit was oorspronklik op God se spyskaart (sien Genesis 1:29). Hy gee aan ons groente (eetbare blare, wortels en stamme), vrugte (sappige vrugte wat uit blomme ontwikkel), sade en neute (’n bron van proteïene wat plante gee), asook die olies wat daaruit kom. God het self vleis ná die groot vloed gegee (sien Genesis 9) en ek vermoed dat eiers, suiwel en vis ook gedurende hierdie tyd bygevoeg is. Elke maaltyd behoort ’n palmgrootte hoeveelheid proteïen te bevat (vleis, pluimvee, eiers, suiwel, soja, neute en sade).

Vermy “glutenvrye” plaasvervangers. Keer terug na eenvoudige, ongeprosesseerde maaltye.

Vermy alle geprosesseerde vleis, en maaltye wat reeds gaargemaak en verpak is.

Verskeidenheid is belangrik. Moenie elke dag dieselfde maaltye eet nie.

Vergeet van die leuen dat olies vet maak. Sny al die laevet-dieetkosse uit jou koskas en yskas. Bestudeer ’n bietjie die etikette daarop en jy sal sien dat laevet gewoonlik beteken dat dit baie suiker en/of koolhidrate bevat.

Hierdie reis is nie ’n dieet nie. Dit is ’n vas om terug te keer na God se oorspronklike plan; kies daarom natuurlike, gesonde kosse.

Vermy alle bygevoegde suiker (lekkers, koek, alkohol) en meelblom, oftewel koring (pasta, koeskoes, brode). Die kern van jou vas is die volgende: Om jouself gedurende hierdie 40 dae van suiker en koring te ontneem, is wat maak dat jy nederig voor die Here se voete kan sit. Maak dit die een punt wat ononderhandelbaar is.

Lees die etikette wat op kos se verpakking is. Plantolies soos olyfolie is die beste keuse. Gebruik suiwel vir geur: kaas, botter, en volroomjogurt en -melk.

3. Water is noodsaaklik vir gesondheid en lewe

Ontwatering word soms verkeerdelik as honger geïnterpreteer. Elke proses wat in die liggaam plaasvind, vereis water. Stadige liggaamlike funksies, soos om kos te verwerk, kan verbeter word deur genoeg water in te neem.

Om gestoorde vet na energie om te skakel is nog ’n liggaamlike proses wat water vereis. Om te probeer om gewig te verloor sonder genoeg water is moeilik. Verbind jouself daartoe om gedurende die 40 dae 2 liter water per dag te drink. Kry ’n 2-liter-waterbottel wat jy daagliks kan vol maak om te sien hoeveel water jy al gedrink het. Onbehandelde water is die beste as dit gefiltreer is.

4. Die natuur

‌Dit raak al hoe meer duidelik dat ons elke dag 20 tot 60 minute van vars lug en sonskyn benodig vir goeie gesondheid. Ons liggame funksioneer nie optimaal wanneer ons groot gedeeltes van ons lewe in lugverkoelde vertrekke onder kunsmatige lig deurbring nie. Maak net die gordyne en vensters in jou huis en kantoor oop, en jy kan die buitekant binnetoe bring.

Probeer om elke dag tyd buite deur te bring gedurende hierdie 40-dae-reis. Geniet die son se hitte op jou vel, veral op dele van jou lyf wat gewoonlik weggesteek is, soos jou voete. Probeer om selfs op koue dae ’n entjie te gaan stap. Dit mag jou dalk net verbaas om te sien hoe verfrissend dit kan wees. Haal diep asem. Om buite te wees, het ’n manier om ons nader aan die natuur en God se groter prentjie te bring.

As jy ’n buitengewoon ligte vel het, of as daar ’n familiegeskiedenis van velkanker in jou familie is, sal jy moontlik verkies om ’n hoë sonbeskermingsfaktor te gebruik.

5. Oefening: Ons is gemaak om te beweeg

‌Spiere en gewrigte werk saam om beweging moontlik te maak. Ons liggaamshitte neem toe, ons hart klop vinniger, ons verbrand kalorieë en ons brein skei goedvoel-hormone en endorfiene af. ’n Mens se liggaam het drie tot vyf dae per week 30 tot 60 minute se oefening of beweging nodig vir goeie gesondheid.

Ek moedig jou aan om gedurende hierdie 40-dae-reis te begin om ses dae ’n week (of vyf as jy nie ekstra gewig het waarvan jy ontslae wil raak nie) tussen 7 000 en 10 000 treë, of die ekwivalent daarvan, te loop. Jy sal ’n treëteller nodig hê – jy kan eenvoudig ’n toepassingsprogram op jou selfoon aflaai wat jou treë tel of aktiwiteit monitor.

Indien jy besonder onaktief en onfiks is, werk mettertyd na jou doelwit toe en bou op na 10 000 treë. Beplan hoe jy dit gaan regkry deur die loop van die dag: klim die trappe, stap na die winkel toe, ensovoorts. Skeduleer ook tyd vir formele oefensessies as jy weet van ’n klas wat aan jou behoeftes sal voldoen. Kies versigtig.

6. Slaap en rus

‌Die dag is daar om aktief te wees en die aand vir slaap en herstellende rus. Navorsing het getoon dat jou waardevolste slaap tussen 22:00 en 04:00 geskied. Hou boek van jou slaappatrone en skep doelbewus ’n persoonlike balans. Te min sowel as te veel slaap kan skadelik wees vir jou gesondheid.

Terwyl ons slaap, word voedingstowwe aan ons weefsel verskaf en gifstowwe verwyder. ’n Mens kan sterf ná tien dae sonder slaap. Slaap en rus is nie tydmors nie, maar ’n strategiese belegging in ons gesondheid. Om God se patroon van ses dae van werk en een dag van rus (sien Genesis 2:2–3) te eer, sal nie produktiwiteit of kreatiwiteit verminder soos jy dalk mag dink nie. Gee God toestemming om jou roetine en patrone van rus gedurende hierdie reis te verander.

7. Om te vas is God se manier om ons vleeslike liggaam op ’n plek van onderdanigheid te bring

Vas verootmoedig die eetlus wat in baie gevalle die heerser van ons lewenskeuses geword het. Om te vas skep ’n onderbreking waartydens die spysverteringstelsel kan rus en die liggaam homself kan reinig en herstel. ‌Daar is ’n fundamentele verskil tussen vas en ’n dieet volg. Gedurende ’n dieet gebruik jy die vlees (verstand en wilskrag) om jou doelwit te bereik. Om te vas verg ook inspanning van jou verstand en wilskrag, maar draai hoofsaaklik om die gees wat oor die siel en liggaam heers. Romeine 8:6 stel dit soos volg: “As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede.”

Uittreksel uit Leef lig deur Vivienne Heath met toestemming gebruik. © Struik Christian Media, 2018

Wen! Twee gelukkige lesers kan elk ’n kopie van Leef lig deur Vivienne Heath met komplimente van Struik Christian Media wen. Stuur jou naam en kontakbesonderhede aan navrae@leef.co.za saam met die antwoord op volgende vraag: Watter twee dinge mag jy nie eet of drink tydens die vas nie? Sluitingsdatum: 31 Mei 2018
2018-03-29T18:59:44+00:00