Hartstog

Kuier-kuier…

Foto’s verskaf

Grethe Roets het onlangs ’n draai deur die Natalse Middellande gemaak…

As die mis insweef oor die heuwels van Natal se Middellande dwing dit jou tot stilstand. Dis die tipe landskap wat sprokies inspireer en elke seisoen in sy volheid ervaar word – die kraakvars groen van lente, soel laatmiddag somerreën, gloeiende hersfkleure en die belofte van sneeu in die winter, met ’n kaggel wat knetter om elke hoek en draai.

Dis onmoontlik om in ’n naweek, of selfs ’n week, alles te doen, so hier moet jy nie eens probeer om jou lysie af te merk nie. Langs grondpaaie en systraatjies langs moet jy tyd neem om alles in te drink. Met ’n liefde vir die gemeenskap en die lowergroen omgewing word eenvoud hier gevier en word jy ingenooi om weer die gras onder jou voete te voel en in verwondering na die blarekoepel bo jou te staar.

Oral mooi

Die R103 neem jou deur die kronkels en oor die heuwels van The Midlands Meander, een van ons land se gunsteling kuns- en toeristeroetes wat in 1985 deur ’n groep kunstenaars begin is om besoekers na hulle plattelandse studio’s uit te nooi. Hier is geen tekort aan kuns, goeie koffie en kos vir die siel nie. Dis nie net die natuurlike landskap wat prentjiemooi is nie, maar ook die tuine en die Open Midlands Gardens is elke jaar oop van September tot Desember waar jy 30 verskillende tuine kan besigtig. Nadat jy die natuurskoon waardeer het, draai eerste af na Howick en stop by Yard 41. Neem die uitsig in vanaf The Farmer’s Daughter se stoep, flat white in die hand, en stap dan oor na The Ruby Orchid wat ’n interessante versameling kuns en unieke geskenke huisves. Hier kan jy ook uitkyk vir oorspronklike nuwe plaaslike kunstenaars wie se werk gereeld vertoon word. Een van hierdie is Lara Waldburger, wat die skoonheid van die streek vasvang in die kleure van haar botaniese waterverfskeppings.

Ry net ’n entjie verder vir ’n verrassende stukkie geskiedenis, die Mandela Capture Site, waar Nelson Mandela in 1962 gevange geneem is. Soos jy in die paadjie opry groet 50 staalkolomme jou. Hoe nader jy egter stap vorm ’n gesig, die van Mandela, al duideliker. Hierdie is iets om te aanskou, ’n 30 meter lange kunswerk deur Marco Cianfanelli en Jeremy Rose, die grootste van sy soort in Suid-Afrika. Na die museumbesoek is dit tyd vir middagete by die geliefde Piggly Wiggly, ’n Middellande-baken. Wandel deur die byekorf van, onder andere, essensiële-olies, klere van plaaslike ontwerpers, deliprodukte, meubels en loodglaskuns. Die kinders kan selfs op ’n klein stoomtreintjie deur die gronde ry.

Die rustige pas bied die perfekte kweekgrond vir ’n wye verskeidenheid produkte wat nog keurig deur vakmanne en foendies gemaak word.

Kuns te kies en keur

Soos jy verder stadig padlangs deur die draaie gaan kan jy net om jou rondkyk om saam met die Hongaarse kunstenaar, Erwin Bossanyi, te stem wat gesê het “The beauty of all nature is but a frame of a greater glory.” Die produk van sy bewondering en vrug van sy arbeid is een van die versteekte fondse van die streek en sy kleurryke loodglasvenster is die kroon van die kapel by Michaelhouse. Die kapel is ontwerp deur Sir Herbert Baker in 1908 en is oop vir die publiek om te besoek. Hier moet jy stilstaan. Die Roosvenster toring bo jou uit met Christus in die middelpaneel met swart en wit duifies in sy hande en rondom Hom fladder die kunstenaar se interpretasie van die voëls van die omgewing.

’n Omgewing wat steeds kunstenaars in alle mediums inspireer – van Astrid Dahl se elegante wit keramiek tot die beeldhouer Sarah Richards se bronsbeelde, met soveel emosie en beweging, dat jy voel dat dit enige oomblik lewend kan word! Die Cavershim afdraai neem jou ook na Fée Halsted se internasionaal bekende kunstenaarspan by Ardmore Ceramics se nuwe galery en museum. Die prettige en komplekse ontwerpe van hierdie stukkies kultuurerfenis is al vertoon in galerye en museums reg oor die wêreld. Dit dien ook as ’n besonderse voorbeeld van plaaslike kreatiwiteit en werkskepping wat hande geneem het om die mees besondere versamelstukke te skep.

In die Middellande kan jy jou skoene uitskop, diep asemhaal, stadiger loop en jou siel kom voed.

Handwerk-hemel

“Hier sal jy nog beeste en trekkers as verkeer aantref” lag Marian Evans, bestuurder van die Midlands Meander Association. Die rustige pas bied die perfekte kweekgrond vir ’n wye verskeidenheid produkte wat nog keurig deur vakmanne en foendies gemaak word. Twee sulke voorbeelde, waar vakmanskap gevier word, is Groundcover Leather en Shuttleworth Weaving. Groundcover Leather se winkel is ’n besoek werd, nie net vir leerprodukte nie, maar vir die gebou se besonderse storie. Die geboutjie van herwinde sink is meer as 100 jaar gelede per skip vanaf Duitsland na Suid-Afrika gebring en het meer as ’n jaar geneem om uiteindelik ten volle sy staan te kry. Die hele besigheidsmodel is ook gegrond daarop om so volhoubaar en omgewingsvriendelik as moontlik te wees. Reënwater word opgevang, gryswater herwin en sonpanele vir elektrisiteit benut om uiteindelik die hele winkel selfonderhoudend te maak. Shuttleworth Weaving deel hierdie waardes en gebruik slegs omgewingsvriendelike en natuurlike stowwe om hulle kenmerkende hangespinde wol en gare te maak. Andy en Helen Shuttleworth het in 1976 hulself begin leer weef en vandag, tesame met hulle seun Robert, vorm ’n verdere nege Zulu-wewers deel van die span wat hul skeppings uitvoer na Amerika, Kanada en Italië.

Die laaste stop van elke dag is natuurlik altyd koffie – verkwikking vir die gees en vlees. Ry deur die karaktervolle Nottingham Road en loer in by The Collective, Relish, Cafe Bloom of Blueberry Hill of neem die grondpad uit Curry’s Post toe na Terbodore Coffee Roasters. Die geur van ’n varsgemaalde cappuccino groet jou saam met die groot Great Dane, wat nie net die embleem van die 14 jaar oue plaaslike gunsteling is nie, maar ook simbolies vir die geduld en durf wat dit geneem het om hierdie perfekte koppie boeretroos te kry waar dit vandag is. Hier in die Middellande kan jy jou skoene uitskop, diep asemhaal, stadiger loop en jou siel kom voed, want hier gee die mense, kunste en natuur die pragtigste vertoonvenster vir ‘Die Groter Glorie’.

2018-03-29T19:00:00+00:00