Geloof het ‘n adres

Dis nou rojaal!

Deur Lizette Murray | Foto’s Hein van Tonder & Andrew Gorman

In die hart van die vrugbare Elginvallei leef die appelboer, Arno Reuvers, daagliks die gawe van gasvryheid met oorgawe uit.

Wanneer jy met die N2 oor Sir Lowry’s Pas in die rigting van Caledon ry, maak die ongenaakbare skurwe rotse oral plek vir rye en rye vrugteboorde – soms tot teenaan die grootpad. Jy hoef nie te raai nie. Dis peer- en appelwêreld dié. Jy is in die hart van die vrugbare Elginvallei.

Knap na die Peregrine-padstal draai ons regs op die Viljoenshooppad. Ons ry met die netjiese smal teerpad tussen vrugteboorde en plaashekke – tot by die uithangbord en skuur neffens die hek.

Rojaal – sê die vloeiende wit letters op die ovaalvormige rooi bord teen die deur – en daaronder: Est. 2016.

Rojaal. Die woord dra die klank van ouwêreldse gulhartigheid. Van gasvryheid sonder voorbehoud. Van ruimhartige gewers wat sonder afmeet skep en bedien. Maar Rojaal verklap ook iets van tydlose, statige elegansie. Dit vertel van kwaliteit en afronding. Dit eggo in die name van fyn porselein op die uitstalrakke: Royal Albert. Victorian Rose. Royal Dalton.

Arno Reuvers, eienaar van Rojaal, stem saam.

“Die naam Rojaal versinnebeeld Suid-Afrikaanse gasvryheid – die oorvloed sowel as die sorg en liefde waarmee elke maaltyd voorberei en bedien word. Ek glo elkeen van ons deel een of ander gelukkige herinnering. Dis ’n sweempie van daardie ware geluk wat ons hier by Rojaal probeer vasvang.”

Die naam Rojaal versinnebeeld Suid-Afrikaanse gasvryheid – die oorvloed sowel as die sorg en liefde waarmee elke maaltyd voorberei en bedien word.

Om die tafel

Arno se ouma, Driekie Kotze, was ’n gul mens wat mense om haar tafel in die Tankwa-Karoo bymekaar gebring het.

“Met Rojaal wil ek ook graag haar nagedagtenis eer. My ouma was een van elf kinders. Die kos wat sy voorgesit het, was haar manier om haar omgee en liefde te wys.

“My herinneringe aan die Karoo loop sterk. Ek wil graag dat iets van daardie plattelandse gulheid en gasvryheid by Rojaal beslag kry.”

Teen die een muur het Arno naambordjies aangebring, met die name van plase wat hy as kind geken het. Party van hulle is verkoop en die plaasname is verander. Ander bestaan bloot nie meer nie. Vir hom is die name deel van die Afrikaanse erfenis wat hy op dié manier behoue wil laat bly: Diepkloof. Grietjieshoek. Brakkerivier. Blaauw Koppen. Swartrug. Onder-Wadrif. Waatlemoensfontein. Soetmeisiesfontein. De Bos.

Ek en Arno sit by ’n melamien-tafeltjie in sy restaurant. Oral op tafels en plat oppervlaktes staan glaspotjies en -vase en erdebekers met vars kontreiblomme, varings, fynbos en loof – asof in die verbygaan afgepluk en terloops gerangskik. Dit gee ’n hartlike huislikheid. ’n Gevoel van: Dis ons plek dié. Hier leef en werk ons.

Buite die oop skuifdeur na die berge se kant lê die vallei soos ’n landskapskildery in vloeiende kleure geverf. Lanings grysblaarbloekoms. Plaasdamme. Golwende grasveld met wit sparreheinings. Naaldeike al op ’n grensdraad. Wit plaasopstalle – klein en ver tussen die groen. Vrugteboorde met appels en pere. En ver en hoog en net-net sigbaar: die wal van die Steenbrasdam. Teen die gesigseinder lê die Hottentotshollandsberge – rustig-wakend oor die vallei en sy mense.

Op die grootpad ry vrugtevragmotors met hul kratte verby – óf dieper die vallei in om vrugte te gaan oplaai, óf terug na die N2 met hul kosbare vrag. Die fyn mis wat van die see se kant af oor die bergkruine stoot, kom rus in die holtes van die voetheuwels. Dit versag die son op die plante rondom die stoor. Die krismisrose blom pienk en bloupers in die skadu teen die sinkplaatmuur. Die wit rankroos strek sy lote oor die heining se dwarspaaltjies.

Sonder haas

Dié vredigheid lê ook in die mense van die plek. Hulle is nie haastig nie. Charmaine Valentine, die bestuurder, sê dat dit die verskil tussen Rojaal en die vinnige eet-en-ry by ander eetplekke langs die pad is.

“Hier kom mense sit. Hulle kuier. Die tyd kan maar aanstap. Daarom verkies Orscilla Hitchcock, die sjef, dat besoekers vooraf bespreek. Dan weet sy niemand hoef te wag vir ’n plek by ’n tafel nie. Elke gas verdien die beste – of jy inloer vir iets ligs om aan te peusel of vir een van die meer vullende geregte.”

Rojaal is Arno se breinkind waaroor hy lank gedroom het. Hy is ’n perfeksionis en wil nie sommer iets aanpak as dit dalk ’n mislukking kan wees nie. Wanneer hy egter in ’n saak glo, druk hy deur.

Na baie wik en weeg het hy dus die blommestoor vlak langs die pad gekoop en in ’n restaurant omskep. Van buite af lyk dit nog kompleet soos ’n pakhuis, met sy sinkplate en groot sinkplaatskuifdeure. Binne skep die pragtige houtbalke teen die oop plafon en pragtige skilderye teen die sinkplaatmure ’n huislike atmosfeer. Die sinkplate gee dit die plaasskuur-effek, terwyl die skilderye styl byvoeg.

Die gevoel van tuiskom en terugsit word versterk deur die ou plaastelefone teen die een binnemuur, die rolpers waarmee lakens gedroog word, die emaljebaddens wat in diep sitbanke omskep is, die olielampe op die tafels, die gietysterkateltjies wat as sitplekke dien, die Persiese tapyte op die sementvloer. Oud en nuut word vernuftig saamgevoeg. Op ’n witgeverfde houtdeur wat dwars bo-op twee bokkies rus, is ’n verskeidenheid soetgebak onder klokglas uitgestal. Wortelkoek, sjokolade-kaaskoek, appeltert, elk met ’n vars oop roos daarby – laat jou mond by voorbaat water.

Oral op tafels en plat oppervlaktes staan glaspotjies en -vase en erdebekers met vars kontreiblomme, varings, fynbos en loof – asof in die verbygaan afgepluk en terloops gerangskik.

Nog ’n skeppie

Dieselfde bymekaarbring van twee wêrelde vind ’n mens in die kos. Die eenvoud en nostalgie van vervloë tye gekombineer met eietydse kosneigings. Mieliepap word vernuftig gekamoefleer in ’n keurige mieliekoekie met biltongmousse. Jy kan jou maklik verbeel jy sit in ’n Franse restaurant. Of in die hart van ’n eksklusiewe boetiek-eetplek in ’n wêreldstad. Maar as jy by die groot skuurdeur uitkyk, lê die groen boorde en plantasies van eie bodem voor jou.

Nadat Arno die Camino in Spanje gaan stap het, het hy met ’n nuwe waardering vir die Spaanse kookkuns teruggekom. Die eenvoud en aardsheid daarvan, terwyl dit terselfdertyd geurig en pikant is, het hom aangespoor in die saamstel van sy spyskaart.

“By Rojaal bedien ons kos met ’n verskil. Dis nie jou gewone plaasstal-kos nie. En hiervoor is Orscilla – met haar unieke styl – nét die regte persoon,” verduidelik Arno.

“Sy het selfs haar draai as sjef in Leeuwenhof, die amptelike woning van die Premier van die Wes-Kaap, se kombuis gemaak.”

Orscilla gee al die tydlose plattelandse gunstelinge ’n unieke Rojaal-stempel – van roosterkoek tot tradisionele hoendersosaties. Sakemanne bestel dikwels ’n groot platbord met pintxos, ’n verskeidenheid keurige happies soos snoekpatee met korrelkonfyt en melba-roosterbroodjies. Gaste sit aan vir eksotiese fynproewergeregte; ’n reuse buffetete elke laaste Sondag van die maand; of ’n verskeidenheid burgers op ’n Vrydagaand.

Elke maaltyd word in die klein oopplan-kombuis berei – en keer op keer word die gaste verras deur die onverwagse, onwaarskynlike pasmaats.

Die spyskaart bring twee wêrelde by mekaar: Elegansie en aardsheid.

Voor op die spyskaart is die naam Rojaal in fyn krulletters binne ’n ovaal raampie aangebring – soos onderaan fyn porselein. Dit herinner aan kwaliteit en afronding. Aan koninklikheid (royalty) en styl. Die rooi aalwyn voorop beklemtoon dat Rojaal eg-Suid-Afrikaans is.

Op die spyskaart verskyn die Afrikaanse naam van die gereg met die Engelse beskrywing.

“Ek hoor dikwels hoe Engelse of buitelandse gaste hul Afrikaanse tafelgenote vra om die name van disse vir hul uit te spreek. So het een, toe hy groet, vir my bedank deur ’n paar keer “Skitterend!” te sê nadat hy die Skitterende Hoenderslaai geëet het.”

Die spyskaart is prettig en speels. Die soetgebak word aangekondig met ’n enkelwoord: Soetes. Een van hierdie ‘Soetes’ is die Vergeet-my-Nietjie kaaskoek. Die ontbyt vir klein eters heet ‘Rojaaltjie’.

Kinders is welkom by Rojaal. Daar is ’n spesiale kinderspyskaart en na ete kan hulle op die graswal kerjakker terwyl die ouers buite onder sambrele sit en kuier. Wintertye sorg die kaggelvuur dat tyd gaan stil staan.

Gaste sit aan vir eksotiese fynproewergeregte; ’n reuse buffetete elke laaste Sondag van die maand; of ’n verskeidenheid burgers op ’n Vrydagaand.

Opgedra aan Hom

“My oupa het ná ’n liefdesteleurstelling in 1921 uit Nederland in die vallei aangekom. Op die boot het iemand vir hom van die vrugbare Elginvallei vertel. Hy het as voorman op een van die plase begin werk en later self grond gekoop. Mettertyd het die familie hulle hier gevestig. Ek is die derde geslag Reuvers wat hier op Heideland boer.”

Nadat Arno sy BSc Landbougraad en Honneurs in Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, het hy op Heideland begin boer. Tussen sy boorde en in sy restaurant leef hy sy roeping as Christen prakties uit.

“My geloof is die spilpunt waar rondom alles draai. Woensdagoggende kom ek en my personeel in die kombuis bymekaar. Ons vat hande en dra ons dag en elke individu aan die Here se sorg op.

“My twee plaasbestuurders, Coenraad Groenewald – op Heideland naby Grabouw – en Ivan Steenkamp – op Champagne by Greyton – is my regterhande. Ons stap saam ’n pad met die Here. Hulle bid ook elke oggend saam met hul plaaswerkers voordat hulle die dag begin.

“Ek glo dat ander dinge dan in plek val. Wanneer daar ongelukkigheid oor iets is, help hierdie vroegoggend-oomblikke dat ons mekaar weer vind.

“Ek pak elke dag en sy probleme biddend en in afhanklikheid aan. Die Here is getrou. Daar was nog altyd uitkoms.

“Tydens die uitgerekte droogte aan die begin van die jaar was daar ’n wolkbreuk oor my plaas. Ten spyte van die haelskade, het die reën groot verligting gebring. Ons prys God daarvoor.”

Dis Woensdag. Arno moet weer inval tussen die boorde. Maar hy sit eers rustig en kuier. En hy gaan loer eers vir oulaas by die kombuis in om te sien of almal gelukkig is.

Buite op die draad voor die pakstoor wapper ’n ry wasgoed – voorskote. Afdroogdoeke. Kombuislappe. ’n Vrolike wuiwende afskeidsgroet wanneer ons by die hek uitry.

Bly op hoogte van die gebeure by Rojaal deur dit op Facebook (https://web.facebook.com/Rojaal-Est-2016); Twitter @Rojaal_Est2016; en, Instagram by rojaal_est2016

2018-04-05T19:37:49+00:00