Boekgesprek

Lééf gesels met Benescke Janse van Rensburg oor haar jongste boek, 5 Minute saam met God, ’n nuwe dagstukkieboek wat wys dat wanneer ons selfs net enkele minute saam met God deurbring, ons die krag en moed sal ontvang om probleme aan te pak en die lewe te leef wat God vir ons beplan het.

In 5 Minute saam met God herinner Benescke Janse van Rensburg jou in 52 kort, inspirerende gedagtes dat God genoeg is, dat jy waardevol is vir Hom, dat Hy weet wat Hy doen, en dat Hy wag om jou te troos en te bemoedig. Elke stukkie word ook gekomplementeer met ’n aanhaling en vyf teksverse oor die tema wat jou nader aan God sal trek.

Benescke Janse van Rensburg het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Sy het ’n BA-graad, ’n onderwyssertifikaat en ’n honneurs- en meestersgraad in Joernalistiek verwerf. Sy het haar loopbaan in die radio-bedryf begin as programkoördineerder en aanbieder by Radio Kansel. Sy is vandag betrokke by Radio Tygerberg en is ook programaanbieder op kykNET. Verder is Benescke een van die skrywers vir die “Vers-’n-Dag”-elektroniese dagstukkies wat daagliks na meer as 80 000 intekenare oor die hele wêreld uitgestuur word. Sy skryf ook vir verskeie geestelike en inspirasietydskrifte en tree gereeld as motiveringspreker op. Sy is getroud met Johannes, ’n biokinetikus wat sy eie praktyk in Bellville besit, en hulle het reeds met ’n gesin begin.

Vraag: Beneschke, waar het jou liefde vir skryf begin?

Antwoord: Van jongs af het beide my ma en ouma vir ons klomp stories gelees. Dit het my karakter as mens gehelp vorm. Met tyd het ek besef dat stories die krag het om die aanhoorder te motiveer, bemoedig, vermaak en selfs iemand se lewe te verander. Dít is hoekom ek skryf – veral stories.

Vraag: Ons wil graag weet wat dit is wat jou inspireer?

Antwoord: Ek is ontsettend lief vir my gesin (my man, Johannes en my twee dogertjies, Joalé en Ziva-Mari). Ons het ook ’n noue uitgebreide gesin waarvoor ek baie lief is. Ek vind ’n groot stuk inspirasie by hulle. Dan ook by mense wat ’n krisis in ’n geleentheid kan omskep. En gewone mense wat buitengewone dinge doen – en goed is vir hul medemens. Dit bly inspirerend!

Vraag: Wat is die moeilikste aspek van die skryfproses vir jou?

Antwoord: In dié stadium tyd! Met twee klein kindertjies in die huis (my oudste is 5 en my jongste byna 3) verg dit goeie beplanning om te gaan sit en skryf. Tog, God is so getrou. Wanneer ek wel gaan sit, verstom dit my keer op keer hoe die Heilige Gees ’n mens in ’n rigting kan lei. Juis hierom vat ek geen krediet nie. Als is genade!

Vraag: Vertel ons ʼn bietjie meer oor 5 Minute saam met God?

Antwoord: Ek is besonder opgewonde oor 5 Minute saam met God. Van al ses my boeke, is hierdie een die mooiste (in terme van voorblad en uitleg). Dit is ’n tipe boek wat ek vir myself sal koop en selfs vir vriendinne as ’n geskenk sal gee. Dit is ’n A5-grootte, hardeband en pas perfek in ’n mens se handsak. Die inhoud is kort en kragtig met teksverse by elke stuk wat jy kan oordink. In ’n besige, dol lewe, hoop ek dat lesers tyd sal maak om tussendeur alles steeds vir God te ontmoet – al is dit vyf minute op ’n dag.

Vraag: Jy is ook ’n spreker by geleenthede en ’n radio- en TV-persoonlikheid. Hoe pas die skryf van hierdie boek in by dit waarmee jou daagliks besig hou?

Antwoord: Dit maak nie saak in watter seisoen van jou lewe jy is nie – of jy ’n hoë posisie beklee in die korporatiewe wêreld en of jy ’n ma en huisvrou is nie. Ons almal het van tyd tot tyd ’n besige skedule.

My hoop is dat elke persoon wat die boek optel opnuut herinner sal word daaraan dat God ’n begeerte het om ons in die “besige dag” te ontmoet. Hy wil ons vul met wysheid, kreatiwiteit, onderskeiding en guns. Ons mis dit egter omdat ons Hom nie ook soek nie.

My wens is dat hierdie boek lesers sal herinner dat slegs vyf minute saam met God werklik ons lewens kan verander. Vyf minute is meer werd as geen tyd saam met Hom nie.

‘Vyf minute – dis soms al wat jy nodig het om die seën van God se onmeetbare vrede, krag en hoop te ervaar.’

Vraag: Wat wil jy graag deur hierdie boek bereik?

Antwoord: My hoop is dat lesers sal besef hoe lief God ons elkeen het. Ook hoe betrokke Hy in alles is wat ons op ’n dag doen. Hy stel belang in die groot goed, maar ook die skynbaar onbelangrike dinge.

My wens is ook dat lesers hulself sal oopstel (terwyl hul die Skrifgedeeltes oordink) om die stem van die Heilige Gees aan hul binneste te ervaar. Kom ons gebruik die vyf minute waar ons in die spreekkamer wag of langs jou kind se sportveld of dat jou kind moet uitkom van skool om na God te draai – eerder as om te kyk wat die nuutste op Facebook of Instagram is. Ons mag dalk net verbaas wees oor hoe teenwoordig Hy is.

Vraag: Vir wie spesifiek is hierdie boek bedoel?

Antwoord: Hopelik vir enigiemand met ’n begeerte om God net weer opnuut te ontdek. Ek is ’n werkende mamma met ’n begeerte om God deel te hê van alles wat ek doen. Ek dink mense soos ek sal hierby aanklank vind.

Vraag: Skrywers vertel amper almal dat dit ’n ongelooflike persoonlike ervaring is wanneer hulle vir die eerste keer hulle boek vashou. Hoe het jy dit ervaar?

Antwoord: Dit is ’n groot stuk genade. Ek voel uiters bevoorreg. Ek weet God kon enigiemand gebruik het om hierdie boek te skryf en ek is dankbaar dat Hy hierdie keer vir my gekies het.

Vraag: Is daar enige toekomstige boeke in beplanning?

Antwoord: Natuurlik. Ek het ’n groot passie vir ma’s en ma-wees. Dit is verseker een van die mees uitdagende “beroepe”, maar ook grootste seëninge in die lewe. Hopelik kan ek iets doen wat ma’s inspireer, bemoedig en vermaak.

5 Minute saam met God deur Benescke Janse van Rensburg word deur CUM Christelike Uitgewers uitgegee. Bestel jou kopie by https://www.cumbooks.co.za/5-minute-saam-met-god-hardeband.

2018-03-29T19:06:56+00:00