Foto’s Leana Clunies-Ross & Hanneri de Wet

Wanneer ons tyd maak om die lewe deur ons siel te laat vloei, beleef ons die wêreld soveel anders. En lééf ons soveel meer.

Daar is ’n prentjie van jou waarvan net God weet. ’n Asemrowende skildery wat net Hy kan skilder, mits Hy ’n skoon skilderdoek van jou af kan kry.

Ons weet almal dat God altyd – selfs van die deurmekaarste krabbelpatroon-mens – iets mooi kan maak, want Hy is God. Maar Hy kan soveel meer doen as ons Hom toelaat om die skildery van ons lewens namens ons te teken.

Makliker gesê as gedaan. Ons eie wil laat nie sommer ruimte vir oorgee-aan-Iemand-anders nie. Boonop is daar mos ’n groot hoeveelheid selftrots betrokke. ’n Ego wat maak dat ons ons lewens rondom ons self inkleur – wat dan dikwels ’n minder mooi prentjie optower.

Wanneer ons dit egter kan regkry om onsself opsy te skuif en die kwas en palet in sy hande laat, gebeur daar iets met ons. Dan word skewe lyne reguit en beteken krabbels iets baie meer. Dan kry gebroke selfhelp-pogings en ons gebleikte menswees ’n helder prentjie waarvan ander en onsself hou. Waarvan Hý hou.

Iemand het eendag gesê dat God nie op ’n trotse skilderdoek kan teken nie. Miskien juis omdat ons vanuit ons eie ego so dikwels droogmaak. Tog bly self-teken een van die moeilikste eienskappe om af te leer. Moeilik maar – deur Hom – nie onmoontlik nie.

Kom ek en jy probeer elke dag benader met die gesindheid van minder-ek en minder-trots wees deur die skilderdoek, kwaste en kleurpalette van ons lewens vir Hom te gee. En kom ons laat Hom dan toe om met oorgawe die prentjie van onsself te teken waarvan net Hy weet. Die kunswerk wat onsself sal verbaas en ander stom sal laat oor die Hý wat hulle sien, wanneer hulle na ons kyk. Die soort skildery wat sag, goed, mooi en kleurvol vir die wêreld glimlag. Omdat Hy ons op ’n skoon skilderdoek kon teken.

Vader
Ek is tog so behep met myself.
So bewus van wie ek is en hoe ander my sien.
As ek maar net wil besef
Hoe anders ek kan lyk
As ek my eie ego laat vaar
En U toelaat om my te vorm.
Help my om elke dag
Die wie-is-ek vir U te gee
Sodat U dit kan skilder soos U wil:
Met die wie-kan-ek-deur-U-wees.
Ja, Here, teken my asseblief elke dag oor.
Oor met u God-wees.
U Genade-wees.
U Liefde-is.

Skoon seildoek

Dawid was van kleins af spontaan lief vir God. Daarom kon hy deur sy Here se krag reeds op ’n jong ouderdom ’n reus met ’n klippie doodgooi. Maar Dawid was ook mens: iemand wat ook vanweë sy trots en menslike swakhede, kon droogmaak en ander daardeur kon vernietig.

Tog vertel sy Psalms ons van ’n keer-op-keer terugkeer na daar waar hy niks is, maar God alles. Daar waar hy God vra om sy eie tekenprentjies uit te vee en Hom oor te teken. Daar waar Hy – ondanks gister – weer sy lewenskwas vir Hom gee en toelaat dat Hy oor begin vorm aan die mens wat self nie kan nie.

Ons wil almal graag mense wees waarna ander met kyk en dink: Sjoe, as ek na hierdie mens kyk, word God se beeld vir my soveel duideliker. Ons kan dit soveel makliker word as ons ons trots en eie-ek eenkant toe skuif sodat Hy – sonder ons inmenging – die mens kan teken wat Hy ken en liefhet.

Boodskap: Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, ek maak alles nuut.” – Openbaring 21:5
2018-02-01T10:11:34+00:00