Geloof het ’n adres

Na die lig

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet

Uit die puin van ’n gebroke huwelik het Bernice Morrell, eienaar van die internasionaal bekroonde Morrells Boetieklandgoed met twee gastehuise in Northcliff, Johannesburg ’n splinternuwe lewe gebou wat van die liefde se helende krag getuig.

Wat deurentyd opval, is die aandag aan detail. In ’n sitkamer van The Farmhouse, ’n gastehuis en deel van Morrels Boetieklandgoed wat outydse swier uitstraal, verkyk ek my aan ryklik gestoffeerde meubels, ’n klavier, vergulde rame, ’n kaggel, gepoleerde houtvloere, ’n bedrukte plafon met ’n koperkandelaar.

Op pad na die roostuin is dit die ry massiewe potte met pers krismisrose, welige lanings laventel, beddings propvol wit en pienk rose en mure dig begroei met klimop wat die aantrek trek.

Die elegante, blonde vrou wat by my aansluit, is stylvol uitgevat in ’n somerrok, ’n sierkruis-halssnoer om haar nek. “Ons dra almal ’n droom in ons. Hierdie is myne,” beduie Bernice Morrell. “Dit was so ver buite bereik toe ek in ’n afbrekende huwelik en later as enkelouer was. Ons het dertien keer in tien jaar verhuis. Ek wou skoonheid in my ruimte intrek, soos om ’n vars blom op ’n tafel te sit, en ek het die kinders betrek om mooi ruimtes met wat ook al te skep.”

“Dit was ’n manier van kophou in ’n warrelwind van moeilikheid – skoonheid as oorlewingstaktiek.”

Die slaaf

Bernice vertel sy het ’n vas onderneem om vir haar eerste huwelik te bid en twee weke lank sy net water ingeneem. “Ek het ’n fenomenale deurbraak gehad en besef elkeen het ’n keuse. In ’n visuele boek oor slawery het ek gelees hoe slawe gestraf is. ’n Slaaf se lyk is vasgeketting aan die slaaf. So word die lewende slaaf met die dood besmet en hy sterf ook. As ek in die huwelik sou bly, sou ek sterf. Ek moes my van gebondenheid bevry.”

’n Vriend het ’n ten volle betaalde seevakansie vir haar en die kinders geskenk. “God het alles beplan, die pad vir ons gelykgemaak. Dit was ’n tyd van rou oor my huwelik en verlies van ’n gesin. Ek het gesien hoe ander kinders op die strand met ’n bal saam met hul pa’s speel en besef my kinders gaan nooit weer so iets geniet nie.

“Ek het vir die Here gesê ek’s klaar met mans. Ek wou nooit weer trou nie,” onthou sy. “God was my eggenoot. Op ’n dag terwyl ek na ’n vriend se huis ry, het ek God hoor sê: ‘Vergewe my.’ Hoe kon ek die Here vergewe? Ek het tien jaar gebid vir ’n positiewe resultaat maar my huwelik het gesterf. Ek moes myself ook vergewe dat ek gebly het, en ek moes Hom weer met my hele hart vertrou.”

Bernice het haar afgesloof vir die kinders. “Dit het gevoel asof hulle my in drie verskillende rigtings trek. Ek het meer as een werk gedoen om die pot aan die kook te hou. Ek het geworstel met die vrae: ‘Wat van my?’ ‘Waar pas ek in?’ Toe vra ek die Here: ‘As daar iemand vir my is, wys my.’”

’n Vriendin het haar oorreed om saam met ’n man na ’n teaterstuk te gaan. “Die sakeman was glad nie die trou-soort nie. Tog het ons dadelik verlief geraak en drie weke later is ons getroud. By die bruilof het sy ma hom gevra: ‘Hoekom hierdie een?’ Sy antwoord was: ‘Bernice is anders as enige vrou wat ek al ontmoet het.’ Dis die Here wat die verskil in ons huwelik maak. Want om in Sy suiwerheid te leef, het hom na my aangetrek. Verleidelikheid is vervlietend.”

Sy en Mike Morrell is nou sowat 17 jaar gelukkig getroud. “Mike is my droomman. Hy was deel van my genesing, ’n baie spesiale beste vriend en die allerbeste eggenoot.”

Mike het belê in haar droom van Morrells. “Dit was sy Taj Mahal aan my. ‘Gebruik dit as uitdrukking van jou talent,’ was sy opdrag. Die bouwerk het drie jaar geneem. Daar was ekstreme uitdagings. Ons het die venue tien jaar gelede oopgemaak. Besoekers voel iets aan, ’n sekere rustigheid.”

Haar drie kinders het ook ’n kunsstreep en leef hul eie drome uit. Tristan (30) is ’n ontwerper, Donovan (27) is hoofveldwagter van Londolozi en ’n fotograaf; Gabi (26) is ’n vervaardiger van advertensies. Bernice and Mike het ook ’n laatlam, Matthew (10).

‘Wanneer jy Hom ontmoet, word jou lewe ingrypend en vir altyd verander.’

Uit donkerte

Bernice (’n nooi Du Plessis) is gebore in Johannesburg, die enigste kind van ouers wat entrepreneurs in die boubedryf was. As beeldskone 18-jarige model het Bernice internasionaal uitgeblink. “Destyds was ek ’n bekende wat vir my skoonheid gevier is. In my huwelik het my eie man dit egter nie gedoen nie. Hy wou ander vroue hê.

“Vroue blameer hulself. Hulle kry borsinplantings, hulle oefen daagliks in die gimnasium. Maar die regte probleem is steeds daar. Jy kan nie een of ander droomvrou wees nie, net jouself … ”

Destyds het die skande van enkelma wees haar in ’n diepe donkerheid gedompel. Op ’n dag het sy in ’n kerk se parkeerterrein stilgehou en baie trappe tot by die voorportaal uitgeklim. “Agter die toonbank was ’n ou skoolvriendin. ‘Ek het hulp nodig,’ is al wat ek kon uitkry.”

Haar vriendin het iemand geroep, ’n pastoor. Terwyl sy agter hom aanstap, dink sy: “Ek moet besete wees.” Asof hy haar gehoor het, draai die pastoor om en sê: “Jy’s nie besete (possessed) nie. Jy word erg verdruk (oppressed).

“Hy het vele teksgedeeltes gelees en gebid. Aanvanklik het ek geen verandering gevoel nie. By die trappe het ek die blou hemel en groen gras gesien en gedink: ‘Die grysheid het gelig’. Iets het diep en blywend in my verander.” Tuis het haar ouma gevra. “Wat het met jou gebeur?”

“Ouma, ek het Jesus ontmoet.”

“Ek wil Hom ook ontmoet,” was haar ouma se reaksie.

“My ouma is bekeer en het gesterf as geesvervulde gelowige. Sy het Jesus in my gesien. Al wat ek deesdae hoef te doen is om my lewensverhaal te deel, wie my gered het. Ek verlang dat mense kry wat ek het.”

‘Kom na Hom sonder ’n agenda, net omdat Hy God is. Sit by sy voete, op Sy skoot.’

Vrou by die put

Sedert sy Elanie Kruger se outobiografie, From Playground to Prostitute (mede-skrywer Jaco Hough-Coetzee, uitgegee deur Delta Uitgewers) gelees het, koester Bernice ’n begeerte om uit te reik na verwerpte vroue; slagoffers van huislike geweld, slawehandel en prostitusie.

“Dis (verteenwoordigend van) die vrou wat Jesus by die waterput ontmoet. Ek wil so ’n waterput skep waar die dors na ’n nuwe kans en identiteit geles kan word. Wanneer jy Hom ontmoet, word jou lewe ingrypend en vir altyd verander.”

Bernice wil weerlose vroue help deur hulle bruikbare vaardighede te leer. “Anders keer hulle terug na hul vorige lewe, want hulle het geen ander keuse nie. Selfs al is hulle deur ekstreme mishandeling besmet, kan hulle gerehabiliteer word. Dis wonderlik om te sien wat uit diep ontmoetings kan spruit. Hulle kan die toekoms tegemoet gaan sonder om deur hul verlede gedefinieer te word.” Dít is die mikpunte van haar niewinsgewende organisasie, Fresh Start In Life.

“Wanneer jy uit trauma kom, maak dit ’n deur oop na groot empatie en begrip vir ander se swaarkry. Die Here het gesê ek moet ’n kerk hier plant, wanneer die tyd ryp is. Ek wil eers vasstel wat God van so ’n kerk verwag. ’n Soort nie-kerklike kerk vir die ongekerktes. Mense soek soms ’n plek wat nie lyk soos ’n tradisionele kerk nie, waar bang en seergemaakte mense nie veroordeel voel nie.”

Intussen is sy bedrywig met damesuitreike en praatjies. Sy bedien vroue met oormaaksessies. “Dis wonderlik om te sien hoe mooi hulle kan wees, hoe hulle hulself herdefinieer. Wanneer jy mense met respek en waardigheid behandel, kan hulle sien hoe mooi hulle is. Hulle reageer soos dames. Jesus het sy dissipels bedien deur hul voete te was.

“Uit pyn word skoonheid soms gebore. Ek kan my nie indink hoe mens die lewe aanpak sonder intimiteit met die Ewige Vader nie. Sy teenwoordigheid, krag en liefde omhels ons in die donkerste nag én met ons grootste oorwinnings. Die besef herinner ons om Hom groot te maak en ons probleme klein te hou. Ons kan besluit of ons oorwinnaars of slagoffers is.

“Die Jesus wat ek ken, is nie maer en swak nie. Hy was ’n skrynwerker. ’n Sterk man en so werklik vir my. My liefde vir Hom is baie diep. Dis jou keuse om Hom ernstig op te neem en hom in jou lewensbootjie in te nooi.”

‘Al is ek nie volmaak nie, hou ek aan om Hom te volg en alles te gee, want Hy verdien dit.’

Lewensvrae

Wat is die essensie van die lewe, die huwelik, van alles wat ons omring? Dit is vrae wat sy vir seergemaakte vroue probeer beantwoord. “Dit behels dat jy die stem van die Goeie Herder moet volg, nie die stem van ’n vreemdeling nie. Bly naby aan Hom, leer by Hom. Dis soos ’n radio se knop wat jy moet aanhou instel op die regte kanaal.

“Geniet die Here. Moenie met ’n inkopielys van versoeke by Hom opdaag nie. Kom sonder ’n agenda, net omdat Hy God is. Sit by sy voete, op Sy skoot.

“Die woord ontplooi (unfurl) het by my opgekom. Dis wat God doen. Hy ontplooi. Hy het die hemele oopgerol. Hy ontplooi jou lewensdoel. Om die sonsondergang en blomme te geniet, bring genesing. Vir my is dit ’n vorm van aanbidding, om Sy handewerk te bewonder. Jy voel elke dag ’n bietjie anders net deur die Bybel te lees. Hy is Liefde wat in jou ontplooi word.

“Mense soek soms liefde op al die verkeerde plekke. ‘Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here en kennis van die Here is verstand (Spreuke 9:10)’. Nie vrees en bewing nie, eerder ’n dieper begrip van wie Hy is.

“Leef volgens Sy Woord. Al is ek nie volmaak nie, hou ek aan om Hom te volg en alles te gee, want Hy verdien dit. En ek weet wanneer ek my laaste asem uitblaas, sal ek in Sy arms wees.”

http://www.morrells.co.za/category/morrells-boutique-estate/

2018-02-01T14:36:25+00:00