Martelize kook!

Deur Christine Ferreira | Foto’s Myburgh du Plessis

Kosmaak is RSG-omroeper, Martelize Brink, se manier van ontspan. In haar nuwe kookboek, Martelize kook! Jy’s genooi deel dié talentvolle vrou nie net kos uit haar kinderdae nie, maar ook onthaalkos, kuierkos, braai-kos, soetgoed en poedings.

Geliefde omroeper, Martelize Brink, het in die Paarl grootgeword en haar liefde vir kosmaak kom al van kindsbeen af. “Die Brink-gesin is obsessief oor kosmaak, dalk omdat dit so sosiaal is, of bloot omdat dit deur ons are loop.”

Nadat Martelize ’n honneursgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, het sy haar debuut op RSG gemaak. Sedertdien gesels sy land en sand oor enigiets op die lug – van kommandowurms tot tiervisvang. En natuurlik kos. Sy woon in Seepunt, naby die water en ’n klipgooi van haar werksplek. Honde, perde, haar familie, vriende, kos, goeie rooiwyn en musiek, maak haar gelukkig.

“Net soos die reuk van seelug ’n mens aan Desember-vakansies laat verlang, net so wek sekere soorte kos emosies en herinneringe by my op” vertel Martelize.

“My kosherinneringe is oor ’n hele leeftyd versprei: my suster se sjokoladekoek, vars uit die oond; my pa se potjiekos in die binnebraai op ’n Sondag terwyl dit driftig in die Paarl reën; vars, opgekookte kreef met mayonnaise; Bo-Kaapse speserye wat getemper word terwyl my vriende gesels; my ma se snoekpatee met varsgebakte brood – vir ’n samekoms tussen die waterblommetjie-damme …

“My liefde en belangstelling in kos is geïnspireer deur ’n grootword-huis waar kos sentraal tot die dag se beplanning was. Ek wou as kind altyd weet hoe om iets self te doen en het my ouers gepla tot hulle toegegee het.

“Ek is oneindig dankbaar daarvoor dat ek in ’n huis grootgeword het waar kinders in die kombuis welkom was. Waar ons van jongs af geleer is van geure en tekstuur. En die vryheid gegun is om te eksperimenteer.

“Om só om die kospotte groot te word, leer ’n mens so baie van geduld, liefde, samesyn en mededeelsaamheid. ’n Pastoriehuis wat lief is vir kos en kosmaak, is ook ’n huis waar daar altyd ’n bord kos beskikbaar was vir diegene wat dit die nodigste gehad het. Die voordeurklokkie in Lady Grey-straat het heeldag gelui en hongeres is nooit teleurgestel nie. Tot vandag toe hou ek altyd ’n bakkie sop in die vrieskas, spesiaal vir iemand wat daardie liefde benodig. Dis immers reg.

“Onthou om altyd ruim te kook – sodat daar genoeg is vir daardie ekstra honger persoon aan jou tafel, of by die voordeur.”

‘My liefde en belangstelling in kos is geïnspireer deur ’n grootword-huis waar kos sentraal tot die dag se beplanning was.’

My ma se growwebeskuit

Maak ongeveer 2 groot panne

4 groot eiers
625 ml bruinsuiker
1 vanieljepeul se saadjies of 5 ml vanieljegeursel
15 ml olie
1,5 kg semelryke bruismeel
20 ml bakpoeier
15 ml sout
350 g yskoue botter
1 liter karringmelk
500 ml rosyntjies
500 ml All Bran
125 ml papawersaad
125 ml sesamesaad
500 ml sonneblomsaad
250 ml klapper

1 Voorverhit die oond tot 160 °C. Smeer plat oondpanne met botter en strooi meel oor.
2 Klits die eiers en bruinsuiker deeglik saam tot lig.
3 Voeg die vanieljesaad en olie by. Hou eenkant.
4 Meng die meel, bakpoeier en sout in ’n groot bak.
5 Rasper die botter op die growwe kant van die rasper oor die meel en vryf dit met vingerpunte in die meel in. Jy kan die botter ook smelt,
maar ek glo die gerasperde botter, ingevryf, gee ’n ligter beskuit.
6 Voeg die karringmelk by en werk deur.
7 Voeg die res van die droë bestanddele by en meng deur.
8 Voeg die eier-en-suikermengsel by. Dit vorm ’n stywe deeg.
9 Druk die deeg plat in die panne.
10 Gebruik ’n mes wat jy elke nou en dan in olie doop en sny die deeg in dun rye, en so lank as wat jy jou beskuite wil hê. Dit maak dit
makliker om te sny wanneer dit uit die oond kom.
11 Bak vir ongeveer 40-60 minute. Druk ’n mes in die beskuit – indien dit skoon uitkom, is die beskuit gaar.
12 Laat effens afkoel en sny die beskuit.
13 Plaas met spasie tussen beskuite terug op oondrakke om oornag, of vir 6-8 ure uit te droog teen 60 °C. Hou die oonddeur effens oop met
’n houtlepel.

Witsjokolade –roomys met amandels

Genoeg vir 6 persone

100 ml melk
250 ml room
saad van 1 vanieljepeul
30 g suiker
2 ekstra-groot eiergele
100 g witsjokolade, gekap
60 g amandels of neute van jou keuse, gekap

1 Verhit die melk, 50 ml van die room en die vanieljesaadjies in ’n kastrol oor matige hitte.
2 Klits die suiker en eiergele saam tot liggeel en romerig.
3 Wanneer die melk en room naby aan kookpunt kom, voeg dit bietjie vir bietjie by die eiermengsel tot al die bestanddele gemeng is.
4 Giet terug in die kastrol op die stoof, en prut liggies tot dit begin dik raak. Roer aanhoudend.
5 Voeg die sjokolade by die mengsel en smelt.
6 Haal van die hitte af en laat afkoel. Bedek met kleefplastiek om te voorkom dat dit ’n velletjie vorm.
7 Wanneer dit afgekoel is, plaas in die yskas.
8 Klits die res van die room tot lig en punte begin vorm.
9 Wanneer die vlamengsel goed koud is, vou die room in.
10 Voeg die neute by en roer deur.
11 Verkil in ’n toe bak in die vrieskas. Die neute sal na die onderkant van die bak sak.
12 Roer elke 20-30 minute deeglik om die kristalle wat die roomys vorm, te breek en neute weer deur die roomys te versprei.
13 Herhaal tot die roomys goed gevries is.

‘Die voordeurklokkie in Lady Grey-straat het heeldag gelui en hongeres is nooit teleurgestel nie.’

Sjokolade fondant met sjokoladeballetjies en witblits

Genoeg vir 6 tot 8 persone

150 g botter
250 g donkersjokolade, opgekap
4 ekstra-groot eiers
4 ekstra-groot eiergele
200 g strooisuiker
200 g koekmeel
1 Lindt-sjokoladeballetjie per bakkie (kies sjokoladeballe in verskillende kleure, soos wit, karamel en donkerbruin. Die balle kan ook met enige gewone sjokoladeblokkie vervang word)

1 Voorverhit oond tot 180 °C.
2 Smeer 6 klein bakkies (ramekins) met botter.
3 Smelt die botter en donkersjokolade saam in ’n bakkie oor kookwater wat prut, en laat vir 5 minute afkoel.
4 Klits die eiers, eiergele en strooisuiker saam tot lig van kleur.
5 Voeg ’n paar eetlepels van die sjokolademengsel by die eiermengsel, roer deur. Voeg die res van die sjokolademengsel stelselmatig by die
eiermengsel terwyl jy roer.
6 Voeg die meel by die beslag en vou goed deur.
7 Bak vir 10 minute tot buite gaar gebak, maar binne-in loperig. Die beslag sal nog beweeg indien jy dit skud.
8 Druk ’n Lindt-balletjie of ’n sjokoladeblokkie in die middel van elke sjokoladefondant sodra dit uit die oond kom.

Variasie

Giet ’n 15 ml-sopie witblits oor die fondant in elke bakkie wanneer dit uit die oond kom.

Grondboontjie -broslekkers

(peanut brittle )

500 ml suiker
125 ml water
65 g botter
125 ml grondboontjies, ongesout

1 Smelt die suiker in die water oor lae tot matige hitte. Voeg die botter by.
2 Let wel, jy kan die mengsel eers roer wanneer dit ligbruin begin raak.
3 Prut liggies vir ongeveer 20-30 minute.
4 Voeg die grondboontjies by en roer deur.
5 Giet mengsel uit op ’n bakplaat of bakpapier en laat afkoel.
6 Breek in stukke en geniet net so, of saam met jou gunsteling nagereg.

Resepte en uittreksels met toestemming gepubliseer uit Martelize kook! Jy’s genooi deur Martelize Brink, uitgegee deur Human & Rousseau 2017; foto’s Myburgh du Plessis; stilering Mari-Louis Guy en Callie Maritz.

2018-02-01T09:56:15+00:00