Die Tora-gedeelte van verlede Shabbat heet B’shallach, wat min of meer beteken “nadat hy laat gaan het”. Dis die gedeelte in Eksodus 13 – 17 waar Farao uiteindelik die Here se volk uit Egipte laat gaan. Gehoorsaam het hulle bloed aan die deurkosyne gestryk sodat hulle in daardie nag van verskrikking toe al die eersgeborenes van mens en dier sterf, gespaar kon bly.

Saam lees ons hoe die Almagtige bedags met ’n wolkkolom voor hulle uitgaan sodat hulle teen die woestynson koelte sal hê. Snags is Hy ’n vuurkolom om vir hulle lig te gee, sodat hulle dag en nag kon trek. Mens kan jou die verwondering van hierdie mense wat soveel jare vernederde slawe was beswaarlik voorstel.

Farao kom egter tot sy sinne en besef dat al sy slawe en bouers van sy piramides soos mis voor die son verdwyn het. “Wat het ons aangevang?” roep hy uit en ruk met sy leër op agter ’n weerlose Israel aan. Dié staan vasgekeer met die Rietsee voor hulle en agter hulle die stofwolk van die donderende Egiptiese strydwaens wat op hulle afpeil.

Verwonderde dankbaarheid slaan weerligsnel om in paniek. Moshe moet dit ontgeld. “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.” Né?

Maar Moshe het nie vir niks by die brandende doringbos in die woestyn met die Een Wie se Naam “Ek sal wees wat Ek sal wees” is te make gekry nie. “Bly julle maar kalm,” sê hy vir hulle “Die Here sal vir julle veg.” En, ja, die water kloof oop en die see word drooggelê. Droogvoets loop hulle deur terwyl die ganse Egiptiese leërmag verdrink.

Ons Tora-studiegroep in die kurkdroë Kaap studeer dié parashah nie sonder ’n beklemmende gevoel van wanhoop nie. Ons voel onsself ook vasgekeer staan voor die onwrikbare Dag-Zero wanneer die krane finaal toegedraai gaan word. Ons hoor inderdaad magtige strydwaens agter ons aankom by dié gedagte Die dae gloei by 30 grade en ons het al vergeet hoe klink dit as geute sing van reën. Dít het ons in die afgelope winter nie meer gehoor nie.

Soos Israel roep die gelowiges in ons stad en omringende streke ook beangs tot “Ek sal wees wat ek sal wees.” Maar ons is oor die algemeen nie veel beter as ons voorvaders nie. Ons “Moshe” waarop ons verbitterd van benoudheid skree, is die ANC, die DA, die Nasionale regering, Helen Zille, Patricia de Lille, die Munisipaliteit, noem maar op. Hulle het niks van Moshe se stamina wat sê nie: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red”. Hulle gil op mekaar.

Stil praat ons oor ons vreesaanjaende benouing. Wat sonder water werklik beteken. Ons praat oor ons stad van bloedvergieting en verkragting en bendegeweld. Ons laat ons koppe in berou voor Hom sak.

Tot iemand ons aandag vestig op wat met dieselfde volk Israel ’n rukkie later by Marah gebeur. Nood! Die enigste beskikbare water is ondrinkbaar bitter. Dink: waarskynlik meer as 3 miljoen mense. Kaapstad het 4 miljoen. Maar die Here wys vir Moshe ’n stuk hout en toe hy dit in die water gooi, word dit soet.

Aan ’n stuk hout gespyker, het God Sy Seun ons vir altyd lewende water laat gee. En nou kan ons Hóm nie vertrou nie?

2018-02-01T10:13:29+00:00