Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Ek kyk na ’n foto van twee Indonesiese seuntjies op pad skool toe. Die grondpad waarlangs hulle loop, is ’n pappery, met groot plasse water oral. Hulle is kaalvoet. Hul voete vol modder. Bo-oor hulle koppe hou die knapies ’n reuse papajablaar, sodat hulle klere en rugsakke nie natreën nie.

Die seuntjies met hul plat swart kuifies lag uitbundig. Hulle lewensvreugde straal uit die foto. Van pure lekkerkry lag ek saam.

Ons as ma’s wil ons kinders graag teen ongerief en ontbering beskut. Ons wil nie hê hulle moet koud of warm kry, of honger wees nie. Ons wil alle verdriet en swaarkry van hul afweer.

Natúúrlik soek ons net die heel beste vir ons kinders. Maar soms is daar meer vermanings en waarskuwings as onbevange oomblikke van lewensvreugde in ons interaksie met hulle. “Oppas!” “Los dit!” “Kom hier!” word standaard reaksies. Dikwels instinktief en ondeurdag.

Hoe dikwels demp ons nie hulle borrelende, spontane lewenslus met ons moets en moenies nie. Volwassenes vergeet dat vreugde dikwels ’n teenvoeter en beskutting teen swaarkry is.

Kinders het die vermoë om ’n slegte ervaring in ’n joligheid te omskep.

Ek onthou ’n naweek toe ons met ’n spannetjie laerskolers langs die Vaalrivier wou gaan kamp. Die middag net voor ons sou ry, het ’n wolkbreuk oor ons dorp uitgesak. Die rivier het afgekom. Van kamp was daar nie sprake nie, maar die veertien stuks onder ons sorg wou niks weet van huis toe gaan nie.

Toe bedink ’n paar energieke seuntjies ’n plan. Hulle begin hul slaapsakke ooprol en kommandeer die ander op om hulle te help om met banke en stoele en beddegoed ’n tonnel te bou. Van die een punt van die eetkamer, dwarsdeur die woonkamer – tot in die kombuis.

My huis was omgedop. Ek het gesmag na stilte en ’n koppie tee op my bank wat êrens onder komberse deel van ’n kronkelende tonnel was. Maar sonder dat hulle dit doelbewus wou doen, oorrompel die opgetoë klompie kinders se geesdrif my. Ek gaan haal meel uit die kombuiskas, maak deeg aan en begin pannekoek bak. En terwyl die reën sonder ophou uitsak, smul ’n klompie blinkoog-kinders – wat reeds weke lank uitsien na ’n naweek langs die rivier – aan pannekoek in hul tuisgemaakte tonnel op ons mat.

Ek dink aan Christus se woorde in Lukas 7:31,32: Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep: “Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie!

En ek bid dat ek nooit my verwondering oor die lewe sal verloor nie.

Here Jesus

Ek wil met entoesiasme leef. Ek wil die aansteeklike gawe van blydskap koester en aangee. Daar is soveel dinge wat ons kinders se lewensvreugde steel. Help ons as ouers om gelukkige kinders groot te maak. Help ons om hulle te leer dat die diepste geluk van U af kom en help húlle om hul vreugde in U te vind. Amen

2018-02-01T10:17:39+00:00