Hartstog

Brief uit Berlyn

Foto’s en kopie deur Renette Buitendag & Riekie Greyling

Aan: Pappa@icloud.co.za

Datum: Vandag, 11.11vm

Onderwerp: ’n Pelgrimstog

Liewe Pa

Ek weet Pa sal hierdie e-pos kry al ken ek nie Pa se regte adres nie. Ek weet Pa sal, omdat alles deesdae in die ‘cloud’ gebêre word. En ek weet hoeveel orde in die ewigheid is. “Orde is die eerste wet van die hemel” het Alexander Pope in sy An Essay on Man gesê. En ek glo dit.

Pa, ek en my drie vriende was toe op ons Pelgrimstog Oos-Europa toe. Voorbereid soos ridders. Paraat soos soldate in geloof. Gereed om die kampe van Auschwitz te ‘herleef’, dalk te ween en ons tande te kners langs grafte in Praag en om teen die mure en monumente van Berlyn selfies te neem.

Voor die tog het ons gelees en gesoek. Soms skepties, die meeste van die tyd kwaad, maar altyd bang. (Ek het selfs Jesus se Kruiswoorde “Vader, Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie”, op die internet in Pools vertaal en soos ’n mantel om my skouers gedra. ’n Skild teen ongekende en onbekende hartseer en pyn.)

In voorbereiding het ons ge-Frankl, ge-Wikipedia en die Bybel gelees om moontlike antwoorde op vrae in geskrewe geskiedenis of in maer wit-en-swart prentjies te vind.

’n Diep opregte begeerte het woes in ons harte geklop om begrip te vind en dan beter te verstaan wat gebeur het en dalk hoekom. Ons wou in vodde, miskien nakend en koud voor die mensdom staan en sê, “Nou weet ek hoe dit voel”. Ons wou ons hongerte vir begrip versadig met feite en foto’s.

Maar ons het nie.

Ons het met deernis en respek ons vingers oor koue grafstene getrek. Die donker gleuwe van die onbekende vorms van Hebreeuse letters met toe oë gevolg. Ons het gegee Pa. En geneem. Ons het totaal en onvoorwaardelik ons spore in doodskaduwees neergelê. In Aushwitz en Birkenhau. In die oorblyfsels van ghettos en galerye. In vergete buurte en pleine geskilder met grys spore trane.

Daar was ander se vrae en pyn wat aan grys geboue gehang het. Daar waar die dood ’n goedkoop, blinde kraai was en lewe per ongeluk gebeur het. Maar God weet, hierdie grys asems sal óns nooit vergeet nie. En ek wéét Pappa sal dit so goed verstaan.

En daarom kan ons nou rus Pa. Met goedheid en guns. Al die dae van onse lewens. Ja, dit was voorwaar ’n pelgrimstog Pa. Dit was ’n ondersoekende en soms ondraaglike pynvolle ekspedisie. Maar dit was ’n reis gevul met liefde. Gebytel met onsterflike klanke, kuns en kultuur. Dit was soms sielsgevaarlik. Maar dit was altyd ongenadelik eerlik en opreg.

Op ’n byna kinderlike manier Pa, het ons die naakte waarheid vir ons eie heil gevind en uitgewerk. En toe blootgelê. En een vir een, die oorweldigende mag van vergiffenis beleef.

Nee Pa. Daar is nie antwoorde. En daar is niks om niks te regverdig nie. Daar is net genade en absolusie. Pa, as Pa dalk, en ek bedoel regtig toevallig, eendag vir Adolf Hitler raakloop (wat eintlik menslik gesproke Gods-onmoontlik is want julle sfere sweef soos twee pole uitmekaar) Pa, stop. Stop asseblief en kyk in sy oë.

Moet hom niks vra nie Pa. Kyk net binne in sy siel in. Kyk of Pa die ewige leegheid wat vlak in sy oë behoort te lê, kan sien. Want Pa, hy het totaal gefaal in sy ongenaakbare, onmenslike en wrede pogings om die mensdom van sogenaamde onsuiwerheid te red.

Ja, wat hy wel reggekry het Pa, was om die fondasies van eeue-oue stede soos Praag en Krakow, Berlyn en Warskou in puin te lê. En om ’n gekose volk te knak en as tonne as in die ongenaakbare wind in te strooi . Maar wat hy nie kon regkry nie Pa, was om die slagoffers van die menseslagting, se trots en strewe na oorlewing te knak.

Sê vir hom Pa. Sê vir hom hy het gefaal. Want vandag is ons almal hier. Sterker as ooit vantevore. Omdat ons behoort aan môre.

Groete Pa.

En liefde.

Naskrif: Ek heg ’n paar foto’s aan. Ek hoop Pa kan dit oopmaak. Dis kleurvolle beelde van herinneringe, hoop en liefde. Vir ewig vasgevang met die kliek van ’n knoppie.

En soos wat Pa sal sien, was alles nie net pyn nie. Dit was winterlandskappe en die suiwerheid van vriendskap wat soos warm vingers oor ons al vier gestreel het toe dinge soms baie koud was.

XX

Geheue is heilige grond. Maar dit kan soms ook die wegkruipplek word waar woede en vrees soos honger aasvoëls bly sirkel om dieselfde dooie, wit, bene. Net soos Auschwitz in die sneeu.
Jy sien in jou verbeelding die massas Jode in hulle enigste winterjasse in rye onder die bord “Arbeit macht frei” staan. Iewers fladder ’n wit serp in die wind. In die verte staan ’n swart boom en ’n skoorsteen…
Toe ek my kop draai kon ek die dag se blou halfpad sien hang oor die lug. Van die weste af was die nag op pad. Die geel volmaan het begin hang oor die wit, salie-sneeuveld. En oos het die laaste lig subliem bly skyn. Al wat ons kon voel was vrede. Niemand kan dit beter verstaan as die wete dat ons kon voel dat God selfs hier kon sê: “Laat daar Lig wees.”
Met hierdie treinspoor is die Jode Birkenhau snags binnegery. Die einde van hulle wêreld. Hier sou die donker hulle oorspoel. Hier sou kraaie verbyvlieg soos ’n leë belofte. Hier sou wanhoop bly asemhaal. Maar hoop sou altyd ook bly vashou.
Die Joodse tradisie om nie die grafte van afgestorwenes met blomme of plante te versier nie, het die naakste en pynlike realiteit wat hierdie gekose volk deur die eeue moes verduur, as ’n byna onheilspellende, snerpend koudheid deur ons eie geraamtes laat sny. Die stilte, soos ’n oorverdowende wit net, hang eensaam in ’n enkele geel blaar aan ’n kaal boom. Byna soos ’n wagter wat sy skape beskerm.
In Warskou is dit skuins voor drie in die middae reeds aan die donker word. Op die stadsplein sing Louis Armstrong “What a wonderful world”. Die vreugdevure brand hoog vanaand en ek gryp dankbaar na die lig wat skyn uit die harte van die plaaslike inwoners. Geen mens kan los raak van so ’n magiese dag wat nie ’n einde het nie.
Die almagtige krag en mag waarmee die mense van hierdie stede hul verwoeste verlede met tyd, hoop en totale vergifnis herbou het, is verstommend. Uit as en puin het hierdie geskende nasies, hande gevat en herbou – ’n toekoms met hoop, geloof en liefde. Die grootste hiervan, voorwaar liefde.
Daar is absoluut niks gewoon en middelmatig aan Praag nie. Dit is loshande een van die mooiste, geheimsinnigste, mees sielsverrykende stede in die wêreld. Vra enige reisiger wat sy sout werd is. Die strate is oop, skoon en reguit. Belyn met stegies, gevul met kultuur en onbeskryflike geskiedenis. Die Vltavarivier is wyd en trots met asemrowende argitektuur wat hoog bo mens se verbeelding uittoring.
2018-02-08T07:06:40+00:00