Saamlees

Lééf kies vandeesmaand agt lekkerleesboeke vir jou boekrak.

Uit die Beek 2018

Deur Barend Vos (Lux Verbi)

Die oudste Bybeldagboek in Afrikaans is onder nuwe outeurskap. Vanjaar verskyn die klassie Uit die beek met ’n nuwe invalshoek en uit die pen van bekroonde skrywer Barend Vos. Die tekskeuse is op die Revised Common Lectionary gebasseer. Dit maak hierdie geliefde Bybelse dagboek soos altyd geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en vir Bybelstudiegroepe. R175.

8 Maniere om jou man lief te hê

Deur Marilynn & Davis Chadwick (CUM)

Om mekaar te eer is God se oorspronklike doel vir die verhouding tussen man en vrou. In hierdie unieke omkeer-boek vir hom én haar, deel David en Marilynn Chadwick agt maniere om hierdie spesiale liefde tussen getroudes te betoon. Marilynn wys vroue onder andere dat hulle in hul man kan glo, vir hom veg en hom versterk, sy las verlig en saam met hom kan droom. David sê weer dat mans gerus hul vrou se instink kan vertrou, sy hart met haar deel en leer om sy vrou beter te verstaan. R299,95.

Spertyd

Deur Elsa Joubert (Tafelberg)

Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Dit fokus op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad waar sy nou al ’n geruime tyd woon, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken met die woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. R275.

Die soektog van ’n leeftyd

Deur John & Lisa Bevere (Struik Christian Media)

Is dit vir jou moeilik om te vergewe en te vergeet? Bekommer jy jou meer oor die goedkeuring van mense as die goedkeuring van God? Hierdie boek help jou om deur die versperrings te breek en ’n dieper, innige verhouding met God te beleef. Die skrywers kyk eerlik en vanuit ’n Bybelse oogpunt na agt hindernisse wat jou van God se teenwoordigheid kan weerhou. Elke versperring word deeglik bekyk, en bevat praktiese riglyne en ’n kort gebed wat bedoel is om jou aan te spoor op die pad na God se teenwoordigheid. R149,95.

Olivia se olifant

Deur Sylvia Bishop (LAPA)

Toe Olivia op die oggend van haar tiende verjaardag wakker word, verwag sy glad nie om ’n baie verwarde olifant op haar voorstoep te kry nie. Maar dit is presies wat sy daar ontdek – saam met ’n stukkie papier waarop daar staan dat sy nou die wettige eienaar van die olifant is. So begin ’n baie onwaarskynlike vriendskap. Maar kan ’n klein dogtertjie en ’n redelike groot olifant leer om saam te bly in ’n piepklein huisie? Olivia se olifant is ’n bekoorlike storie oor ’n ongewone vriendskap tussen ’n dogtertjie en haar olifant. R120.

Swemmie

Deur Leo Lionni (Jacana)

Iewers in die hoekie van die see, het ’n vrolike skool klein vissies gewoon. Hulle was almal rooi. Net een van hulle was so swart soos ’n mossel se skulp. Hy het vinniger geswem as al sy boeties en sussies, Sy naam was Swemmie. Leo Lionni het al meer as veertig kinderboeke geskryf en geïllustreer in sy leeftyd. R110.

Bielie Bybelpretboek 4

Deur Marius Greeff (Lux Verbi)

Die boek is perfek vir liefhebbers van blokraaisels en ander woordspeletjies. Dit is ’n prettige manier om meer van die Bybel te leer en ook om jou kennis van die Bybel te toets. Die boek is nie net vir individue bedoel nie – dit kan selfs in kleingroepe of Sondagskoolklasse gebruik word. Dit sal ure se genot verskaf met meer as 160 aktiwiteite met onder meer: woordsoeke, koderaaisels, blokraaisels en sudoku’s. R120.

Palette: 33 selfdoenpaletitems

Deur Jason Kobrowisky (LAPA)

Hierdie boek bied 33 selfdoenpaletprojekte waartydens die nederige palet omskep word in goedkoop, praktiese en ekovriendelike meubels, dekor, speelgoed, tuinprodukte en geskenkitems. Die boek is propvol kleurfoto’s met maklike stap-vir-stap-foto’s. Die moeilikheidsgraad van die produkte wissel, so die boek is ideaal vir beginners én selfdoen-entoesiaste met meer gevorderde vaardighede. Die skrywer is ’n gesoute meubelontwerper en skrynwerker met sy eie meubelfabriek in Johannesburg. Hout, en veral die herwinning van hout, lê hom na aan die hart. R200.

2017-12-01T10:52:05+00:00