Geloof het ‘n adres

Oorvloed in alles

Deur Schalk Schoombie | Foto’s Hanneri de Wet

Jy kán vrees oorwin en geleenthede aangryp. Dis twee van die lesse wat skrywer en spreker Angelique du Toit in haar inspirerende boeke uitdra.

Die groot trek Kaap toe wat vir haar gesin voorlê, stem Angelique du Toit opgewonde. Sy is gedurig gemoeid met reis, haar eie en ander s’n, vir sake en vakansie, en belangriker, lewensreise. As skrywer is dit een van haar temas, die besef dat jy doelgerig kan wees op jou lewenspad. “Sakebelange het ons die afgelope twee dekades in Johannesburg gehou, maar ons harte was nog altyd in die lieflike Kaap, my geboorteplek,” vertel sy. “Reis het ‘n groot rol in my lewe gespeel, maar ons het twee jaar gelede besluit om te begin dink aan Kaap toe trek en om op te hou om uit reistasse te leef.”

As kind moes die gesin heeltyd agter haar pa, ‘n verkoopsman, aantrek. “Met my pa wat ons aanhoudend laat rondtrek het, was ek van graad 1 tot standerd 6 (graad 8) in 13 skole. Ons het vir die grootste deel van my jeug van dorp tot dorp en van stad na stad getrek. Ek kon regtig geen plek my tuiste noem nie,” onthou sy. Angelique du Toit (néé Lourens), die jongste van drie kinders, is gebore in Mowbray, Kaapstad. Haar broer, die oudste, het die huis op ‘n jong ouderdom verlaat en woon deesdae in Australië. Sy is egter baie na aan haar suster, Chantal, die middelkind. Dikwels kon haar pa nie sy werk as verkoopsman behou nie. Hy was ook ‘n jazz-tromspeler, maar dit kon nie die rekeninge betaal nie. Haar ma was ‘n persoonlike assistent en die broodwinner wat meestal al die verantwoordelikhede op haar skouers geneem het. “Ek het vroeg geweet ek geniet woorde, blokkiesraaisels, skryf, lees en rymelary. My pa het aangedring dat ek tiklesse neem. Aanvanklik het ek dit gehaat, maar vandag help dit my baie met al die skryfwerk wat ek doen.”

Liewe dagboek

Op laerskool het Angelique uitgeblink met geskrewe werk. Op 21 het sy ‘n lewensveranderende ervaring met God gehad. “Ek het ‘n joernaal begin hou waarin ek elke dag jare lank geskryf het. Hierdie gewoonte was die bron en grondslag van my eerste boek, Standing Tall in a Falling World.” Van ‘n skool in Port Elizabeth waarin sy en haar suster was, vertel sy: “My suster het huistoe gekom en stories van swael en hellevuur vertel wat sy by haar godsdiensonderwyser gehoor het. Dit het my baie bang gemaak… “Toe ek agt was, het ons die Good News for Modern Man-Bybels ontvang en ek het dit begin lees. Ek het my gebedjies op stukkies papier geskryf en dit op die muur langs my bed geplak. Een dag het ek God se Teenwoordigheid baie naby in daardie klein kamertjie aangevoel.” Dit was die begin van God se roeping in haar lewe.

Angelique moes vinnig grootword en leer om op ‘n vroeë ouderdom die moeilike lewensdinge te hanteer. “Ek het op 14 al gewerk. Daarom het ek nooit die studentelewe ervaar nie. Ek het die lewe van ‘n grootmens geleef terwyl anders kinders van my ouderdom nog op skool was… “Ek was gereeld bang en onseker as gevolg van sekere van my ervarings, maar ek het geleer om ‘n dapper gesig voor te hou en dit goed weg te steek. Weens wat ek gesien en ervaar het in verhoudings, tuis sowel as en in ander se lewe, was ek wantrouig en altyd op my hoede. “Een van my kêrels toe ek baie jonk was, het dié negatiewe siening oor verhoudings versterk. Ek het verhoudings meestal as vernietigend en afbrekend beskou.” Vandag is Angelique 23 jaar getroud met haar man Ernest, met vier volwasse kinders en drie kleinkinders wat in die Verenigde Koninkryk woon.

“Die stryd was glad nie met God nie, maar met myself; om Christus se leiding te volg om te vergewe en vry te skeld; om in oorvloedige lewe wat Hy bring te lewe.”

Vry van vrees

Ná haar ontmoeting met Jesus was sy oortuig van Sy liefde en aanvaarding. Die groot uitdaging was wat sy moes doen met die mense wat haar leed aangedoen en verneder het. “Die stryd was glad nie met God nie, maar met myself; om Christus se leiding te volg om te vergewe en vry te skeld; om in oorvloedige lewe wat Hy bring te lewe.” Die grootste deurbraak was om van vrees bevry te word; om 2 Timoteus 1:7 te eien: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (1953-vertaling) Een van haar grootste vrese, aangewakker deur ervarings in haar verlede, was dat sy besig was om haar sinne ter verloor. “Vryheid van vrees is inderdaad lewe! Dankie aan God die Vader en ons Here Jesus Christus, wat die weg gebaan het vir vryheid. Maar let wel, ons wen of verloor op grond van ons keuses! Dis die sentrale boodskap waaroor ek skryf in Standing Tall in A Falling World.” Sy het dié debuutboek in 2010 self gepubliseer, en dit is nou ook in Afrikaans beskikbaar as Staan sterk in ‘n wankelende wêreld. “Ek was verstom hoeveel eksemplare verkoop is. Die inhoud het gespruit uit twee dekades se joernaal hou oor my lewenservarings. Dit bevat die sleutellesse en beginsels wat ek geleer het wat op die Bybel geskoei is, Die letterlike Woord van God het my lewe omgekeer. “Ek is onboetvaardig oortuig dat ‘n opregte leser wat dié beginsels op haar lewe toepas dramatiese verandering sal ondervind. Dit is my oortuiging dat mense verander vir een van twee redes: inspirasie of wanhoop. “Ek het hierdie boek begin skryf uit wanhoop, maar ek het gou geïnspireer geraak deur wat God in my lewe gedoen het; in so ‘n mate dat my woorde op papier verskeie kere vir my ‘n lewenslyn was.”

Haar nuwe boek, Waarvoor wag jy dan?, bekryf sy as ‘n uiters toepasbare, hoogs inspirerende uitnodiging om op te hou uitstel en begin om iets te doen. “Ek deel my lewensverhaal hierin en wys duidelik hoe geleenthede nie iets is wat een dag kom nie, dis reeds hier. Maar ons moet gewillig en beskikbaar wees. Ons moet onsself ten volle oorgee daaraan. Ons moet deel daarvan wees om dit te beïnvloed; maak nie saak die omgewing waarin jy sukses wil behaal of watter situasie jy wil vorm nie. “Ons ervarings het ons lank genoeg gevorm. Dit is nou tyd vir ons om ons ervarings te vorm. Ek deel 50 van my beste lewensveranderende punte in die boek. Indien jy dit toepas sal dit jou lewe in ‘n nuwe rigting kan stuur.” Angelique werk reeds aan haar volgende boek, getiteld Turn it Around – Shifting perspective in a changing world.  Dit word in April 2018 bekendgestel. Vanweë haar besige rooster skryf sy dikwels terwyl sy op pad is iewers heen. “Dis nie so ’n slegte manier van skryf nie, want só kom mens lewensegte kwessies teë wat wonderlike en leersame inhoud is.” Een van rustigste skryfplekke is by hul huis in Somerset Wes, met ‘n asemrowende uitsig oor berge en die oseaan. “God se skepping inspireer my. Wanneer ek rustig en vreedsaam is, kan ek meer luister as praat.”

2017-12-07T07:32:31+00:00