’n Paar dae gelede sit en wonder ek benoud waaroor ek hierdie jaar ’n bydrae vir die Advent-seisoen kan lewer. Iets wat ek in die afgelope jare nog nie geskrywe het nie. Skielik kom dié woorde duidelik by my op: “Kom herwaarts getroues”. So prominent dié ou beryming is dit dat ek dit sommer dadelik neerskrywe. Wát om daaroor te sê ontgaan my voorlopig nog. Ek laat dit daar om eers by die ander honderd en tien dinge wat mens dié tyd van die jaar aanvat, te kom. Tog bly die woorde by tye in my kop maal.

En toe gisteraand, op Facebook van alle plekke, is daar Pavarotti se betowerende weergawe van Adeste Fideles in Montreal se Notre Dame. Soos net hy dit kon sing. So ver terug soos die sewentiger jare. Ek sit daarmee op my skoot en voel ’n bewing deur my loop en later warm trane oor my gesig brand. Nog ’n keer speel ek dit en sing sag met hom saam. My hande gaan sommer vanself in aanbidding omhoog daar alleen in my woonkamer.

Skielik is ek weer saam met Oupa en Ouma Karoo in die groot ou kerk op Touwsrivier. Hoor ek die pyporrel met daardie dawerende note lostrek en deur die hoë gewelf dreun. Voel ek daardie selfde trilling deur my trek. Sien ek Oupa Dries die kerkbank voor hom met sy sterk ou boerehande vasvat, hoor ek sy pragtige tenoorstem wegval met “Kom herwaarts getroues, vrolik seëvierend. O kom nou, o kom nou na Betlehem. Kyk daar die Kindjie tot ons heil gebore. Kom buig daar in aanbidding, kom buig daar in aanbidding, kom buig daar in aanbidding voor Christus die Heer.”

Ek ruik weer die skerp geur van die siprestak se naalde wat hy vir my my en Estelle in ’n blik met sand geplant het sodat ons ’n Karoorkersboom kon maak. Boompie waarvan ons die knalharde knoppe met die ooms se sigaretdosie-papier toegedraai het vir blinkers en Ouma vir ons rooi stringe gehekel het om tussenin op te hang.

Met ’n hartseer glimlag onthou ek hoe Estelle een jaar daar ’n babapop present gekry het. Een sonder hare, terwyl myne ’n staanpop mét hare was. Sy was immers self beswaarlik meer as ’n baba. Maar die ongelukkigheid was groot. Toe produseer Pappa – die towenaar van altyd – klapperhaar van ergens en sit vir die pop hare op. Die gom waarmee hy dit vasgeplak het, het so gestink dat ons bang was sy stik daarvan. Maar nee, sy het die pop ure lank op haar skoot vasgehou, die klapperhaarkoppie teen haar gesig.

En nou is sy weg. En Pappa en Mamma en Oupa en Ouma en al die ooms. Die plaas het ’n ander naam gekry en ’n gastehuis…

Hier sit ek nou alleen. En wonder oor die “getroues” wat hierdie jaar met Kerse “herwaarts” sal kom. Ek dink aan baie van die getroues, kerkgangers, wat bly stilstaan by die romantiese kindjie-in-die-krip. Wat nie verder gaan as die rooi kerse en servette en die goue balle aan die bome nie. Van mỳ mense, wat ek met hart en siel liefhet.

Weet hulle, vra ek vir die Een-wat-altyd-daar-is, weet hulle van al die tekens dat U binnekort terugkom? Weet hulle U gaan nie weer in ’n krip lê nie? Weet hulle U kom vanuit Jerusalem die ganse aarde te regeer?

Dit word so stil in die vertrek dat ek my Chaya-kat op die bank langs my hoor asemhaal. Toe druk ek weer op die iPad-skerm en Pavarotti se stem vul my hele verlange. Ek weet weer van vooraf dat Hy áltyd daar is.

2017-12-01T10:49:20+00:00