Lééf met oorgawe

Kom sit aan!

Deur Christine Ferreira | Foto’s Hanneri de Wet

Vriendinne, Lorraine Swanepoel van Cocovanilla Foods en Nadia Roos van Vintage Rose het by Vintage On Main-gastehuis in Waterkloof, Pretoria vir ons ’n Kerstafel gedek om die vreugde van ’n somer-Kersfees te vier.

Lorraine, wat beteken Kersfees vir jou?

“Kersfees beteken vir my om volkome tot rus te kom en tyd met my Skepper deur te bring. Dis ook ’n tyd om na te dink oor die jaar wat verby is en om terug te kyk na hoe die Here my deur die jaar gedra het en mildelik geseën het. Dit is ook ’n tyd wat ek saam met my familie kan spandeer en my nie oor werk hoef te bekommer nie. My familie is vir my baie belangrik. Ons gee graag vir mekaar geskenke, maar soos ek ouer word, vind ek dat die samesyn en die viering van Christus se geboorte die belangrikste deel van Kersfees is. Sonder Hom is ons niks!

“Ek en ’n groep vriende kom elke jaar in November bymekaar om ’n Kersete te hou. Meeste van ons besit ons eie besighede en gebruik ons hierdie tyd om te reflekteer hoe wyd God se seën oor ons almal gestrek het.

“Kersfees beteken ook vir my ’n tyd van gee. Ek en my ouers ondersteun graag die Santa Shoe Box-projek en kies ons ’n familie vir wie ons kan help met items wat hul nodig het, iets eenvoudig soos lekkers en toiletware wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Hierdie gebaar laat my altyd met groter waardering die nuwe jaar tegemoet loop. ’n Mens dink dikwels jy kan nie ’n verskil maak nie, maar dit is nie waar nie. Jy moet jouself oopstel om ander te help.

Ek het ’n tyd gelede ’n dankie sê-bottel begin volmaak met papiertjies, waarop ek alles waarvoor ek dankbaar is neerskryf. Ek gaan dié notas tussen Kersfees en Nuwejaar lees om so al die wonderlike dinge wat met my deur die loop te van die jaar gebeur het, weer te onthou.”

Hoe vier julle as familie Kersfees?

“Die manier waarop ons Kersfees vier het met die jare verander. Toe ek jonger was, het die hele familie met al die niggies en nefies bymekaargekom om Kersfees by my ouma se huis te vier. Maar soos Ouma (en ons) ouer geword het, het dié tradisie verander. Deesdae vier ons ’n meer intieme Kersfees met minder mense. Vandat ek kan onthou het ons altyd Kersoggend kerk toe gegaan. Daarna het die familie oorgekom en het my ma ’n koue Kersete bedien. Die tafels het behoorlik onder die kos gekreun. Van soutvleis, taai hoendervlerkies, lamsboud, frikkadelle, ’n groot verskeidenheid slaaie en natuurlik ’n hele paar nageregte. Ek het my liefde vir kook by my ma en oupa geërf. Lekker kos is die middelpunt van elke groot geleentheid en ons liefdestaal aan ander. My ma begin reeds twee dae voor Kersfees met die voorbereidings.

“Ek is deesdae ’n lid van die Doxa Deo-gemeente in Kameeldrift en mis dié Kersdiens vir niks nie. Dit is vir my baie spesiaal om op Kersdag Nagmaal tydens die diens te gebruik.”

Hoe lyk jou spyskaart dié Kersfees?

“Hierdie jaar gaan ons ’n braai-Kersfees hou. Ons is baie lief vir die buitelewe en kamp gereeld. Ons probeer graag nuwe resepte en idees. My pa het onlangs ’n soektog na die beste braaibrood begin, en is ek oortuig daarvan dat daar ’n interessante brood op die spyskaart gaan wees. En verseker ’n sagte fillet. Ek hou van ’n romerige koffie- en swartpepersous om saam met die vleis te bedien. Verder is daar groentepakkies in filodeeg, ’n groente-ring met balsamiese pêrels en ’n mozzarella, tamatie en basielkruidslaai in die kleure van Kersfees. Ek maak ook graag my ouma se maklike gemmierbier – dit is sinoniem met Kersfees!

“Ons is nie so lief vir vrugtekoek nie en maak gewoonlik eerder ’n juweelpoeding en tradisionele koekstruif. Ek self is lief vir bak en sorg altyd daar ’n spesiale koek op die tafel is, asook ’n pavlova met vars vrugte en makrolletjies. Daar gaan lank onder die koeltebome gekuier word!”

“Vir my moes die Kerstafel ’n somerse en ou-wêreldse atmosfeer weerspieël.”

Wenke vir ’n somer-Kersfeesspyskaart?

“Hou dit maklik, maar lekker! Kos in eenvoud. Verdeel die spyskaart tussen die gaste sodat elkeen iets bring. Dis onnodig dat al die werk op een persoon se skouers rus. Ek verkies om my spyskaart om dit wat in seisoen is te beplan. Waatlemoen is byvoorbeeld op sy lekkerste in Desember. Bedien dit as slaai saam met blokkies feta, basielkruid en ’n lekker balsamiese stroop. Ek self bedien graag waatlemoen met ’n ment-en-suikerstropie en hope vanieljeroomys.

“Die belangrikste is om kos te maak waarvoor jy lief is, wat maklik en vinnig is om te maak, sodat jy nie ure agter die stoof hoef deur te bring nie. Geniet eerder die samesyn as om jou af te sloof en die wonder van Kersfees mis te loop.”

Vertel vir ons meer van Cocovanilla Foods…

“Cocovanilla Foods, my spysenieringsonderneming, lê my só na aan die hart. Ek is ryklik geseën, ver bo my verwagtinge en drome vir die besigheid. Ons groei elke jaar en as ek terugkyk op die pad waarlangs ons gekom het, staan ek in absolute verwondering oor my God. Daar ís dae wat God drome in my hart plaas en ek bang raak en nie weet hoe ek hierdie dinge gaan laat gebeur nie. Maar ek sou geen struikelblokke kon oorkom sonder my geloof in Christus nie. Ek moet myself gereeld herinner dat God in beheer is en dat ek ook net soveel kan vermag. Cocovanilla is vanjaar sewe jaar oud, ’n groot mylpaal vir my.”

“Omdat die tafel reeds vol was, het ek daarom besluit om die kranse in die ruimte bo die tafel te hang. So skep jy ’n feestelike Kersgevoel.”

Nadia, wat doen jy vir ’n lewe? Vertel ons meer oor jouself…

“Ek het nog altyd ’n kombinasie van dinge gedoen. Ek het ’n BCom Rekeningkunde-graad, asook ’n honneursgraad in belastingstudies voltooi, maar nooit voltyds in dié veld gewerk nie. Ek was die afgelope drie jaar betrokke by ’n projek vir ’n ingenieursfirma en bestuur ook my eie kleinsake-ondernemings, Vintage Rose Weddings & Events en ons gastehuis, Vintage on Main.

“Hierdie jaar was besonder spesiaal. Ek het op 31 Augustus ’n mamma geword en ek en my man het onlangs ons negende huweliksherdenking gevier. My gesin is my alles en ek geniet elke oomblik saam met hulle.”

Vertel meer van jou onderneming Vintage Rose en ook die gastehuis?

“Vintage Rose is ’n dekor- en stileringmaatskappy wat ontstaan het nadat ek my eie troue se dekor self behartig het. Van daar af het my passie net gegroei en het ek begin om ander bruidspare se dekor te ontwerp en uit te voer. Ek het so baie geleer uit hierdie besigheid, nie net van mense en besigheid nie, maar ook van myself. Dit is iets besonders om deel te wees van die beplanning van ’n bruid se groot dag.

“Ek en my ma het die geleentheid gekry om ons eie intieme venue in die hartjie van Pretoria vroeër vanjaar te open. Onder die groot ou bome word daar nou meeste naweke funksies gehou – van ooievaars- en kombuistee’s tot intieme troues en konferensies. Ons het ’n ou huis opgeknap, die tuin reggeruk en nou gebruik ons dit as ’n privaat-onthaalplek. Al die kamers het ’n vintage-gevoel.”

“Lekker kos is die middelpunt van elke groot geleenheid en ons liefdestaal aan ander. My ma begin reeds twee dae voor Kersfees met die voorbereidings.”

Wat was die inspirasie vir die Kerstafel wat jy gedek het?

“Vir my moes die Kerstafel ’n somerse en ou-wêreldse atmosfeer weerspieël. Die tafel het ’n vintage gevoel met skakerings van ligblou, room en roosgoud. Ek het my ook deur Lorraine se spyskaart laat lei. Ek wou ’n tafel dek wat die geregte, wat meestal in sirkels bedien word, te komplementeer. Ek het op vars blomkranse as fokuspunt besluit. Omdat die tafel reeds vol was, het ek besluit om die kranse in die ruimte bo die tafel te hang. So skep jy ’n feestelike Kersgevoel. Kersklappers, lapservette in sagte kleure en lintdetail met ’n spesiale boodskap rond verder die prentjie mooi af.”

Watter rol speel geloof in jou lewe?

“Ek deel graag my getuienis. Ek is in 2007 met slapeloosheid gedianoseer. Dit het met die jare vererger. Ek was oorweldig deur die siekte. Dit het ook tot ander probleme, soos onder meer depressie, gelei. Ek was by talle dokters, sielkundiges en slaapklinieke. Geen medikasie het gehelp nie. Tot ek en my man besluit het om ’n oplossing by die kerk te gaan soek. Die eerste aand wat ons ’n selgroep bygewoon het, het ons na die fliek War Room gekyk. Ek het dieselfde aand presies gedoen wat die vrou in die rolprent gedoen het. Ek het my huis opgedra aan God, beheer geneem van my lewe en begin veg. Ek is daardie aand op ’n bonatuurlike wyse bevry en genees. Van daar af het my geloof eintlik eers ’n werklikheid geword. Ek vertrou op die Here, Hy is my Koning. Alles wat ek het en bereik is van Hom af.”

“Geniet eerder die samesyn as om jou af te sloof en die wonder van Kersfees mis te loop.”

Hoe vier julle as gesin Kersfees?

“Ons beskou Kersfees as ’n spesiale familiegeleentheid om tyd saam deur te bring. Ek en my man is gaande oor pasta en het ons ons eie tradisie begin deur altyd een van Jamie Oliver se pastageregte te maak.”

Vertel vir ons van jou mooiste Kersherinneringe…

“Ons het as kinders elke jaar in Vishoek gaan kamp. Oukersaand was oorlaai met opwinding en het ons nie juis geslaap nie. Ons het melk en koekies vir Kersvader gelos en geweet dat wanneer ons wakker word ons geskenke daar sou wees om oop te maak.”

2017-12-04T11:26:58+00:00