Was daar maar ’n handboek vir ma’s! Lizette Murray, Kaapse ma van vyf seuns, gesels oor dinge wat ma-wees jou so padlangs leer.

Kinders het die vermoë om spontaan, sonder diep nadenke – en dikwels sonder om dit te besef – groot lewenswaarhede raak te boor. Soms met ’n enkele opmerking.

Party kinders het die manier om met een oogopslag ’n situasie op te som en spitsvondig daarop te reageer. In baie gesinne word ’n sêding van ’n kleuter ’n familie-uitdrukking. ’n Kleuter se liefienaam vir ’n gunsteling-familielid word later allemansbesit. Tannie Annemi word bloot Ammi en oom Johannes word Oujas.

Kinders vat kortpad. Hulle hoor en sien en ervaar en dan filter hulle die inligting en breek dit af om by hul gepaste woordeskat en ervaringsveld te pas – én om die wêreld rondom hulle vir hulself verstaanbaar te maak.

Een reël uit my kinders se laerskool-skoollied het gelui: Ons skool, met sy suiwer ideaal… Toe ek in ’n stadium by die skool aflos, staan ek tydens ’n saalbyeenkoms by my klas en hoor hoe hulle met oorgawe sing: Ons skool, met sy silwer liniaal. Agterna het ek besef dat dit heel waarskynlik ’n groter aansporing was om in ’n skool met ’n silwer liniaal skool te gaan as om te probeer verstaan wat “suiwer ideaal” beteken.

Onlangs hou ’n jong gesin huisgodsdiens. Boeta, wie se gedagtes reeds by die volgende loshand-toertjies met sy fiets, of sy nuwe trampolien-spronge is, verloor gou belangstelling. Sy pa, ook ’n kleintyd-kriewelkous, ken die tekens. Hy lees die verhaal van Jerigo se val. Toe hy by die gedeelte kom waar Ragab die rooi tou vir die spioene teen die stadsmuur laat afsak, kyk hy Boeta vas in sy oë en vertel stadig en afgemete presiés hoe die spioene weggekom het.

Vraetyd is Pa se vraag aan hom: “Kan jy vir Pappa sê: Hoe het die spioene weggekom?”

“Baie vinnig!” kom die antwoord sonder aarsel.

En, as ’n mens mooi nadink, is dit dalk die kern van hierdie verhaal. Wat die besonderhede rondom hulle ontsnapping ook al was, die feit bly staan: Die spioene het baie vinnig weggekom.

Soms verdoesel ons die waarheid met ’n klomp woorde. Ons borduur en maak afleidings, sodat die kern later nie meer herkenbaar is nie. En in die proses raak dié dinge wat werklik saak maak, verlore.

Dalk is dit nodig dat ons weer soos kinders met ons vinger op die pols sal lewe.

Sodat die waarheid oop en skoon soos ’n silwer liniaal voor ons sal lê en ons dadelik sal snap waaroor iets werklik gaan.

Sommer baie vinnig!

Here Jesus

Help my om weer soos ’n kind te glo: Eenvoudig en onvoorwaardelik. Help my om in kinderlike vertroue my dae saam met U in te gaan. Wanneer U in U Woord sê dat die Koninkryk vir kindertjies bedoel is, wys U vir ons daarop om terug te keer na die blink waarheid van U Woord. En wanneer U vir ons sou vra wat is die kern van dit wat in U Woord geskryf staan, wil u hê dat ons sal antwoord: Die liefde is die belangrikste. Liefde vir God en liefde vir ons naaste – so klinkklaar en helder! Amen

2017-12-01T11:23:41+00:00